Monday 1 April 2013

Bestem tot verwoesting


Gal 1:6 Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ‘n ander evangelie toe, 
7 terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai. 
8 Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees! 
9 Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ‘n vervloeking wees! 

God het sekere dinge bestem tot vervloeking, tot verwoesting.  En wanneer God iets bestem tot verwoesting, dan sal Hy dit verseker.  Die Griekse woord hier is “anathema” wat gebruik word aan die einde van v8 & 9.  In die geskiedenis van God se handelinge met die mens, was daar altyd sekere dinge wat God met die banvloek getref het.  Kom ons kyk gou na ‘n illustrasie in die Ou Testament:

Jos 6:17 Maar die stad met al wat daarin is, moet ‘n banoffer aan die HERE wees; net Ragab, die hoer, mag lewe, sy en almal wat by haar in die huis is, omdat sy die boodskappers wat deur ons gestuur was, weggesteek het. 

KJV - And the city shall be accursed...

Maw die Here het Jerigo bestem tot vervloeking.  Hy het dit bestem tot die verderf.  Daar mag niks daarvan oorbly nie, behalwe Ragab en almal by haar in die huis.

Jos 6:18 Maar neem julle net in ag vir die ban, dat julle nie, terwyl julle met die banvloek tref, tog van die bangoed neem en die laer van Israel onder die ban bring en dit in die ongeluk stort nie. 

KJV - And ye, in any wise keep yourselves from the accursed thing, lest ye make yourselves accursed, when ye take of the accursed thing, and make the camp of Israel a curse, and trouble it. 

Hier, net in hierdie gedeelte kom die woorde “ban, banvloek, bangoed" ‘n paar keer voor.  Dit is iets wat God vervloek het.  En dit beteken dat God sal verseker dat dit vernietig sal word.  Hy het dit bestem tot verwoesting.

Jos 6:19 Maar al die silwer en goud en die koper— en ystervoorwerpe is heilig aan die HERE: dit moet by die skat van die HERE kom. 

Net dit wat geen waarde gehad het nie, moes vernietig word, maar in hoofstuk 7 gebeur daar ‘n interesante ding.

Jos 7:1 Maar die kinders van Israel het hulle vergryp aan die bangoed; want Agan, die seun van Karmi, die seun van Sabdi, die seun van Serag, van die stam van Juda, het van die bangoed geneem, sodat die toorn van die HERE ontvlam het teen die kinders van Israel. 

Instede dat hulle dit wat God vervloek het en wat God bestem het tot verwoesting uitlos, het hulle geding hulle kan daarvan red.  Daarom het die toorn van die Here oor hulle ontvlam.

Jos 7:11 Israel het gesondig en het ook my verbond oortree wat Ek hulle opgelê het, en ook geneem van die bangoed en ook gesteel en dit selfs heimlik by hulle goed gevoeg. 

En tensy hulle nie van die goed onslae raak nie, was God teen hulle.  Hulle moes die bangoed in die vuur verbrand en hulle heilig voor God.

Jos 7:25 En Josua het gesê: Hoe het jy ons in die ongeluk gestort! Die HERE sal jou vandag in die ongeluk stort! Daarop het die hele Israel hom gestenig, en hulle het hulle met vuur verbrand en klippe op hulle gegooi. 
26 En hulle het ‘n groot hoop klippe op hom gestapel wat tot vandag toe daar is. Toe het die HERE Hom afgewend van die gloed van sy toorn. Daarom noem hulle daardie plek Dal Agor tot vandag toe. 

Agor beteken ongeluk of ontsteltenis (troubled).  Daarom moet ‘n mens nooit enigiets te doen hê of raak aan dit wat God bestem het tot vervloeking of verwoesting nie.  Dit sien ons in die Ou Testament, maar ons sien dit ook in die Nuwe Testament.

Daar is ten minste twee dinge wat uitstaan bo alles oor dit wat God vervloek, twee dinge wat gesê word is ‘n anathema.  Maw dit is dinge wat God bestem tot verwoesting.  Dinge wat God vervloek het.  Die eerste een is valse leraars.  En dit is ook dan die konteks van Gal 1:6-9.  Twee keer in v8 & 9 sê God dat valse leraars is ‘n vervloeking.  Hulle word bestem tot verwoesting.  Hulle is ‘n anathema.

