Friday 15 June 2012

Waarvan is ons verlos?


1 Pet 1:18 omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie,
19 maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos,
20 wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld, maar in hierdie laaste tye geopenbaar is om julle ontwil,
21 julle wat deur Hom glo in God wat Hom uit die dode opgewek en Hom heerlikheid gegee het, sodat julle geloof en hoop op God kan wees.

Die sleutelwoord van hierdie gedeelte is natuurlik die woord “losgekoop”.  God het ons terug gekoop van slawerny, en dit het Hom ‘n duur prys gekos.  Die duurste prys wat ooit betaal kon word.  Petrus sê ons is losgekoop deur die kosbare bloed van Christus. 

En ons het vorige keer gesien dat Petrus hier die Joodse pasga in gedagte gehad het.  Die lam sonder gebrek wat geslag is en die bloed aan die deurposte wat die eersgeborenes verlos het van die dood.  Jesus Christus is die volmaakte Lam wat ‘n losprys was vir ons om ons terug te koop van die slawerny van sonde.

Ons het dan laas week gesê daar is vier vrae wat ons moet antwoord as ons God se verlossing wil verstaan:  Eerstens was, waarvan is ons verlos, tweedens, waarmee is ons verlos?  Derdens, deur wie is ons verlos?  En vierdens, waarom is ons verlos?

Ons het dan laas week begin deur te vra, waarvan is ons verlos.  En ons het gesien dat ons verlos is van die slawerny van sonde.  En ons het meer spesifieks in Petrus gesien dat ons losgekoop is van begeerlikheid, in engels, imaginations.  Dit is waar sonde begin.  In die verbeelding.

Deel van die slawerny van sonde is die begeerlikheid van ‘n hart wat boos is.  En hoe jou gedagtes oorgegee kan wees aan begeerlikheid, aan verbeelding wat onder slawerny is.  En die mens kan homself nie hiervan red van die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë nie.  Dit domineer die gevalle sondaar se lewe.  Kyk gou weer na v14,

1 Pet 1:14 Soos gehoorsame kinders moet julle nie jul lewe inrig volgens die begeerlikhede wat tevore in julle onwetendheid bestaan het nie.

KJV
1 Pet 1:14 As obedient children, not fashioning yourselves according to the former lusts in your ignorance.

En hier is ‘n tweede woord wat slawerny uitbeeld van mense wat nie gered is nie.  Hulle is nie net gebind deur hulle begeerlikheid nie, maar hulle is ook gebind deur hul onwetendheid.  Dit is ook ‘n kenmerk van ‘n sondaar.  Hulle is “ignorant”.  Dit kan ook vertaal word met onkundig.  Sondaars is onkundig.  Hulle is slawe van onkunde.

Van watter onkunde praat ons hier?
Joh 17:25 Regverdige Vader, al het die wêreld U nie geken nie, tog het Ek U geken, en hulle hier het erken dat U My gestuur het.

Sondaars is slawe van onkunde, en dit beteken dat hulle God nie ken nie.  Hulle is onkundig oor God.  Dit is waarom Jesus in Joh 8 sê, julle ken My nie, julle verstaan nie wat Ek sê nie, want julle vader is die duiwel.

Joh 8:42 En Jesus sê vir hulle: As God julle Vader was, sou julle My liefhê, want Ek het uit God uitgegaan en gekom; want Ek het ook nie uit Myself gekom nie, maar Hy het My gestuur.
43 Waarom ken julle my spraak nie? Omdat julle na my woord nie kan luister nie.
44 Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen...

Julle glo My nie want julle is nie van God nie.  Hy wat van God is hoor die Woord van God.  Hy ken God se stem.  Maar die wat in onwetendheid wandel, die wat onkundig is, ken God nie, en luister nie na Hom nie.

Rom 1:28 En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ‘n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie:

Hulle neem God nie in ag nie, want hulle ken Hom nie.  Hulle ken nie Sy Woord nie.  Hulle erken nie eers Sy bestaan nie.

