Monday 30 July 2012

Waarom het God ons verlos?


1 Pet 1:18 omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie,
19 maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos,
20 wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld, maar in hierdie laaste tye geopenbaar is om julle ontwil,
21 julle wat deur Hom glo in God wat Hom uit die dode opgewek en Hom heerlikheid gegee het, sodat julle geloof en hoop op God kan wees.

Ek glo julle as nou al redelik goed vertroud met hierdie gedeelte.  En ons gesels die afgelope tyd oor hierdie wonderbare groot verlossing wat God vir ons gegee het en watter reaksie dit by ons uitlok.

Ons het ook hierdie vier vrae gevra: Eerstens: Waarvan is ons verlos of dan losgekoop?  Die antwoord is, sonde.  Maar ons het so bietjie dieper gaan kyk na dit wat Petrus sê.  God het ons losgekoop van begeerlikheid, imaginations.  Hy het ons ook losgekoop van onkunde, ignorance.  Onkundig oor God en onkundig oor die waarheid.  God verlos ons van hierdie  staat van onkunde.

Verder het Hy ons losgekoop van die ydele lewenswandel, ‘n sinnelose lewe en wat geen waarde het nie.  En laaste maar nie die minste nie, tradisie.  0ns is verlos van ‘n lewenswandel wat deur ons vaders oorgelewer was.  Tradisie.  En ongelukkig kies mense tradisie bo goddelike waarheid.  Die Here het ons losgekoop van tradisie.

Hierdie is dan alles kenmerke van ‘n sondaar.

Ef 2:1 En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes
2 waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk,
3 onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander.

Die tweede vraag was: Waarmee is ons verlos?  Die antwoord is: Deur die kosbare bloed.  Nie deur silwer of goud nie, maar die kosbare bloed.  En dit spreek eenvoudig van dood.  Die prys waarmee ons losgekoop is, was die dood.

Die derde vraag was: Deur wie is ons verlos?  En die antwoord: Deur Jesus Christus, die Lam van God.  Ons is gered deur die kosbare bloed van Jesus Christus, die vlekkelose Lam, die Lam van God wat geslag is..

Heb 9:11 Maar Christus, wat opgetree het as Hoëpriester van die toekomstige weldade, het deur die groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie aan hierdie skepping behoort nie,
12 ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en ‘n ewige verlossing teweeggebring.
13 Want as die bloed van stiere en bokke en die as van ‘n vers wat die verontreinigdes besprinkel, heilig maak tot reiniging van die vlees,
14 hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete reinig van dooie werke om die lewende God te dien.

Wanneer die Bybel dan praat van die bloed van Christus gaan dit spesifiek oor die versoeningswerk van Christus.  Nou kom ons gaan terug na 1 Petrus dan sien ons wat Petrus sê.

1 Pet 1:20 wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld, maar in hierdie laaste tye geopenbaar is om julle ontwil,

Maw Christus was vooruit geken voor die grondlegging van die wêreld.  En dit beteken dat alles was vooruit beplan.  Christus en Sy versoeningswerk was voor die skepping beplan.  God het nie na die sondeval eers besluit Hy sal iets moet doen nie.  Die saligheidsplan van God is ‘n ewige saligheids plan.

Luk 23:35 En die volk het dit staan en aanskou. En die owerstes het saam met hulle ook geskimp en gesê: Ander het Hy verlos; laat Hy Homself verlos as Hy die Christus, die uitverkorene van God, is.

Hulle sê, as Hy die uitverkorene van God is, laat Hy Homself verlos.  So hulle het geweet daar is ‘n uitverkorene van God.  Hulle het geweet dat God ‘n vooropgestelde plan het.  Maar wat hulle nie geweet het nie was dat die uitverkorene ‘n offer sou wees vir sonde.

Jes 42:1 Daar is my Kneg wat Ek ondersteun, my Uitverkorene...

Dit is in Hand 2:23 waar Petrus gesê het,

Hand 2:23 Hom, wat deur die bepaalde raad en voorkennis van God oorgelewer is, het julle deur die hande van goddelose manne geneem en gekruisig en omgebring;

Wat sê Petrus?  Hy sê die mense het Christus doodgemaak, maar hulle het dit gedoen volgens die bepaalde raad en voorkennis van God.  Hulle het God se ewige verlossings plan uitgevoer, sonder dat hulle dit besef het.

Die sondeval van die mens was nie vir God ‘n verassing nie.  Dit het God nie onkant gevang to Adam en Eva gesondig het nie.  God het geweet dat dit gaan gebeur en God het geweet die mens gaan ‘n Verlosser nodig hê, en daarom het Hy voor die grondlegging van die wêreld, voordat tyd begin het reeds ‘n verlossings plan in plek gehad.

