Tuesday 30 July 2013

Inspekteur Bybel: nie-veroordeling

Rom 16:17 En ek vermaan julle, broeders, hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer wat julle geleer het, en vermy hulle. 

Die Bybel leer ons dat ons afgesonder en eenkant geplaas is.  Dit is wat heilig beteken. God is heilig, daarom moet ons ook heilig wees, maw ons moet afgesonder en eenkant leef van die wêreld.  God kyk nie na sonde met enige verdraagsaamheid nie.  Dit geld vir ons ook.  As gelowiges is ons geroep om in gemeenskap met God te leef.

1 Joh 1:5 En dit is die verkondiging wat ons van Hom gehoor het en aan julle verkondig: God is lig, en geen duisternis is in Hom nie. 
6 As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie. 
7 Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde. 

1 Pet 1:15 Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word, 
16 omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig. 

Dit is die Bybelse leer van afsondering.  Dit vereis van gelowiges dat hulle ‘n duidelike onderskeid moet maak tussen lig en duisternis, die waarheid en leuens, dit wat reg en verkeerd is, die wêreldse manier en God se manier.  Ons kry ook die uitdrukking in Jak 4,

Jak 4:4 Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan ‘n vriend van die wêreld wil wees, word ‘n vyand van God. 

Hierdie skeiding van die wêreld het vir baie ‘n hindernis geword wanneer dit kom by evangelisasie werk.  En die wêreld het hierdie soort skeiding veroordeel en gesê, julle dink julle is beter as ons, maar dit is ‘n teken van swakheid.  Toe kom die nuwe moderne evangeliste en sê, om die evangelie meer effektief te kan verkondig, moet ons nader aan die wêreld kom.  Maw, ons moet nie afsonder en skei van die wêreld nie, maar ons moet meng met die wêreld.

En die oomblik wat dit gebeur, is die toestand gunstig vir die dwaling van nie-veroordeling.  Hierdie dwaling van nie-veroordeeling is hoe sektes en kultusse opereer. Dit is ‘n dwaling wat mense probeer stilmaak, wat hul geloof en praktyke vergelyk met die waarheid van die Skrif.  Die “emerging church/opkomende kerk” en ook die intergeloofs-ekumeniese beweging floreer op hierdie gebied.

Enigiemand wat begin om moeilike vrae te vra word beskuldig dat hy veroordelend is en dat hy verdeeldheid in die kerk veroorsaak.  So persoon word beskuldig dat hy nie ander mense ‘n kans gee om die Woord van God vir hulleself te interpreteer nie.  

Dit lei ook dan tot die volgende idee dat die Bybel relatief is.  Dit beteken dat ‘n sekere Bybel vers of gedeelte beteken nie dieselfde vir jou as wat dit vir my beteken nie.  Maw daar is nie een enkele betekenis van die teksgedeelte nie.  Die gedeelte het meer as een betekenis afhangende van jou omstandighede.

Die Rooms Katolieke het ‘n praktyk wat hulle noem lectio divina.  Dit is wanneer gelowiges aangemoedig word om stil te sit en ‘n teksvers oor en oor te herhaal in hulle gedagtes om so uit te vind wat daardie vers vir jou beteken.  Dit is ‘n subjektiewe vorm van interpretasie en sluit in kontemplasie en meditasie.

Luister! Wat die Bybel vers vir jou beteken is irrelevant.  Ons moet deur deeglike bybelstudie uitkom by dit wat die vers in werklikheid beteken en nie wat dit vir my beteken nie.  Die Bybel moet nie by ons aanpas nie, ons moet by die Bybel aanpas. Die Bybel bestaan uit objektiewe waarhede.  Dit is nie ‘n poëtiese verhaal waarvan die betekenis verander of wissel in ooreenstemming met jou ervaring, omstandighede en aanvoeling nie.

2 Tim 2:15 Lê jou daarop toe om jou beproef voor God te stel as ‘n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny. 

Daar is ‘n regte manier om die Bybel te interpreteer en ‘n verkeerde manier.  Ons kan nie die met God se Woord werk soos wat dit ons pas nie.  Verder sê die Bybel, 

2 Tim 4:2 verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; 

‘n Mens kan nie weerlê, bestraf of vermaan sonder om te oordeel nie.  Paulus gaan verder deur te sê,

3 want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, 

Paulus het geweet dat die laaste tydperk van die Kerk gaan gekenmerk word deur ‘n skerp toename in die getal van nominale Christene wat weier om die absolute gesag van die Bybel te aanvaar, maar verkies om eerder hul eie persoonlike weergawe van die Christelike geloof skep.

4 en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels. 

Die dwaling van nie-veroordeling sê dat ons net moet saamstem met die noodsaaklike dinge.  Met al die ander dinge in die Bybel wat nie so noodsaaklik is nie, moet daar vryheid wees.  Die vraag is: wie besluit watter leringe in die Bybel is noodsaaklik en watter is nie?  Die Bybel maak nie so onderskeid nie.

Alhoewel daar sekere waarhede in die Bybel is wat belangriker is as ander, is alle waarhede in die Bybel vir ons ewe noodsaaklik.  Ons kan nie net in sekere waarhede glo nie.  Ons moet alles glo wat God vir ons sê in Sy Woord.  Ons moet die hele raad van God, die hele skrif wat deur God ingegee is, bestudeer, verstaan, respekteer en onderhou.

Nie-veroordeling lei tot ‘n gebrek aan onderskeiding.  Wanneer iemand sê, “jy mag nie oordeel nie” het onderskeiding by die agter deur uitgeloop.  Een van die maniere hoe ons ons onderskeiding kan verloor is om verskonings te begin maak vir valse leraars.  Ons kan nie redeneer en sê, die goeie wat hulle doen is meer as die slegte nie.  Dit is juis wanneer ons luister na ander mense se woorde en dit nie weeg teen die Skrif nie, dat ons die deur oopmaak vir leuens.