Nou, God het nog altyd so gevoel oor valse leraars.  God het hulle nog nooit verdra nie, selfs in die Ou Testament.  Maar in die Nuwe Testament sê God baie duidelik hoe Hy oor valse leraars voel.

Mat 24:24 Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei. 

Daar was nog altyd valse leraars gewees.  En in die laaste dae sal daar ook valse leraars wees, maar hulle gaan so slinks word in die laaste dae dat hulle selfs die uitverkorenes sal mislei.  Hulle gaan so clever raak.  Onthou dat die duiwel se primêre werk is om valse leuens te versprei.

Joh 8:44 Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ‘n leuenaar is en die vader daarvan. 

Die duiwel is die vader van leuens.  Hy opereer op die gebied van valse leringe.  En om dit te illustreer, kom ons kyk na ‘n paar gedeeltes in die Nuwe Testament.  In Hand 13 kry ons een van die duiwel se valse profete.  Hy was ‘n Jood met die naam van Bar-Jesus.  So Paulus sê vir hom,

Hand 13:10 Kind van die duiwel, vol van alle bedrog en alle listigheid, vyand van alle geregtigheid, sal jy nie ophou om die reguit weë van die Here te verdraai nie? 

Nou dit is die definisie van ‘n valse profeet.  Kind van die duiwel, vol van bedrog en listgheid.  Vyand van alle geregtigheid.  Iemand wat die weë van die Here verdraai.  Ons kry ook die voorbeeld van Simon die towenaar in Hand 9. 

Ons lees in 2 Thes 2 waar Paulus praat van die eindtyd, die tyd van die groot verdrukking, en hy sê dat daar gaan iemand kom, die afval, die seun van die mens, die mens van sonde, die seun van die verderf.  Dit is die antichrist.  En hy kom,

2 Thes 2:9 ...volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen. 
10 en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. 

So nog ‘n kenmerk van ‘n valse profeet is, wel in die geval, die antichris, is hy kom om te verlei.  ‘n Valse profeet verlei mense.  Dit is die plek waar die duiwel besig is.  Hy was van die begin af ‘n leuenaar en ‘n verleier en dit het nooit verander nie.  Hy word in Op 12:9 beskryf as die ou slang, die duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei.  Dit is sy besigheid, dit is wat hy doen.

Verleiding ies nie iets wat waarskynlik gebeur nie.  Daarom beskryf die Bybel hom as iemand wat soos ‘n wolf in skaapsklere kom.  Op die oppervlak sien ‘n mens nie die verleiding kom nie.  Hy is ‘n veleier.

Op 13:14 En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen...

Jy sal verbaas wees hoe soveel mense in die geskiedenis geglo het dat God besig was om iets te doen omdat daar ‘n wonderwerk plaasgevind het.  En vandag glo mense dat elke keer wanneer daar ‘n wonderwerk plaasvind, dat dit God is.  Dit is nie noodwendig so nie.  2 Thes 2 sê die antichrist doen allerhande kragtige dade en tekens en wonders van leuen.  Jesus sê in Matt 24 dat die valse christusse en valse profete sal tekens en wonders doen.

Hy werk ook nie alleen nie, maar het baie leuen geeste wat saam met hom werk, demone, vervalle engele.  En hulle werk gewoonlik deur mense.  Hulle gebruik mense.  En luister, om nog ‘n stap verder te gaan, hulle gebruik godsdienstige mense.  

En hy is subtiel.  Jy sien, as die Satan die waarheid gaan verdraai, moet hy eers in die waarheid kom.  Hy gaan staan nie aan die buitekant en skree op die waarheid nie.  Hy moet in die waarheid kom en dit van binne af verdorwe maak.  En om dit te doen moet hy voorkom as iemand wat goddelik en baie godsdienstig is.  Maar al wat hy doen is om saad van gruwelike dwalinge te saai.

2 Kor 11:13 Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. 

Het jy dit gesien?  Hulle verander hulleself in apostels van Christus.  Luister!  Die duiwel gaan so ver as moontlik probeer om soos ‘n Christen te wees.  Dit is die verleiding.  Dit is die subtieliteit.   En dan sê hy verder, 

2 Kor 11:14 En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig. 

Wat sê Paulus?  Hy sê, moenie verbaas wees nie, moenie verwonderd wees nie.  Dit is hoe hy werk.  En dit is hoe die duiwel nog altyd gewerk het.