1 Pet 1:20 wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld, maar in hierdie laaste tye geopenbaar is om julle ontwil,

Hy is in hierdie laaste tye geopenbaar om julle ontwil.  En dit spreek van Jesus se vleeswording.  Jesus wat van ewigheid af is, het mens geword.  Hy is in hierdie laaste tye geopenbaar.  Dit verwys na Filipense 2,

Fil 2:6 Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie,
7 maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword;
8 en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.

God het mens geword.  Jesus het vlees geword.  Joh 1:14 sê, die Woord het vlees geword.

Gal 4:4 Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet,

Maar ons gedeelte sê dat Hy is in die laaste dae geopenbaar.  Wat beteken die laaste dae?  Die Nuwe Testamentiese konteks van die laaste dae, is die tydperk vanaf Jesus se geboorte tot by die wederkoms.  Die laaste dae is die tye van die Messias.  Net om vir julle ‘n voorbeeld te gee, sien ons die volgende in Hand 2,

Hand 2:17 En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom.
18 En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in dié dae van my Gees uitstort, en hulle sal profeteer.
19 En Ek sal wonders gee bo in die hemel en tekens onder op die aarde, bloed en vuur en rookdamp.
20 Die son sal verander in duisternis en die maan in bloed voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom.
21 En elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.

So wanneer het die laaste dae begin?  Reeds in daardie tyd en dit strek tot die einde, want v20 sê die son sal verander in duisternis en die maan in bloed en dit het nog nie gebeur nie.  So die laaste dae is van Jesus se tyd op aarde tot by die wederkoms.

Heb 9:26 want dan moes Hy dikwels gely het van die grondlegging van die wêreld af. Maar nou het Hy een maal in die voleinding van die eeue verskyn om die sonde deur sy offer weg te doen.
                                                                                                
Hy het een maal in die voleinding van die eeue, in die laaste tyd verskyn.  Die NLT sê, “at the end of the age.”  So maw ons leef reeds in die laaste dae wat begin toe Christus die eerste keer gekom het.

Dan gaan Petrus een tree verder en sê,

1 Pet 1:21 julle wat deur Hom glo in God wat Hom uit die dode opgewek en Hom heerlikheid gegee het, sodat julle geloof en hoop op God kan wees.

Hy praat dan van die opstanding.  Die derde belangrike waarheid oor Christus.  Eerstens het Christus verskyn, Hy het mens geword, tweedens het Hy gesterf en derdens is Hy uit die dode opgewek. 

Dit word dan ook oor en oor herhaal in die Nuwe Testament dat die opstanding van Christus deur die Vader was die Vader se goedkeuring van die Seun se werk.  God het Hom opgewek.

Hand 2:24 Hom het God opgewek... v32 Hierdie Jesus het God opgewek...

God het Hom opgewek en daardeur gee erken Hy Jesus se werk.  Dit is die Vader se goedkeuring.  God het Jesus opgewek om Sy volmaaktheid en Sy volkome werk, Sy volkome offer goed te keur.  Om Rom 1:4 som dit op,

Rom 1:4 en na die Gees van heiligheid met krag verklaar is as die Seun van God deur die opstanding uit die dode, Jesus Christus, onse Here,

Christus is as die Seun van God verklaar deur die opstanding.  Die opstanding is God se stempel op die volmaakte verlossings plan. 

En vierdens sê Petrus dat Jesus is nie net opgewek nie, maar God het Hom heerlikheid gegee en dit verwys na Sy hemelvaart.  Dit is die kronologie van die Lam.  Hy is die Uitverkorene wat God gekies het, Hy het mens geword, Hy het gesterf en opgestaan, en Hy het opgevaar en is verheerlik.  God het Hom weer die heerlikheid gegee wat Hy gehad het.

Joh 17:4 Ek het U verheerlik op die aarde. Die werk wat U My gegee het om te doen, het Ek volbring.
5 En nou, Vader, verheerlik My by Uself met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was.

En dit is wat die Vader gedoen het.  Jesus verheerlik met die heerlikheid wat Hy gehad het voordat die wêreld was.

Fil 2:9 Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is,
10 sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is,
11 en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.

Heb 12:2 die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.

Hoekom het God dit alles gedoen?  Om ons los te koop.  Om ons te verlos.  En dit bring my by die laaste vraag oor ons verlossing en ook die tema: Waarom het God ons verlos?

Waarvan is ons verlos? Sonde.  Waarmee is ons verlos?  Wat was die prys?  Die bloed, die dood.  Deur wie is ons verlos?  Deur Jesus Christus, die Lam van God en dan laastens: Waarom het God ons verlos?  Kyk na v20,

1 Pet 1:20 wat wel vooruit geken is voor die grondlegging van die wêreld, maar in hierdie laaste tye geopenbaar is om julle ontwil,

Vir wie se ontwil?  Om julle ontwil!  Die verlossings werk was vir ons.

