Monday 5 November 2012

Die tekens van Christus se wederkoms – deel 1

Matt 24:1 En Jesus het uitgegaan en van die tempel vertrek, en sy dissipels het nader gekom om Hom die geboue van die tempel te wys.
2 En Jesus sê vir hulle: Sien julle al hierdie dinge? Voorwaar Ek sê vir julle, daar sal hier sekerlik nie een klip op die ander gelaat word, wat nie afgebreek sal word nie.
3 En toe Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?

Almal van ons sou graag wou weet wat vir ons in die toekoms voorlê.  Ons sou graag wou weet wat ons nie weet nie.  Waar gaan jy wees oor ‘n paar jaar van nou af?  Ons sou graag wou weet wat gaan gebeur met die ekonomie van Suid-Afrika?  As ons dit kon weet, sou ons beter besluite kon maak.  Ons sou geweet het waar om ons geld te belê.  Of ons sou geweet het of ons in Suid-Afrika moet bly of nie.  Daar is baie redes wat ek kan gee waarom ons die toekoms sou wou ken.

Wanneer dit kom by God se plan en die eindgebeure, gee Jesus vir ons die tekens van die tye, sodat ons nie in die duister sal wees oor wat in die toekoms gaan gebeur nie. 

Voordat Hy op die Olyfberg gaan sit en die tekens van die wederkoms gee, sien ons dat Hy Sy laaste prediking gegee het in die tempel.  Ons sien in Matt 23 dat Jesus veroordeel die huis van Israel.

In Luk 21:24 sien ons dat Hy maak hierdie verklaring: …en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies todat die tye van die nasies vervul is”.  Hierdie vers is in 70 n.C. vervul. Dan 9:26 sê “…tot die einde toe sal dit oorlog wees”.

Waarom veroordeel Hy hulle?

Joh 1:11 Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie.

Maar hoe het die dissipels al hierdie dinge verstaan?

Die dissipels het die OT geken.  Hulle het daarna verlang…’n tyd van geregtigheid en vrede, ‘n tyd van voorspoed en veiligheid in Jerusalem, en nie net tydelik nie, maar verewig, soos die profeet Jesaja dit voorspel het.

Ons kry al die beloftes van Jes 9:6, Jer 23, Jer 30 wat sê: daar sal Een kom wat op die troon van Dawid gaan sit en regeer.

Sag 14:9 En die HERE sal Koning wees oor die hele aarde; in dié dag sal die HERE een wees, en sy Naam een.

Hulle het ook Daniël 2 geken wat vertel van die beeld van Nebukadnesar.  In v34 sien ons dat daar ‘n klip losraak sonder die toedoen van mensehande en dit die beeld aan sy voete tref en dit fynstamp.  Dan gee Daniël die verklaring en sê in v44 dat hierdie klip spreek van die koninryk wat God sal verwek, en hierdie koninkryk sal die aardse koninkryke vernietig. 

Hierdie koninkryk sal ook verewig bestaan.  Dit is die koninkryk van die hemele, waar Jesus as Koning op aarde sal regeer.  Die Jode het hierdie gedeeltes baie goed geken.

Dit was hulle verwagting.  Buite Bybelse bronne en geskrifte van die Jode wys vir ons dat die eskatolgiese dinge, die toekoms gebeure, was die oorheersende temas.  Dit is ook interesant dat hulle was pre-millennialiste.  Maw.  dit beteken dat die wederkoms vind (pre) voor die millenium plaas, voor die duisendjarige vrederyk. 

Dit is die volgorde van gebeure soos die Jode dit geglo het:

Eers sal daar verdrukking wees, en daarvan het hulle al baie gehad, dan iemand soos Elia, ‘n voorganger wat die koms van die Messias aankondig, dan die koms van die Messias.  Daarna sal die nasies bymekaar kom om teen die Messias te veg.  Dan sal die Messias al die volke wat teen Hom is, vernietig. 

