Monday 5 November 2012

Die tekens van Christus se wederkoms – deel 3


Die dissipels vra Jesus in Matt 24:3 Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?”

Maar onthou, die vraag wat hulle eintlik vra is: wanneer gaan die Messias Sy Koninkryk oprig?  Want hulle het gedink die einde het aangebreek.  Vanaf v4 tot by die einde van Matt 25 gee Jesus die antwoord.  (Matt 24 en 25 is nie van toepassing op die kerk nie, omrede die kerk reeds weggeraap is).

Ons het gelees dat Jesus sê: Sy koms lê nog in die toekoms.  Hy sê dan vanaf v4 dat daar eers ‘n paar dinge sal moet gebeur voordat Hy kom.  Wanneer hierdie dinge gebeur, maak gereed.

V8 het gesê dat hierdie tekens is die begin van smarte, die Griekse woord “odin” wat beteken “geboortepyne”.  Hierdie geboortepyne vind dan net voor die wederkoms plaas, net voor geboorte.  Hierdie tydperk waarheen Jesus ons neem in die toekoms, word genoem in v21, die Groot verdrukking.

Ons moet ook onthou, dat wanneer die dissipels na die Ou Testament profete gekyk het, soos bv. na Jesaja, Esegiël, Daniël en Sagaria, dan het hulle die koms van die Messias gesien as net een gebeure.

Hulle het nie gesien dat daar ‘n eerste koms gaan wees, dan ‘n lang periode tussen in, en dan ‘n tweede koms nie.  Jesus sê in Matt 23:39 “Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!”

Ons het gesien dat hierdie periode tussen Sy eerste koms en Sy tweede koms, is die tydperk van die kerk.  Dit is die tydperk waar God vir Hom ‘n volk uit die heiden nasies versamel, dit is die kerk van die Here Jesus Christus, en wanneer hierdie tydperk of dispensasie van die kerk afgesluit word, sal God weer met Israel deel.  Hierdie tydperk noem die Nuwe Testament, die verborgenheid.  Dit wat nie aan die Ou Testamentiese profete geopenbaar is nie.

Jesus het gesê in Matt 15:24, ek is gestuur net na die verlore skape van Israel.  Maar net voor Sy hemelvaart, sê Hy in Matt 28:19, gaan dan heen, maak dissipels van alle nasies.  Matt 21:43 Daarom sê Ek vir julle: Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan 'n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal dra.

In die kerk is daar egter nie onderskeid tussen Jood, Griek of heiden nie, maar ons is almal een in Christus.  Vandag is die Jode net so verlore soos die heidene en kan hulle alleen gered word op grond van die versoeningswerk van Christus.

Die tekens wat Jesus gee in Matt 24 is dan die tekens wat net voor die wederkoms sal plaasvind.  Ek wil twee tekens uitlig.  Die eerste teken in Matt 24:14 sê dat die evangelie word aan die hele wêreld verkondig en Op 14:6,7 sê dat ‘n engel sal wees wat hierdie ewige evangelie aan alle nasies, stamme en tale en volke gaan verkondig.

Die tweede een in Matt 24:32-34 die gelykenis van die vyeboom wat bot, en dit verwys na Israel, en wanneer ons dit sien gebeur, dan weet ons dat die einde is naby.  Hierdie geslag wat dan volhard tot die einde toe sal gered word. 

Sag 12:10 sê daar sal ‘n groot herlewing plaasvind by die wederkoms.  Israel bekeer hulle as ‘n volk tot God.  Hierdie herlewing is die laat reëns, waarvan Joël 2:23 praat.  Dit gebeur by die wederkoms.  Waarom noem ek dit vir u?  Want hierdie herlewing is ‘n Joodse herlewing en vind nie aan die einde van die kerkeeu plaas nie, maar vind by die wederkoms plaas.

Die Bybel sê baie duidelik dat aan die einde van die kerkeeu voor die wegraping, sal daar ‘n afvalligheid wees en nie ‘n herlewing nie. 

1 Tim 4:1 Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang

(diagram) wys waar vind die herlewing plaas, en misleiding

  1. Die teken van misleiding:

Kom ons gaan terug na Matt 24:4,5.  Onthou hierdie tekens verwys na die tydperk net voor die wederkoms.  Hierdie tekens stem ooreen met Op 6-19 en dit sal plaasvind in die verdrukking.  Die eerste teken wat Jesus gee wat sal plaasvind in die verdrukking is, misleiding.

Matt 24:4 En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie.
5 Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei.

Hierdie teken wys dan ook na Op 6:2, die antichris wat die hele wêreld gaan mislei.  Ons sien dan vandag in ons eie tyd hoedat misleiding toeneem.  Veral met die New Age beweging waar verskillende godsdienste begin saam praat en hande vat.  Misleiding sal toeneem totdat dit uiloop in die groot verdrukking tot op die antichris. 

So die laaste dae van die kerkeeu, word gekenmerk deur afvalligheid.  As daar ‘n wêreldwye herlewing sou wees net voor die wegraping, sou daar nie veel mense oor gewees het vir die antichris om te mislei nie.