2 Kor 11:15 Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke. 

Hoe gebeur dit dan dat selfs Christene mislei word?

2 Kor 11:3 Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. 
4 Want as iemand kom en ‘n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ‘n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ‘n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval. 

Hulle laat toe dat valse profete hulle kom bedrieg.  Hulle laat toe dat ‘n ander Jesus, ander gees en ‘n ander evangelie aan hulle verkondig word.  Hulle laat dit goed geval, maw hulle verdra dit.  Die engels sê, they bear with him.  So hoe word Christene bedrieg en mislei?  Hulle verdra die valse profete wat hulle kom vervreem van die opregtheid, van die eenvoudigheid, from the simplicity that is in Christ.

Let op!  Hulle preek nie Boeda en Mohammed of Alah nie.  Hulle preek ‘n ander Jesus, ‘n ander evangelie en ‘n ander gees.  As iemand Jesus preek, beteken dit nie hy preek die regte Jesus nie.  Daar is baie verskillende Jesus’se wat vandag gepreek word.  Baie mense sal vir jou sê, Ek glo in Jesus, maar die vraag way jy moet vra is, in watter Jesus glo hy?

Nou met dit in gedagte kom ons by Galasiërs en ons sien dat die valse leraars het maar dieselfde gedoen in die gemeentes van Galasië.  Hulle het in die gemeentes saad van valse leringe gesaai.  Hulle het probeer om wette by genade te voeg.

Luister!  Ek dink nie daar was enigiets in Paulus se lewe wat hom meer bang gemaak het soos valse leringe nie.

Hand 20:29 Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. 

Hy het net geweet dit gaan gebeur.  Hy het geweet daar gaan wrede wolwe onder hulle inkom.  Hoe het hy dit geweet?  Hy het geweet hoe die duiwel werk.  Hy het geweet die duiwel doen hom voor as ‘n engel van die lig.  Hy kom altyd om te verlei.  En hy kom altyd in die plek waar God werk.  En dit is vir hom die hartseer van dit alles.  Hy het geweet hoe die duiwel werk.  Dan sê hy,

Hand 20:30 Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan. 

So Satan infiltreer die kerk om dit te verlei.  En die enigste ding wat hom kan stop is v32,

Hand 20:32 En nou, broeders, dra ek julle op aan God en aan die woord van sy genade...

So Paulus was bang vir hierdie valse leraars.  Hy het geweet hoe die duiwel werk.  En daarom skryf hy hierdie brief aan die gemeentes van Galasië.  

Die primêre teiken van valse leraars is die leer oor saligheid.  Hoekom?  Want dit is die enigste manier om te verseker dat iemand se siel verlore gaan, weg van God af.  Ek dink nie duiwel spandeer soseer soveel tyd aan ander teologiese dinge nie.  Sy hoofdoel is om mense in die hel te kry en daarom verdraai hy die leringe wat gaan oor jou saligheid.  

As jy nooit by die waarhede van saligheid uitkom nie, beteken die res nie veel nie.  Daarom konsentreer hy primêr saligheid.  Wat was Paulus se boodskap oor saliheid?  Saligheid is uit genade.  Niks meer nie.  So wat dink jy gaan die valse leraars sê?  “Saligheid is nie uit genade nie”.  Nee!  Hulle gaan nie dit sê nie.  Wat sê hulle?  Saligheid is uit genade EN...  Saligheid is uit genade PLUS.  En dit is verleiding.  Dit is subtiel.

So luister na predikers vandag en hulle praat oor die genade van die Here en dit klink alles reg en goed, maar dan kom hulle en voeg ‘n paar dinge by.  Hulle voeg wette by.  En dit is hoe ‘n kultus werk.  Hulle is gewoonlik 8 uit 10 keer reg.  Met baie dinge is hulle reg, maar wanneer dit kom by die leer oor saligheid, dan is hulle verkeerd.

Valse leraars mag dalk valse leringe preek oor die kerk of die Christen lewe en oor baie ander dinge, maar hulle preek primêr ‘n valse lering oor saligheid.  Hulle hou mense uit die Koninkryk van God uit.  Kyk gou na 2 Pet.