Daarna vind die herstel van Jerusalem plaas, die reiniging van die stad, en dan die Millenium.  Daarna versamel God al die Jode oor die hele wêreld bymekaar en is dit ook vandag nog die daaglikse gebed van Jode.  Dit is waarvoor hulle lewe.  Dit is hulle droom.  En dan sal ‘n nuwe era van vrede en goedheid en heerlikheid aanbreek wat tot in ewigheid aanhou.

Nou, volgens die Jode het hulle genoeg verdrukking gehad.  Hy was tans onder die Romeinse bewind.  Hier daag Johannes die Doper op die toneel.  Wat dink hulle?  Hier is die een wat kom soos Elia.  En dan kom Jesus Christus.  Hy maak mense gesond, wek dooies op, voed skare mense.  Hy kom op ‘n donkie in Jerusalem tydens die paasfees en hulle gooi takke van bome en klere op die grond.  Hulle sing: Hossana in die hoogste hemele.

Hulle was sekerlik opgewonde.  Die tyd het aangebreek.  Hier is die Messias.  En wat onthou hulle is die eerste dinge wat moet gebeur as die Messias kom?  Al die nasies gaan teen Hom optrek en Hy gaan hulle vernietig.  Hulle dink Hy gaan oorlog voer en die Romeinse soldate is die eerstes wat dit gaan kry.  Daarna sal Hy Jerusalem reinig, en so aan.

U kan net dink waarom die dissipels so omgekrap was toe Jesus vir hulle gesê het dat Hy gaan sterf.  Dit het nie in hulle raamwerk ingepas nie.  Al wat hulle sien is die heerlikheid wat gaan aanbreek.  Hulle het nie gesien dat daar ‘n tydperk sal wees tussen Sy eerste koms en Sy tweede koms nie.  Ons weet dat hierdie tydperk word eers in die NT geopenbaar.

Paulus sê in Ef 3:3 dat aan my is ‘n openbaring bekend gemaak, die verborgenheid van Christus, v5 wat in ander tye aan die mensekinders nie bekend gemaak is nie.  Daar is ‘n waarheid wat verborge, weggesteek was vir die OT profete.  Hierdie waarheid, v6 is dat die heidene mede-erfgename is en medelede van die liggaam en mededeelgenote is aan sy belofte in Christus deur die evangelie.

Matt 23:38 sê Jesus: Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!” en in v39: “Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!”  Jesus sê: daar kom ‘n oordeel oor die huis van Israel, dan sal daar ‘n tydperk wees wat hulle Hom nie sien nie en dan sal hulle Hom weer sien en sê: “Geseënd is Hy wat kom…”

“Hy wat kom in die Naam van die Here”, is ‘n Messiaanse titel.  Dit is ook wat hulle Hom genoem het, toe Hy in Jerusalem op ‘n donkie gekom het.  Matt 21:9 sê hulle: “Hosanna vir die Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Hosanna in die hoogste hemele!”

Hoe verstaan die dissipels dit?  Daar was verdrukking, Johannes die Doper het gekom, Jesus, die Messias het gekom.  Wat moet volgende gebeur?  Hy moet die nasies wat teen Hom optrek, vernietig en dan Jerusalem reinig.  Jesus sê: julle huis word woes gelaat.

Wanneer hulle hoor: “julle huis word vir julle woes gelaat” dan hoor hulle “Dit is hoe Hy Jerusalem gaan reinig van al die goddelose”.  Hulle dink Hy is op skedule.  Hulle dink Hy praat van die reiniging van Jerusalem.

Maar wat Jesus eintlik sê, sê Hy in werklikheid aan die huis van Israel: Ikabot.  Die heerlikheid van God het die huis verlaat, want God het dit verlaat.  Hy sê in Matt 23:38 “julle huis word woes gelaat!”  Jesus het dit altyd Sy Vader se huis genoem.  Hier sê Hy: julle huis, nie My huis nie.  Hoekom? Want God is nie daar nie.

