Monday 30 July 2012

‘n Liefde en vreugde vir God se Woord


1 Pet 2:1 Lê dan af alle boosheid en alle bedrog en geveinsdheid en afguns en alle kwaadpratery;
2 en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei,
3 as julle ten minste gesmaak het dat die Here goedertieren is.

Egte en ware Christenskap word altyd gekenmerk deur ‘n liefde en ‘n vreugde vir God se Woord.  Jesus het gesê in Joh 8:47 dat die wat uit God is, luister na die woorde van God.  En die rede waarom mense nie na die woorde van God luister nie, is omdat hulle nie uit God is nie.

En hierdie luister beteken nie net om te hoor nie.  Hierdie luister beteken om te gehoorsaam.  Party mense hoor, maar luister nie.  Ook in Joh 8 het Jesus gesê dat die ware gelowige is iemand wat God se Woord bewaar.  Paulus het gesê dat hy verlustig hom in die wet van God na die innerlike mens.  Job het gesê,

Job 23:12 Van die gebod van sy lippe het ek nie afgewyk nie; die woorde van sy mond het ek bewaar meer as my eie wet.

Die Psalmdigter begin die Psalms met,

Psa 1:1 Welgeluksalig is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie;
2 maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag.

Dawid skryf ook in Psalm 19 dat die Woord van God is begeerliker as goud en soeter is heuning.  Ook in 40:8 sê hy dat die wet is binne-in sy ingewande.  Hoor wat sê Jeremia,

Jer 15:16 Toe u woorde gevind is, het ek hulle opgeëet, en u woord was vir my vreugde en vrolikheid vir my hart; want u Naam is oor my uitgeroep, HERE, God van die leërskare!

Dit is die karaktereienskap van ‘n ware gelowige, iemand wat hom verlustig in die Woord van God.  Dit is iemand wat God se Woord lief het, hom verlustig daarin, dit opeet, dit begeer.

Kom ek vra jou ‘n vraag:  Is dit hoe jy voel oor die Woord van God?  Is dit jou begeerte?  Het jy die Woord van God lief?  Is dit vir jou begeerliker as goud?  En ek vra hierdie vraag, want dit is die onderliggende waarheid agter ons teksgedeelte.

Petrus sê soos pasgebore babas melk bergeer, so moet ons die Woord begeer.  Binne in die hart van die gelowige moet daar ‘n liefde wees vir die Woord van God.  En hierdie liefde en vreugde vir God se Woord is die tema van die teksgedeelte.

En hierdie is deel van wat Petrus in hoofstuk 1 gesê het.  Hy gee ‘n klomp odragte vir ons.  In reaksie op die groot verlossing wat God vir ons gegee het.  Moet ons volkome hoop op die genade van God, moet ons heilig leef en God vrees.  Dit is ons verpligting teenoor Hom.

Ons moet ook mekaar vurig liefhê, want ons is wedergebore, ons is familie.  En ons derde verpligting is dat ons God se Woord sal begeer.  Dit is ons verpligting teenoor onsself.  Dit moet die dryf veer wees in die gelowige se lewe.  En en dink julle sal saam met my stem dat in baie van ons lewens is daar is te kort aan hierdie begeerte.

Sommige van ons kan vir dae, selfs weke gaan sonder om eers te bekommer hieroor.  En daarom is hierdie vermaning wat Petrus gee so belangrik vir ons.  Kyk gou na v2.  Die klem val op hierdie woorde.

1 Pet 2:2 en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord...

Verlang sterk!  Dit is in die imperatiewe vorm.  Dit is ‘n opdrag.  En die Griekse woord “epipotheo”  beteken letterlik “om te begeer/ to intensly crave for”.  Om ‘n intense begeerte te hê na die Woord.  In die Griekse vertaling van die Ou Testament wat genoem word, die Septuagint, kom hierdie woord ook ‘n paar keer voor, soos byvoorbeeld Psalm42.

Ps 42:1 ...Soos ‘n hert wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God!