En nog meer wanneer iemand sê, jy moet nie jou verstand gebruik nie.  Jou verstand is in die pad vir God om te werk.  Terwyl Jesus gesê het ons moet God liefhê met ons hele hart, siel en verstand.  Jy moet God liefhê met jou verstand.

Heb 5:13 Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ‘n kind is. 
14 Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei. 

Dit is die onvolwasse Christen wat nie kan onderskei nie.  Hulle is onervare in die woord van geregtigheid.  Hulle het nie die vermoë om te kan beoordeel nie.

1 Kor 2:15 Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie. 

KJV - But he that is spiritual judgeth all things, yet he himself is judged of no man. 

Het jy al gedink hoe dom klink dit om te sê: “Jy mag nie oordeel nie”?  Hierdie ou het moord gepleeg, jy mag nie sê hy het iets verkeerd gedoen nie.  Jy mag nie oordeel nie. Hierdie prediker preek valse leringe, jy mag nie sê hy is verkeerd nie.  Jy mag niks teen hom sê nie.  Jy mag nie oordeel nie.  Maw, wanneer iemand sê, jy mag nie oordeel nie, beteken dit eintlik, jy mag nie vir jouself dink nie.

Psa 37:30 Die mond van die regverdige verkondig wysheid, en sy tong spreek wat reg is.

KJV
Psa 37:30 The mouth of the righteous speaketh wisdom, and his tongue talketh of judgment.

Jesaja beskryf vir ons hoe ‘n volk lyk wat nie oordeel nie.

Jes 59:8 Die weg van vrede ken hulle nie, en daar is geen reg in hulle spore nie; hulle maak hul paaie krom, niemand wat daarop loop, ken die vrede nie.
9 Daarom is die reg ver van ons en bereik die geregtigheid ons nie; ons wag op lig, maar kyk, daar is duisternis; op ‘n helder skynsel, maar ons wandel in dikke donkerheid.

KJV
Isa 59:8 The way of peace they know not; and there is no judgment in their goings: they have made them crooked paths: whosoever goeth therein shall not know peace.
9 Therefore is judgment far from us, neither doth justice overtake us: we wait for light, but behold obscurity; for brightness, but we walk in darkness.

Hulle het geweier om te oordeel, daarom het hulle nie vrede gehad nie.  Paulus sê, 

1 Kor 6:5 Ek sê dit tot julle beskaming. Is daar dan nie eens een wyse onder julle, wat uitspraak sal kan doen tussen sy broeders nie?

KJV - I speak to your shame. Is it so, that there is not a wise man among you? no, not one that shall be able to judge between his brethren? 

Ons moet oordeel.  Ons moet onderskei.  Ons moet alles binne die gemeente toets teen die Skrif.  Dit is jou persoonlike verantwoordelikheid om alles te gaan beproef en alles te gaan ondersoek, om die geeste op die proef te stel om te sien of hulle uit God is of nie.

Hoe moet ons oordeel?

1. Oordeel volgens die Skrif:

Jes 8:20 Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle ‘n volk wat geen dageraad het nie.

Ons standaard is God se Woord, nie ons gevoelens, ons tradisie of ons eie opinies nie.  Reg en verkeerd word bepaal deur God se Woord.

2. Moenie oordeel as God se Woord stil daaroor is nie:

As God se Woord niks oor ‘n sekere saak sê nie, mag ons nie oordeel nie.  Moenie meer maak as wat die Woord sê nie.   Bv,

Kol 2:16 Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie,

Paulus sê hierdeur dat hierdie dinge nie so belangrik is nie en dat ons nie ‘n iets groots daarvan moet maak nie.

3. Bid vir goeie oordeel en onderskeiding:

Toe Salomo sy koninkryk gehad het, het hy God gevra,

1 Kon 3:9 Gee dus aan u kneg ‘n opmerksame hart om reg te spreek oor u volk (to judge thy people - KJV), om tussen goed en kwaad te onderskei, want wie sou hierdie talryke volk van U kan regeer?

Jak 1:5 sê dat as ons wysheid kort kom moet ons dit van God bid.

4. Moenie partydig wees nie:

Spr 24:23 Ook hierdie spreuke is van die wyse manne afkomstig. Om partydig te wees in die gereg, is verkeerd.

Almal moet regverdiglik behandel word en jy mag nie subjekief optree nie.  Jy moet blind wees en doof wees vir buite invloede (Jes 42:1, 19-21).

5. Oordeel in waarheid:

Moenie ander oordeel as jy nie al die regte feite agter mekaar het nie.

Jer 5:1 Swerf rond in die strate van Jerusalem, en kyk tog en verneem en soek op sy pleine of julle iemand vind, of daar een is wat reg doen, wat waarheid soek—dan sal Ek daaraan vergifnis skenk.

Iemand wat in waarheid oordeel is iemand wat die waarheid soek.

6. Oordeel met barmhartigheid:

Onthou die woorde van Jesus in Matt 7:2, “Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.”  Bewys barmhartig teenoor ander wanneer jy oordeel.

7. Moenie vergeet om jouself te oordeel nie:

1 Kor 11:30 Daarom is daar onder julle baie swakkes en sieklikes, en ‘n aantal het ontslaap.
31 Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie (For if we would judge ourselves, we should not be judged - KJV).

As jy ‘n ware Christen is, behoort jy aan God.  As jy weier om jouself te oordeel  met die doel om te groei in die Here, dan sal jy geoordeel word.  Oordeel jouself voordat jy ander oordeel.

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288