21 julle wat deur Hom glo in God...

Maw deur Jesus Christus het ons gelowiges in God geword.  Deur Hom glo ons in God.  So die eerste ding wat ek wil hê julle moet raaksien terwyl ons die na die laaste vraag kyk is dat Jesus Christus se verlossings werk was vir ons gewees.  Hy het dit vir ons gedoen.  Dit is wat die vers sê, om julle onthalwe.

2 Kor 8:9 Want julle ken die genade van onse Here Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het (hoekom?), sodat julle deur sy armoede ryk kan word.

Die tweede ding wat julle moet raaksien was dat hierdie werk van Hom word bewillig deur geloof.  Die verse sê, “om julle ontwil, julle wat deur Hom glo in God...”  Die ASV sê, for the sake of you who through Him are believers in God.”

Ons is gelowiges in God deur Christus.  Let op!  Dit sê nie ons is gelowiges in Christus nie, maar gelowiges in God deur Christus.  Dit beklemtoon nie net geloof nie, maar die bron van geloof, en dit is Christus Self.  Hy is die bron van ons geloof.

Hy het nie net vir ons verlossing voorsien nie, maar Hy voorsien ook aan ons die genade wat geloof skenk.  So eerstens was die verlossing vir ons ontwil en tweedens word dit bewillig deur geloof.  Maw die verlossing kom na gelowiges in God.

Derdens,

V21 ...sodat julle geloof en hoop op God kan wees.

Wat ‘n ongelooflike verklaring.  Verlossing is vir ons, verlossing is deur Christus en word aan ons bewillig deur geloof sodat ons in God kan glo.  En waarom?  Waarom word ons verlos?  Sodat julle geloof en hoop op God kan wees.

As julle nou van die begin van die reeks hier was, vat dit ons nou terug na v13.  Die rede waarom God ons verlos het, is om ons ‘n verhouding met die lewende God te gee.  Ons kan Hom nou in die teenwoordige vertrou.  En ons kan Hom ook vertrou vir die toekoms.

Geloof is vertroue in God in die hede en hoop is vertroue in God vir die toekoms.  Letterlik sê die Grieks:  Sodat julle geloof en hoop in God kan wees.  In engels “into God.”  En dit spreek van ‘n diep verhouding.

God het ons verlos sodat ons in ‘n verhouding met Hom kan wees waarin ons op Hom kan vertrou in die hede en kan hoop op die toekoms.  Ons kan op God vertrou in die hede, ons omstandighede, ons vrese, ons worstelstyd.  En ons kan op God vertrou vir die toekoms, dat ons toekoms verseker is.

Die verlede is die verlede.  Ons kan niks daaraan doen nie.  Ons leef nou.  En die enigste manier om te lewe is om met vertroue in God te leef.  Die toekoms lê nog voor.  En al hoe ‘n mens na die toekoms kan kyk is met hoop in God.

In die begin van die reeks het ons gesê dat geloof en hoop is in werklikheid dieselfde ding.  Geloof is vir die hede en hoop is vir die toekoms.  So waarom het God ons verlos?  Sodat ons in ‘n verhouding met Hom kan wees en Hom kan vertou vir die hier en nou en kan vertrou vir die toekoms.  Dat ons kan hoop op die heerlike belofte wat Hy vir ons gegee het.

Dit is hoe ‘n Chisten behoort te leef.  Hy leef met sy oë op die toekoms.  Ons is nie burgers van hierdie wêreld nie, maar kyk na Hom wat kom.

Psa 49:15 Maar God sal my siel loskoop van die mag van die doderyk, want Hy sal my opneem.

Dit is hoop.  En mag dalk sterf en in die graf ingaan.  Die woord is “Sheol” wat hier met doderyk vertaal is, beteken letterlik graf.  God sal my siel loskoop van die mag van die graf, want Hy sal my opneem. 

Psa 49:15 But God will redeem my soul from the power of the grave: for he shall receive me.

Ons het daardie hoop en ons het daardie geloof, ons het daardie sekerheid.  Ons het reeds die verlossing ontvang van ons gees, maar ons wag nog op die verlossing van ons liggaam.  Dit is ons hoop.  Ons vertrou op God nou, maar ons vertrou op Hom vir die toekoms.

Waarom het God ons verlos? Sodat ons geloof en hoop op God kan wees.  Kan ons so geskenk van verlossing aanvaar sonder om aan God terug te gee wat Hy van ons vra?  Hy vra dat ons volkome sal hoop, dat ons heilig sal leef, dat ons Hom sal vrees.

Die prys waarmee Hy ons losgekoop het, was ‘n duur prys.  Kan ons Hom nie met getrouheid dien nie?


No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288