Die woord “woes”, is die woord “eremos”, wat beteken “verlate”.  God het dit verlaat.  En julle sal My nie weer sien, totdat ek kom in volle Messiaanse glorie nie.

Dan kom Jesus in Matt 24:2 “Sien julle al hierdie dinge (watter dinge? die geboue van die tempel)? Voorwaar Ek sê vir julle, daar sal hier sekerlik nie een klip op die ander gelaat word, wat nie afgebreek sal word nie.”

Jesus verwys na die verwoesting van die tempel, nie na die reiniging van Jerusalem nie.  Hierdie vers is letterlik vervul in 70 n.C toe die Romeinse leër, onder leiding van Titus, Jerusalem aangeval en vernietig het.

Maar die dissipels is so opgewonde.  Hulle dink, dit is die einde.  Alles is op skedule.  Hulle bevraagteken nie eers dit wat Jesus sê oor die tempel nie.  Dit het binne hulle raamwerk ingepas, want hulle het geweet dat Eseg 40 en 48 beskryf ‘n nuwe tempel.

Hulle vra vir Jesus in v3: “Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees…”  Watter dinge?  Die afbreek van die tempel.  Wat anders?  Die verwoesting van Jerusalem, en die koms, Matt 23:38 en Hy wat kom in die Naam van die Here, v39.  Hulle het dit alles as een gebeurtenis gesien.  Die tempel is afgebreek, die stad is verwoes, die Messias kom in sy glorie.  Wanneer gebeur al hierdie dinge? “…en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?”

Hulle het nie ‘n tydperk gesien tussen Jesus se eerste koms en Sy tweede koms nie.  Selfs na Jesus se opstanding, het hulle steeds so gedink, en net voordat Hy opgevaar het hemel toe, vra hulle: In Hand 1:6 “Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?”  Dit is mos nou die tyd, is dit nie?

Nadat Jesus gekruisig is, was al hulle hoop vernietig.  Maar nadat Hy opgestaan het, het al die ligte weer aangegaan.  En hulle vra: Is dit die tyd?  Gaan dit nou gebeur?  Hulle het geglo die Koninkryk gaan opgerig word.

Luk 19:11 En terwyl hulle na hierdie dinge luister, vertel Hy daar nog 'n gelykenis by, omdat Hy naby Jerusalem was en hulle gedink het dat die koninkryk van God onmiddellik sou verskyn.

Dit was al waaraan hulle gedink het.  Hulle het gedink dit is nou.  Alles gaan nou gebeur.  Maar Jesus sê vir hulle: dit gaan nie nou gebeur nie.  Dit lê nog voor in die toekoms.  Dan gee Hy vir ons die tekens, sodat hulle wat dit sien, sal weet, dit is die einde.

Matt 24:3 “Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?”

Die woord “koms” is die woord “parousia”, wat letterlik beteken “om te wees”.  Maw dit verwys na Sy teenwoordigheid.  Wat is die teken van U volle teenwoordigheid?

Hulle vra: wanneer kom U in U volle teenwoordigheid?  Wanneer gaan U hier wees in U volle Messiaanse openbaring?  Wanneer gaan U hier wees, om dit te wees, waarna ons uitsien U gaan wees? 

Hulle vra nie of Hy weggaan en weer terugkom nie.  Die koms in hierdie konteks verwys na Sy teenwoordigheid.  Hulle sê in der waarheid, wanneer gaan U in U volheid toe tree.  Dit is die gedagte.

Die voleinding van die wêreld – “συντελείας τοῦ αἰῶνος” – suntelias to aionos.  Suntelias – die voltooide einde, die finale einde.  Wanneer is die voltooide en finale einde van die, aionos, era?

In Matt 28:20 sê Jesus: “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen”  Jesus sê: Ek is met julle tot die finale einde toe.

In Matt 13:39 kry ons ook die “suntelias to aionos”  - die finale einde.  “en die vyand wat dit gesaai het, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld, en die maaiers is die engele.