1 Kor 2:14 Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.

Hy kan dit nie verstaan nie, want hy kan nie die geestelike dimensie verstaan nie.  Hy is in onkunde.  Onkundig oor God.  Onkundig oor die Woord.  Onkundig oor geestelike waarhede.

Gal 4:8 Maar destyds, toe julle God nie geken het nie, het julle dié gedien wat van nature geen gode is nie.
9 maar nou dat julle God ken, of liewer deur God geken is, hoe keer julle weer terug tot die swakke en armoedige eerste beginsels wat julle weer van voor af aan wil dien?

Ef 4:17 Dit sê en betuig ek dan in die Here, dat julle nie meer moet wandel soos die ander heidene ook wandel in die verdwaasdheid van hulle gemoed nie—
18 mense wat verduisterd is in die verstand en vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle is vanweë die verharding van hulle hart;

Paulus sê in hoofstuk 2 julle was dood deur die misdade en die sondes.  Maw julle was geestelik dood en ‘n dooie mens kan nie reageer nie, want hy kan nie verstaan nie, hy kan nie die geestelike dinge begryp nie.

Dan kry ons die wonderlike getuienis van Timotheus wat sê,

1 Tim 1:13 my wat vroeër ‘n lasteraar en ‘n vervolger en ‘n geweldenaar was. Maar aan my is barmhartigheid bewys, omdat ek dit onwetend gedoen het in ongeloof.
Dit wat hy onwetend gedoen het in ongeloof.  Hy was ‘n slaaf van onkunde.  Dit is hoe sondaars is.  Hulle is onkundig oor God en word gedryf deur hul begeerlikheid.  Hulle verstand is verduister en die geestelike dimensie is totaal en al vir hulle afgeskakel.  Hulle kan nie die dinge van God onderskei nie.  Hulle ken God nie.  Hulle het totaal ontaard.

Rom 3:12 Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.

En die sondaar kan nie daarvan ontvlug nie.  Hy is ‘n slaaf.  Hy is geestelik dood en kan nie die waarheid begryp nie.  Hulle word gedryf deur begeerlikheid.

Dan is daar nog twee dinge wat Petrus noem, waarvan ons vrygemaak is.

1 Pet 1:18 omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie,

“julle ydele lewenswandel”.  Dit beteken jou hele lewe is nutteloos.  Alles is tevergeefs.  Jou lewe het geen waarde nie.  Is dit waar dat elke ongeredde persoon se lewe absoluut nutteloos is?  Verseker!  Hoekom?  Want daar is net een rede om te lewe en dit is om te lewe tot eer van God.  Sonder dit, beteken jou hele lewe niks.  Sonder Christus is jou lewe nutteloos.

Wat dan van al die dinge wat jy in hierdie lewe bereik het?  Wel die Bybel sê,

Matt 16:26 Want wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel?

Dit is alles sinneloos.

Rom 6:20 Want toe julle diensknegte was van die sonde, was julle vry van die geregtigheid.
21 Watter vrug dan het julle toe gehad van die dinge waaroor julle jul nou skaam? Want die uiteinde daarvan is die dood.

So wat goeds was daarin gewees?  Om ‘n lewe te hê as ‘n slaaf van sonde?  Dit is useless.  Daar is geen sin daarin nie.  En dit is hoe dit is met die hele gevalle wêreld.  Die hele wêreld is useless en beteken niks sonder God nie.

1 Kor 3:20 ...Die Here ken die gedagtes van die wyse mense, dat dit nietig is.

Die wysheid van mense het geen waarde wanneer dit kom by jou redding nie.  Dit is nietig en gaan jou niks help wanneer jy eendag voor God staan nie.  Dit het geen waarde nie.

Ef 4:17 Dit sê en betuig ek dan in die Here, dat julle nie meer moet wandel soos die ander heidene ook wandel in die verdwaasdheid van hulle gemoed nie—

Heidene wat wandel in die verdwaasdheid van hulle gemoed.  Die KJV sê, “in the vanity of their mind.”  En dit is die gedagte wanneer dit kom by onkundigheid.  Dit is die kenmerk van sondaars.  Dit is waarvan God ons losgekoop het.  From the vanity of our minds.  Van die verdwaasdheid van ons verstand.