Die woord word 9 keer in die Nuwe Testament gebruik.  7 keer deur Paulus, 1 keer deur Petrus en 1 keer deur Jakobus.  In Rom 1:11 en Fil 1:8 gebruik Paulus hierdie woord om te sê dat hy verlang na effektiewe bediening.  In 2 Kor 5:2 gebruik hy dit om te sê dat die gelowige is verlange het na die hemel.  In 2 Kor 9:14 en Fil 2:26 gebruik hy dit om te verwys na ‘n intense begeerte vir liefde.  In 1 Thes 3:6 en 2 Tim 1:4 gebruik hy dit om te praat van ‘n begeerte en verlange na die gemeenskap van gelowiges.

Petrus beveel ons om hierdie sterk verlange, hierdie intense begeerte te hê vir die Woord.  Let op presies waarna moet ons ‘n sterk verlange hê.

1 Pet 2:2 en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord

Na die onvervalste melk van die woord.  Die KJV sê, “desire the sincere milk of the word.”

Petrus sê hierdie begeerte is vir iets wat nie vervals is nie, maar iets wat eg is, iets wat nie besmet is nie.  En die Griekse woorde wat hy hier gebruik word baie gebruik in die Griekse taal om te verwys na plaas produkte.  Suiwer produkte.  Suiwer melk.  Melk wat nie besmet is nie.  Ons verlange moet wees na die suiwer Woord van God.

Die Bybel sê die Woord van God is suiwer.  Die onvervalste melk is die geestelike melk wat vloei uit die lewende en ewige Woord.  Hy gebruik hier is prentjie van ‘n baba, waarskynlik die nuwe wedergebore kind van God, wat verlang na melk.  Geestelike geboorte bring hierdie verlange en begeerte na God se Woord.

Kom ek som gou die Christen lewe op in drie dinge:  Heilig wees, want God is heilig.  Liefde vir jou geestelike broer en sister en derdens, ‘n verlange en begeerte na die Woord.  En Petrus het dit alles hier opgesom, jou verpligting teenoor God, jou verpligting teenoor ander en jou verpligting teenoor jouself.

Die vraag is: Hoe kan ek op daardie plek kom waar ek hierdie sterk verlange het vir die onvervalste woord?

Ek dink die eerste ding is om op te hou junk food eet.  Te veel junk food word van kansels af versprei.  Te veel geestelike boeke is vol gemors kos.   En as ons nie op die plek kom waar ons kies wat ons eet, waarna ons luister en watter boeke ons lees en na wie ons luister nie, gaan ons nooit op daardie plek kom waar ons ‘n intense sterk verlange het na die onvervalste woord van God nie.

Hoe kom ons op die plek waar ons ‘n sterk verlange het vir die onvervalste Woord?  Waar Bybel studie nie net ‘n plig is nie, waar Bybel studie nie net ons verantwoordelikheid is nie, waar Bybel studie nie iets is wat ons doen uit vrees if skuldgevoel nie?  Maar waar dit ons liefde en vreugde is?

Ek wil ‘n paar beginsels gee oor hoe ons hierdie verlange kan hê? 

Die eerste beginsel is: Onthou jou lewensbron.  As jy nie ‘n begeerte het vir die Woord van God nie, het iets vergeet.  Jy het jou lewensbron vergeet.  Hoekom sê ek dit?  Waarmee begin v1?

1 Pet 2:1 Lê dan...

Die engels is meer duidelik.  “Wherefore...  v1 eers begin met “wherefore”, want dit volg op alles wat Petrus in hoofstuk 1 gesê het.  Hy bou dit wat hy nou sê op dit wat hy reeds gesê het.  In v23 sê hy dit is die lewende Woord van God wat tot in ewigheid bly.  Dit is hierdie onverganklike saad wat jou wedergeboorte geskenk het.  In 1:25 sê hy dat die Woord van die Here bly tot in ewigheid.

Wat is die een enkele groot wonderwerk wat nog ooit in jou lewe kon plaasgevind het?  Wat is dit?  Jou wedergeboorte.  Die transformasie van jou lewe en jou ewige tuiste was ‘n wonderwerk wat gekom het deur die Woord van God.

Daarom, moet jy sterk verlang na die onvervalse melk van die Woord van God.  Dit was die Woord wat jou nuwe lewe gegee het, wat jou verander het en gered het.  Dit is jou lewensbron.   Hoe kan jy hierdie sterk verlange hê?  Onthou jou lewensbron.