Hierdie gedeelte gaan oor die gelykenis van die goeie saad en die onkruid.  Dit sê: Die oestyd is die voleinding van die wêreld.  Die engele gaan die oes maai.  Die onkruid sal bymekaar gemaak word en met vuur verbrand word.  Dit is hoe dit sal wees aan die finale einde.  V42 sê: “…hulle (sal) in die vuuroond (ge)gooi word. Daar sal geween wees en gekners van die tande.”

Matt 13:43 Dan sal die regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.

Matt 13:49 So sal dit wees in die voleinding van die wêreld: die engele sal uitgaan en die slegte mense onder die regverdiges uit afskei
50 en hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande.

Weereens by die “suntelias to aionos”, by die finale einde van alles.  Dit is soos ‘n visserman wat sy net in die see gooi, en van elke soort bymekaar maak.  Daarna sorteer hy die goeies van die slegtes.

Wanneer die dissipels vir Jesus vra: wat is die teken van u koms en die “suntelias to aionos”, die finale einde.  Dan praat hulle van die einde waar Jesus, die nasies, die goddelose gaan vernietig en Jerusalem gaan reinig.  En hulle dink dit gaan nou gebeur. 

Jesus sê egter vir hulle: Julle dink dit is die einde, maar in Matt 24:6 sê Hy: hierdie is nog nie die einde nie.  V8 Hierdie dinge is nog net die begin van smarte.  Dan gee Hy die tekens wat dui op Sy volle openbaring, die “parousia”.  Hy gee die tekens van Sy tweede koms, die wederkoms.  Hy gee die tekens van die “suntelias to aionos”, van die finale einde, die voleinding van die wêreld.

Matt 24:8 Maar al hierdie dinge is 'n begin van die smarte.

Die woord “smart” is die Griekse woord “odin”, wat verwys na geboortepyne.  Nou, wanneer vind geboortepyne plaas?  Dit vind plaas net voor die geboorte plaas, nie tydens die hele swangerskap nie.  Naby die einde.  Die geboortepyne vind nader aan mekaar plaas en meer intens.  1 Thes 5:2 sê: “want julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos 'n dief in die nag.”

Hoe kom ‘n dief in die nag?  Skielik, onverwags.  Dieselfde met geboortepyne.  Dit gebeur skielik.

1 Thes 5:3 Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid--dan oorval 'n skielike verderf hulle soos die barensnood 'n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie.

Die koms van die Here sal skielik wees. Die geboortepyne is die tekens wat Jesus ons dan gee, sodat ons kan weet: die einde is naby.  Hierdie tekens sal al meer gereeld en nader aan mekaar plaasvind en meer intens.

Wanneer ons dan die tekens van die tye lees wat Jesus vir ons gee, dan sien ons dat hierdie dinge word al meer en meer en dit raak al meer intens.  Die einde kom al hoe nader in sig.


Die rede waarom Jesus die tekens gee, is dat wanneer jy hierdie dinge sien, jy jou sal verbly in Jesus, want die einde is naby.  Jy sal jou verbly, want die einde van alle ongeregtigheid is voor die deur.

Aan die ander kant, die mens wat nie gered is nie, moet God vrees, want Hy kom om te oordeel.  Met Sy eerste koms het Hy gekom om te leer.  Met Sy tweede koms, kom Hy om te oordeel.

Die mens wat nie gered is nie, sal nie deel wees van die wegraping nie, en sal die oordele van God beleef.

By die voleinding van die wêreld, by die finale einde, sal daar ‘n skeiding wees tussen die goddelose en die gereddes.  Die Bybel sê die ongereddes sal in die vuuroond gegooi word en daar sal ‘n geween en ‘n gekners van tande wees.  Dit is hulle wat hulle nie bekeer het en hulle geloof in Jesus Christus geplaas het nie.

Dit is slegs diegene wat hulle van hulle sonde bekeer en hulle geloof in Jesus Christus plaas, wat gered sal word en sal skyn soos die son in die Koninkryk van die Vader.



No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288