So waaraan word sondaars gekenmerk?  Hulle word gekenmerk aan begeerlikheid en onkunde.  Ons teksgedeelte sê,

1 Pet 1:18 omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie,

Dan is daar nog ‘n derde kenmerk waarvan ons losgekoop is in hierdie gedeelte en dit is TRADISIE.  Mense is slawe van tradisie.  Tradisie is iets wat deur die vaders oorgelewer is.  En julle weet wat dit beteken wanneer mense in godsdiestige tradisies vasgevang is.

In ‘n sekere sin is daar ook ‘n tradisie van ateïsme.  Maar Petrus verwys seker hier na sy eie kultuur, die Joodse tradisie, maar dit is meer as net dit.  Die Jode van sy eie tyd het ‘n godsdiens van Judaïsme van hulle vaders ontvang wat aan hulle oorgelewer is.  Maar Judaïsme was afvallig.

Die fariseërs was korrup en baie het hulle gevolg.  Matt 16:9 sê dat die mense het leeringe geleer van mense.  Hoeveel keer het Jesus nie in die bergpredikasie gesê, julle het gehoor dit sê so, maar Ek sê vir julle...

So Jesus het teen die Joodse tradisies gepraat, want hulle was vasgevang in hierdie tradisie.  Matt 23:4 sê hulle bind pakke saam wat swaar en moeilik is om te dra en sit dit op die mense skouers, maar hulle self doen dit nie.

En solank as wat mense vasgevang is in tradisie en godsdiens sal hulle nie die evangelie van genade kan aanvaar nie.  Hulle is vasgevang in hierdie godsdienstige werke en hulle dink dat hulle daardeur gered gaan word, maar dit is juis dit waarvan hulle gered moet word.

Die sondaar mens word gedryf deur begeerlikheid, julle ydele sinnelose lewe, onkunde en tradisies.  En hierdie bindinge kan net God breek.  Net Hy kan mense daarvan bevry.  Net Hy kan die mens loskoop en verlos daarvan.  Die mens het totaal ontaard en kan homself nie red nie.

Ralph Venning skryf in 1669 ‘n boek met die naam van “The sinfulness of sin” en hy skryf die volgende:  “It is not any one faculty only that sin has defiled, but, like a strong poison, it soaks and eats through them all...”

So die mens in sy verlore toestand is in duisternis, daarom tas hy net rond in die donker en verstaan nie.  Hy wandel in all vorme van boosheid, weet nie waarheen hy oppad is nie, struikel en weet nie hoe om op te staan nie, weet nie hoe om sy gedagtes en woorde en aksies te beheer nie.  Soveel word dan ook blindelings verlei deur die valse godsdieste.

My liewe vriend.  Dit is waarvan God ons losgekoop het.  Dit is waarvan Hy ons verlos het.  Is jy nie dankbaar daarvoor nie?  En dit moet jou motiveer en inspireer om volkome te hoop op die genade wat jou deel sa wees by die wederkoms.  Dit moet jou motiveer en inspireer om heilig te leef en dit moet jou motiveer en inspireer om God te vrees.

Kom ons kyk dan ook na die tweede vraag: Waarmee is ons verlos?

Eerstens sê Petrus, ons is nie verlos deur verganklike dinge, silwer of goud nie.  Nou hoekom sal Petrus spesifieks na silwer en goud verwys?  Kom ek vat julle gou terug na Eks 30.  Petrus het definitief hierdie in gedagte gehad.  God gee aan Moses instruksies dan sê Hy in vers 12,

Eks 30:12 As jy die volle getal van die kinders van Israel opneem volgens hulle geteldes, moet hulle, elkeen vir sy lewe, losgeld aan die HERE gee as hulle getel word, sodat geen plaag onder hulle mag wees as hulle getel word nie.

Dit is baie interresant.  Daar gaan ‘n sensus opname wees en elkeen wat getel word moet geld gee anders kom daar ‘n plaag op hulle.