U kan uself indink hoe dit gaan wees in die groot verdrukking.  ‘n Wêreld waar alles in duie stort, ekonomiese chaos, rampe soos nog nooit van te vore nie.  Dit gaan ‘n wêreld wees wat soekend gaan wees na antwoorde en na leiers om hulle te red.  Dit sal ‘n wêreld wees wat na ‘n messias en ‘n verlosser soek, wat hulle kan verlos. 

Daarom sal daar valse christusse wees en baie mislei.  Orals sal hulle hulleself as die oplossing aanbied.  Dit sal ‘n tyd van benoudheid wees soos daar nog nooit van te vore was nie en mense sal val vir enige misleiding, omdat hulle desperaat is.

Jesus sê: Pas op, dat niemand julle mislei nie. 

Matt 24:23 As iemand dán vir julle sê: Kyk, hier is die Christus! of: Daar! --moet dit nie glo nie.
24 Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.

V24 sê hulle sal groot tekens en wonders doen…Is dit moontlik dat hulle sal tekens en wonders kan doen?  JA!  Die Bybel sê so.

Ons sien in Eks. 7 dat Farao se wyse manne en towenaars het dieselfde gedoen wat Moses gedoen het, met hul towerkunste.  Hulle het ook soos Moses hulle stawwe ook op die grond gegooi en dit het slange geword.  Hulle het ook met hulle stawwe die Nyl se water in bloed laat verander.

Hierdie valse christusse en profete sal tekens en wonders doen met towerkuns (Magic).  Vandag is daar dan ook ‘n groot belangstelling in Magic.  Kyk net na al die filmvertonings wat die afgelope tyd op die doek verskyn.  Harry Potter, Stardust, Golden Compass, Enchanted…ens.  Dit gaan alles oor magiese kragte.  Mense word baie subtiel gewoond gemaak aan magic.

Hierdie valse christusse en profete sal deur hulle tekens en wonders die wêreld se aandag gevange neem.  Dit sal dan finaal uitloop op die een valse Christus, die antichris, wat deur Satan self besit sal word. 

Johannes noem hom die dier, Paulus noem hom die mens van sonde, die seun van die verderf en die teëstander.

2 Thes 2:9 hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen

Ons moet nie naïef wees en dink dat die duiwel nie kan wonders en tekens doen nie.  Die Bybel sê: hy kan.  Ons moet ook nie dink dat enige ou wat wonders en tekens doen, van die Here af is nie.

Dan 8:23 Maar aan die einde van hulle heerskappy, as die goddelose die maat volgemaak het, sal 'n koning optree, hard van aangesig en wat listige streke verstaan.
24 En sy krag sal sterk word, maar nie deur sy krag nie; en hy sal buitengewoon baie kwaad aanrig en dit voorspoedig uitvoer; en hy sal magtiges vernietig en ook die volk van die heiliges.
25 En op grond van sy slimheid sal hy met geluk bedrog pleeg, en hy sal groot dinge onderneem in sy hart en baie mense onverwags vernietig, ja, optree teen die Vors van die vorste, maar hy sal sonder toedoen van mensehand verbreek word.

V24 sê sy krag sal sterk word, maar dit is nie sy krag nie.  Dit sal die krag van Satan wees.

Op 6:2 sê hy sit op ‘n wit perd, hy het ‘n boog, maar hy het geen pyle nie.  Wat beteken dit?  Dit beteken: hy intimideer, maar skiet nooit ‘n skoot nie.  Hy oorwin met vrede.  Dit is die boodskap van die antichirs.  Vrede, nie God se vrede nie, maar wêreldse vrede.  ‘n Valse Christus, bring valse vrede en hy kom op ‘n wit perd.  Hy is ‘n na-aper van die Jesus Christus wat ook op ‘n wit perd kom in Op 19 en wat ware vrede bring.

Sal daar ooit wêreld vrede wees?  JA, maar eers by die 1000 jaar vrederyk, wanneer Jesus as Koning regeer.  Solank as wat die mens in beheer is, sal daar nie vrede wees nie.

Dan 11:36 En die koning sal doen net wat hy wil en homself verhef en hom groot hou bo enige god, en teen die God van die gode sal hy wonderbaarlike dinge spreek; en hy sal voorspoedig wees, totdat die grimmigheid ten einde is; want wat vas besluit is, sal uitgevoer word.

Johannes beskryf hom in Op 13 as ‘n dier.  Hy is ‘n dier wat uit die nasies opkom.  Hy sê in:

Op 13:4 Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer?
5 En 'n mond is aan hom gegee wat groot woorde en godslasteringe uitspreek, en aan hom is mag gegee om dit twee en veertig maande lank te doen.

Hierdie 42 maande is die laaste 3½ jaar van die verdrukking.  V6 sê hy sal laster teen God.  V7, hy gaan oorlog maak teen die heiliges en hulle oorwin.  Hy sal mag hê oor elke stam en taal en nasie.  En dan sê v8:

Op 13:8 En al die bewoners van die aarde sal hom aanbid, almal wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe van die Lam wat geslag is, geskrywe is nie.