2 Pet 2:1 Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees...

So daar was nog altyd en sal altyd valse profete wees en dit sê nie hulle sal julle aanval nie.  Dit sê hulle sal onder julle wees.  Die duiwel sit nie ‘n sign buite die kerk op wat sê “moenie hier kom nie, hulle leer nie die waarheid nie, geteken deur die duiwel.”  Nee!  Hy plaas mense binne in die kerk wat van binne af dwalinge verkondig.  Hy gee nie homself weg nie.

Daarom sê die Bybel moet ons die geeste op die proef stel of hulle uit God is.  Want een van die dinge wat valse profete onder die gemeente doen, dit is hulle,

... wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ‘n vinnige verderf oor hulleself bring; 

So een ding wat die valse profete doen is hulle verloën die Here wat die kerk gekoop het, maw hulle verloën die godheid van Jesus Christus.  Hulle beroof Jesus gewoonlik van Sy uniekheid as God wat mens geword het.  Dit is onvermydelik.  

En wanneer iemand ooit dit doen, is daar niks van verdraagsaamheid nie.  Dit is die tyd wanneer jy omdraai en wegloop.  Dit is ‘n valse sisteem.  In elke valse sisteem verloën hulle die Here wat hulle gekoop het.  En daardeur bring hulle ‘n verderf oor hulle.  Hulle bring verwoesting oor hulle.

2 Pet 2:2 en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word; 

Wat interesant is oor valse leraars is dat hulle meer geïntereseerd is in populariteit as in die waarheid.  Al waarin hulle belangstel is die skare.  Hulle stel nie belang in die waarheid nie.  Hulle soek net die grooste skare as wat hulle kan kry.  Hulle gebruik vermaaklikheid om die mense te trek.  En dit is wat in die gemeentes van Galasië gebeur het.

Gal 6:12 Almal wat ‘n mooi vertoning in die vlees wil maak, dié dwing julle om julle te laat besny net om nie ter wille van die kruis van Christus vervolg te word nie. 

Dit gaan oor die ‘glory’, dit gaan oor die populariteit.  En dit gaan ook oor geld.  So waar kry ek dit?

Mig 3:11 Sy hoofde spreek vonnisse uit vir ‘n geskenk, en sy priesters gee onderrig vir loon, en sy profete is waarsêers vir geld. Nogtans steun hulle op die HERE en sê: Is die HERE nie in ons midde nie? Geen onheil sal ons wedervaar nie! 

Hulle vat die geld en dan sê hulle, dit is die Here en dit is ‘n bewys dat die Here in hulle midde is en geen onheil sal hulle wedervaar nie.  En wat ook waar is van valse profete, is dat hulle privaat lewe is vol sonde.  Jy kan nie ‘n lewe van geregtigheid lewe as jy ‘n lering van ongeregtigheid verkondig nie.  Valse leringe sal jou nooit help om sonde te oorwin nie.  

Die enigste bron van krag tot ‘n rein lewe en ‘n lewe van geregtigheid is in die waarheid van Jesus Christus.  As jy nie in die waarheid lewe nie, sal jy niks hê om jou te help om ‘n rein lewe te leef nie.  So geestelike as wat hulle lyk, is hulle in werklikheid besig om ook ander verder weg van God te lei.  Dit is hoekom v2 sê dat om hulle ontwil die weg van die waarheid gelaster word.

2 Pet 2:3 en uit hebsug sal hulle met verdigte woorde voordeel uit julle trek. Oor hulle is die oordeel van lankal af nie werkeloos nie, en hulle verderf sluimer nie.  

Sit net jou TV aan en kyk die Christelike kanale dan sal jy sien.  En God bestem hierdie valse leraars tot verwoesting.  God gaan hulle nie spaar nie.  Hoekom nie?  

2 Pet 2:4 Want as God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle in die hel gewerp en aan kettings van duisternis oorgegee het, om vir die oordeel in bewaring gehou te word; 

2 Pet 2:12 Maar hulle sal, omdat hulle belaster wat hulle nie ken nie, soos redelose diere wat die natuur volg, gebore om gevang en vernietig te word, in hulle verdorwenheid te gronde gaan 

Dit is baie ernstige dinge wat hy hier sê.  Hier kom ‘n ou en hy is so nice en die mense hou van hom, maar hy begin dwalinge verkondig en Petrus sê, noem hom wat julle wil, hy is ‘n redelose dier wat verdien om in verdorwenheid te gronde te gaan.  Dan sê Petrus, hulle is skandvlekke, hulle is smette.  Hy sê hulle is kinders van die vervloeking.