As jy nie ‘n begeerte het na die Woord nie, is dit omdat jy vergeet het van die krag van die Woord in jou lewe.  Jy het vergeet dat dit krag gehad het om jou te verander.  Die Woord is die saad wat vir jou lewe gegee het.  Dit is waarom Fil 2:16 die Woord van die lewe noem.  Dit lewe.  Dit is kragtig.  Dit gee lewe.

Jes 55:10 Want soos die reën en die sneeu van die hemel neerdaal en daarheen nie terugkeer nie, maar die aarde deurvogtig en maak dat dit voortbring en uitspruit en saad gee aan die saaier en brood aan die eter;
11 so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.

Die Woord is kragtig, die Woord is lewendig, dit is skerper as enige twee snydende swaard.

Joh 15:3 Julle is alreeds rein deur die woord wat Ek tot julle gespreek het.

Dit is die Woord wat lewe gee.  Ons is gered deur geloof en geloof kom deur die gehoor en gehoor deur die Woord van God.  Joh 20:31 sê dat hierdie dinge is geskrywe dat julle kan glo en deur te glo die lewe kan hê in sy Naam.  Die Woord is ‘n onuitputbare, onuitwisbare lewensbron.  Dit het jou nuwe lewe gegee.  Dit het jou ‘n nuwe liefde gegee.  Dit het jou hoop gegee en vrede en genade en vergifnis en krag.

Wil jy vir my sê dat jy dit eenkant toe gaan skuif?  Nee!  Jy moet sterk daarna verlang.  Jy moet dit begeer en die krag wat daarin is om elke dag jou lewe te transformeer.

Psa 19:7 Die wet van die HERE is volmaak: dit verkwik die siel; die getuienis van die HERE is gewis: dit gee wysheid aan die eenvoudige.
8 Die bevele van die HERE is reg: hulle verbly die hart; die gebod van die HERE is suiwer: dit verlig die oë.

Die Woord is net so kragtig in jou lewe vandag as wat dit was toe jy gered was.  En as jy daardie sterk intense verlange na die Woord wil hê, sal jy moet begin om te onthou wat jou lewensbron is.

1 Thes 2:13 Daarom dank ons God ook sonder ophou dat, toe julle die woord van God ontvang het wat deur ons verkondig is, julle dit aangeneem het nie as die woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die woord van God wat ook werk in julle wat glo.

Onthou jou lewensbron. 

Die tweede beginsel is: Raak ontslae van sonde.

1 Pet 2:1 Lê dan af alle boosheid en alle bedrog en geveinsdheid en afguns en alle kwaadpratery;

Die werkwoord hier is “apotithemi” wat beteken “om te verwerp.”  Jy moet sonde verwerp.  Jy moet dit aflê.  Die woord word ook gebruik in,

Kol 3:8 Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond.

Raak ontslae daarvan.  In reaksie op die groot verlossing wat God vir jou gegee het, het jy ‘n verpligting teenoor jouself om ontslae te raak van sonde in jou lewe.  Kom ek vertel jou een groot waarheid: Sonde gaan jou weghou van die Woord van God totdat jy daarmee afhandel.  Sonde in jou lewe gaan maak dat jy nie vrymoedigheid het om die Bybel oop te maak en te lees nie.

Vyf dinge word genoem: alle boosheid in die algemene sin van die woord.  Alle bedrog, en dit verwys na misleiding.  In hierdie gevan geestelike misleiding.  Solank as wat jy in misleiding vasgevang is het jy nie ‘n begeerte na die Woord nie.  Ander boeke en leringe, of sekere ervaringe het belangriker vir jou geword.  Mense wat gewoonlik vasgevang is in geestelike misleiding wil nie luister na die waarheid nie.

Geveinsdheid is die woord wat oorspronklik vertaal kan word met akteur.  Iemand wat act.  Maw dit is fake.  Dit is nie real nie.  Afguns, om dit te soek wat ander het.  Om ander se besittings te begeer en dit lei tot grudges, bitterheid, haar en konflik.  Afguns.  Dit is baie lelike sonde.

En alle kwaadpratery.  Dit Griekse woord “katalalia”, maw backbiting, skinder, om van iemand anders sleg te praat agter sy rug.