Op 13:12 sê dat daar ‘n ander dier uit die aarde opkom, en dit is die valse profeet.  Hy maak dat die wat op die aarde woon die eerste dier, die antichris, aanbid.  Hoor wat sê v13:

Op 13:13 Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense. (MAGIC)

Kom ons som dit gou op: Die antichris sal kom met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van leuens.  Daniël sê: sy krag is sterk, maar dit is nie sy krag nie, maar satan se krag.  Op 6 sê hy oorwin, sonder om ‘n pyl te skiet.  Hoe oorwin hy? deur misleiding.  Hy bring ‘n valse vrede.  Op 13 sê hy gaan die hele wêreld mislei.  Nou wie sit agter hierdie misleiding?

Op 12:9 En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp.

Op 13 sê die hele wêreld sal hom aanbid.  Hy doen groot tekens en laat selfs vuur uit die hemel neerdaal.

Dit is waarom Jesus sê: Pas op dat niemand julle mislei nie.  Baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus.  En hulle sal baie mense mislei.  Hierdie misleiding sal in sy volheid toeneem, wanneer die kerk weggeraap is.  As ek sien hoe maklik mense vandag mislei word, wil ek nie weet hoe maklik gaan dit in die verdrukking wees nie.

Hoe weet ek dan wanneer is dit misleiding?


2 Tim 4:3 want daar sal 'n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie (maw hulle stel nie belang in goeie, gesonde Bybelse leringe nie), maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees (alles net mooi preke, maar geen lering, vermaning of teregwysing), vir hulle 'n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede (dit gaan nie oor wat God wil hê nie, maar wat oor die mens wil hê).

Jy moet God se Woord lief hê, en alles gaan ondersoek in die Skrif.  ‘n Heilige Gees vervulde lewe wat my instaat stel om te kan onderskei en ‘n Liefde vir God se Woord.

2 Thes 2:3 Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf
4 die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.
5 Onthou julle nie dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie?
6 En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word.
7 Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is;
8 en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak,

Wanneer hy wat teëhou, naamlik die Kerk van Jesus, weg geruim is, dan sal die ongeregtigheid geopenbaar word.  Nadat die kerk weg is, dan gaan misleiding in sy volheid toe tree.  Die lig van die wêreld, die sout van die aarde.  Dis nie meer daar nie.  Die wêreld sal ‘n donker tydperk ingaan.  Daar sal geen gees van onderskeiding wees nie.  Die mense sal dink, die antichris is die Messias, die Verlosser.

Tussen al die valse christusse en valse profete sal daar uiteindelik die grootse en finale valse Messias opstaan.  Hy sal uiteindelik finale mag hê oor die hele wêreld. 

Wat ons moet raaksien is dat misleiding sal toeneem na die einde toe, totdat die antichris finaal die hele wêreld onder sy mag sal hê.  Daarna sê 2 Thes 2:8, sal die Here hom met die asem van sy mond verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak.

Die vraag is: waar staan ons nou?  Wel, 2 Thes 2:7 sê die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk.  So die duiwel is reeds besig om mense te mislei.  As ek sien wat in die wêreld aangaan, is dit ook my eie oortuiging dat ons staan op die voorstoep van groot misleiding.

Op 3 beskryf die laaste kerk van die laaste dae.

Op 3:15 Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm!
16 Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug.

Die kerk van die laaste dae is ‘n kerk wat lou geword het.  Dit is nie warm of  koud nie.  Dit is so tussen in.  Dit is nie meer wit of swart nie.  Maar alles het grys areas geword.  Dit is ‘n kerk wat kompromië maak. 

Die skeiding tussen lig en duiseternis, tussen die waarheid en die valsheid, tussen warm en koud is nie meer so duidelik nie.  Die kerk van Laodicense wat nie meer kan onderskei tussen die waarheid en die valsheid nie.  Dit is hierdie kerk waar Jesus Christus nie meer die sentrale punt van hul boodskap is nie.  Jesus staan buitekant die kerk en klop en sê: as iemand my stem hoor sal ek ingaan en met hom maaltyd hou.

Dit is waarom ons in hierdie gemeente moet bly by die fundamentele waarhede van die Bybel.  Dit is waarom ons nougeset moet wandel.  Dit is waarom 1 Joh 4:1 sê “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan.  Dit is waarom: Ef 4:27 sê: “…gee aan die duiwel geen plek nie.”

Kom ons omgord ons lendene met die waarheid.  Kom ons staan vas in die Woord.  Kom ons neem die skuld van geloof op, waarmee ons al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus.

Die tyd is min en die oes is groot.  Daar is mense wat verlore gaan en daar is nie tyd om kerk te speel nie.  Kom ons wees waarlik Kerk van die Here Jesus Christus.  Kom ons wees die lig van die wêreld en die sout van die aarde.

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288