Eks 30:13 Dit moet hulle gee, elkeen wat na die geteldes oorgaan: ‘n halfsikkel volgens die sikkel van die heiligdom—die sikkel is twintig gera—’n halfsikkel as offergawe aan die HERE.

Daar was nie coins in daardie tyd nie.  Hulle het stukke goud of silwer gegee. 

Eks 30:14 Elkeen wat oorgaan na die geteldes, van twintig jaar oud en daarbo, moet die offergawe van die HERE gee.
15 Die ryke moet nie meer en die arme moet nie minder as ‘n halfsikkel bring nie, as hulle die offergawe van die HERE gee om vir julle siele versoening te doen.

Dit is baie interesant.  Hoekom moet hulle geld gee?  Om te verhoed dat ‘n plaag oor hulle kom.  En hoekom sou God ‘n plaag stuur omdat hulle sensus opneem?  Die rede waarom hulle ‘n sensus opname gevat het van Israel was juis omdat hulle God nie vertrou het nie.  God het nie gesê hulle moet mense tel nie, maar as hulle mense tel, moet hulle geld betaal anders kom daar ‘n plaag oor hulle.

Julle sal onthou toe Dawid in die moeilikheid gekom het om dat hy die mense getel het.  Hy het dit gedoen om te sien of hy sterk genoeg was teen sy vyande eerder as om God te vertou.  Dit is waarskynlik wat ook hier in Eks 30 gebeur het.  Hulle het die mense getel om te sien hoe sterk hulle weermag is.

Dit was vanweë hulle ongeloof dat hulle mense getel het.  En daarom die vloek van die plaag as daar nie losgeld betaal is nie. 

Petrus het sekerlik dit in gedagte gehad.  Julle is nie losgekoop deur verganklike silwer of goud nie.  Dit sal nie julle ewige siele kan red nie.

Psa 49:7 Niemand kan ooit ‘n broer loskoop nie; hy kan aan God sy losprys nie gee nie
8 (want die losprys van hulle lewe is te kosbaar en vir ewig ontoereikend),

Geen mens kan daardie prys betaal nie.  Al die goud en silwer is nie genoeg nie.  ‘n Halfsikkel kon jou loskoop van ‘n plaag by die sensus, maar dit sal nie jou siel kan verlos van die slawerny van sonde nie.

Jes 52:3 Want so sê die HERE: Vir niks is julle verkoop, julle sal ook sonder geld gelos word.

Julle sal sonder geld losgekoop word.  Dit is ‘n ongelooflike profesie.  Nie deur verganklike dinge nie.  Nie deur silwer of goud nie.  Waarmee is ons verlos?

1 Pet 1:19 maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos,

Wat beteken dit wanneer die Bybel praat van die bloed van Christus?  Dit beteken deur die dood van Christus.  Bloed spreek hier van die dood.  Onthou die bloed van ‘n lammetjie wat gevloei het en aan die deurposte gesmeer is.  Die lam het gesterf.  Jesus het gesterf. 

Dit is ook nie net deur die bloed nie, maar deur die kosbare bloed van Christus.  Hoekom?  Want hierdie lam was sonder gebrek en vlekkeloos.  Dit was nie net enige lam nie.  Dit was ‘n volmaakte Lam, daarom was dit kosbare bloed.

Dit was ook nie net die bloed van enige lam nie, maar die bloed van die Lam van God.  Die prys waarmee God ons losgekoop het van al hierdie dinge wat ons reeds genoem het, was die kosbare bloed van Christus.  Die dood van Sy Seun. 

Die bloed spreek van dood.  Dit was nie die fisiese bloed wat magiese krag het nie.  Dit praat eenvoudig van die dood van Jesus Christus.

Waarvan is ons verlos? Van sonde.  Waarmee is ons verlos? Deur die kosbare bloed van Christus.

Die derde vraag is: Deur wie is ons verlos?  Wie het hierdie kosbare bloed gegee?  Christus.  Hy het Sy bloed gestort vir ons.  Hy het gesterf aan die kruis.  Want Hy is die volmaakte Lam.  Sonder gebrek en vlekkeloos.

Volgende week sal ons dan kyk: waaroom is ons verlos?



No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288