Raak ontslae hiervan.  Dit is alles die teenoorgestelde as om mekaar vurig lief te hê.  Broederlike liefde doen nie hierdie dinge nie.  Kry hierdie gemors uit julle lewens uit.  Dit moet uit jou lewe uit as jy ‘n honger wil hê na die suiwer melk van die woord.

Derdens, as jy ‘n sterk verlange wil hê na die Woord van God sal jy jou eie nood moet erken.  Erken jou eie nood en behoefte.

1 Pet 2:2 soos pasgebore kindertjies...

En wat doen ‘n pasgebore baba?  Hy soek sy ma se melk.  Die Griekse woord wat gebruik word vir kindertjies is die “brephos” en word net gebruik om te verwys na ‘n baba wat aan sy ma drink. 

Net soos ‘n baba wat pasgebore is, wat nog nie eers uit die hospitaal uit is nie, en huil vir een ding, wat is dit?  Melk.  Dit is die eerste natuurlike ding wat ‘n pasgebore baba doen, hy drink aan sy ma.  Dit is die enigste begeerte wat hy het.

Hoekom?  Want hy het ‘n behoefte.  Hy weet nog niks.  Hy het nog niks geleer nie.  Maar een ding weet hy.  Hy het ‘n behoefte aan melk en dit is al wat hom gaan te vrede stel.  En hy huil en niks anders gaan daardie nood, daardie behoefte weg vat nie.  Nie slap chips nie.  Nie ‘n boereworsrolletjie nie.

Daar is net een ding wat hy wil hê en dit is melk.  Petrus sê dit is hoe dit moet wees met ons.  Jy moet so daarna verlang.  En hy sê dit nie net vir nuwe Christene nie.  Hy praat met ons almal.  Ons almal moet erken dat ons ‘n behoefte het daarna.  En soos wat die baba daardie melk nodig het, so het jy die Woord nodig.  Jesus het gesê,

Matt 4:4 ...Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.
As jy daardie sterk verlange wil hê na die Woord van God sal jy moet onthou wat jou lewensbron is, jy sal van sonde moet ontslae raak en jy sal jou eie nood moet erken.

Vierdens, werk om te groei.

1 Pet 2:2 en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei,

Jy moet eet, sodat jy kan ...?  groei.  Sonder die Woord kan jy nie groei nie.  As Christen mag jy nooit te vrede wees met waar jy geestelik is nie.  Jy moet wil groei.  2 Kor 3:18 sê ons word verander van gedaante na dieselfde beeld van Christus, van heerlikheid tot heerlikheid, wanneer ons die Here aanskou. 

Hoe gebeur dit?  Wanneer ek in die Woord van God gaan kyk en ek sien die heerlikheid van die Here, dan verander die Heilige Gees.  Werk om te groei.  Dit sal jou ‘n sterk verlange gee na die Woord.

Vyfdens, as jy ‘n begeerte wil ontwikkel vir die Woord van God, tel jou seëninge.

1 Pet 2:3 as julle ten minste gesmaak het dat die Here goedertieren is.

Verlang sterk na die Woord as jy die goedheid van die Here gesmaak het.  Wat bedoel hy daarby?  Hy sê, juis omdat God se goedheid en genade ervaar het en hoe dit gesmaak het, moet jy ‘n sterk verlange hê.  As jy jou seëninge tel en sien wat God vir jou gedoen het, dan sal jy ‘n groter verlange ontwikkel vir meer.

Het jy die goedheid van die Here gesmaak?  Kan jy onthou hoe soet dit gesmaak het toe God jou gered het?  Kan jy ontou toe God jou gebede beantwoord het? Kan jy onthou toe God vir jou so goed was.  Tel jou seëninge.  En as jy die goedheid van die Here gesmaak het, wil jy nie meer daarvan hê nie? 

As jy ‘n honger vir God se Woord wil hê, sal jy moet onthou wat is jou lewensbron, jy sal van sonde ontstlae moet raak, jy sal jou nood moet erken dat jy dit nodig het, werk aan jou groei, en jou seëninge moet tel, elke keer wat jy die goedheid van die Here gesmaak het.


No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288