Ons moet nie so gepla wees met Jehovah’s en Moslems en Hindoes nie.  Ons moet eerder gepla wees oor die valse leraars wat onder die naam van Christenskap optree.

2 Pet 2:17 Hulle is waterlose fonteine, miswolke voortgedrywe deur ‘n stormwind, vir wie die donkerheid van die duisternis vir ewig bewaar word. 

En as jy die hele gedeelte verder lees sal jy sien dat die Bybel het geen verdraagsaamheid teenoor valse leraars nie, maar net ernstige aantuigings.

So Paulus het met die valse leraars in Galasië te doen.  Dit was vir hom baie erg.  Hy stig die gemeente, gaan op ‘n sendingreis, dan kom ander ouens en leer dwalinge.  En hy spreek hom uit teen die Judaïseers.  Hulle was Jode met Christenskap te doen gehad het.  Hulle het gesê hulle glo in Jesus as die Messias, maar hulle het gesê al hoe jy ‘n Christen kon wees, was om eers ‘n Jood te word.  Jy moet eers die wet onderhou.  Jy moet eers besny word.

Hulle het werke by die genade van die Here gevoeg.  Dit is nie net genade nie, maar dit is genade PLUS.  Dit is genade plus werke.  En toe Paulus hierdie brief skryf aan die gemeentes van Galasië, was hulle reeds vasgevang in wettisisme.  

Gal 1:6 Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ‘n ander evangelie toe, 

Ek is seker dat sommige van hierdie Judaïseers was opreg.  Maar hulle was opreg verkeerd.  ‘n Mens kan opreg wees, maar ook opreg verkeer wees.  Hulle wou van die heidene Jode maak.  Hulle sê, as julle nie besny word nie, as jy nie ‘n Jood word nie, kan jy nie gered word nie. En waaroor gaan dit?  Dit gaan oor trots.  En dit is wat Paulus gesê het in Gal 6:12 soos wat ons vroeër gelees het.

In Hand 15 het Petrus en Jakobus hieroor gepraat in Jerusalem.  

Hand 15:11 Maar ons glo dat ons deur die genade van die Here Jesus Christus gered word op dieselfde manier as hulle ook. 

Jy sien.  Dit is genade en niks meer nie.  Hulle het dit daar gesettle, maar dit het nie die monde van die valse leraars gestop nie.  Paulus was verwonder dat hulle so gou afvallig geword het.  Hy kan dit nie glo nie.  Hy kan nie glo dat dit so gou gebeur het nie.  Paulus sê nie, “hi, julle is sulke oulike mense, ek is lief vir julle nie.  Nee!  Hy kom reguit op hulle af.  “Ek verwonder my”.  Hoe kon julle?  Hoe kon julle hierdie genade van Christus so verloën.  Paulus is nie verdraagsaam met hulle nie.

‘n Mens kon vra, hoekom was hy so verbaas?  Het hy nie so iets verwag nie?  Verseker.  Hy was nie verbaas oor die valse leraars nie.  Maar hy was verbaas dat die Galasiërs so maklik vir hulle geval het.

Dit is hoekom dit so nodig is dat ons die waarheid oor en oor moet herhaal.  Hoekom is dit belangrik dat jy week na week kerk toe moet gaan?  Hoekom is dit belangrik dat ons oor en oor die waarheid moet herhaal?  Hoekom?  Want mense vergeet so gou.  Paulus was ‘n goeie leraar, maar ten spyte daarvan het die valse profete gekom en so gou alles om ver gegooi.

Die woord “afvallig” is die Griekse woord “metatithemi” wat letterlik beteken om af te wyk.  Dit beteken om te verraai.  Hy sê vir hulle, hulle is verraaiers.  Hulle het die evangelie van genade verraai.  Paulus noem dit die genade van Christus.  Dit beteken God deur Sy genade Sy Seun gegee om te sterf.  God roep ons tot Hom deur genade.  God regverdig ons deur genade wanneer ons glo.

Ef 2:8 Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; 

Jy het niks gedoen om gered te word nie.  Jy het nie werke gedoen om deur God aanvaar te word nie.  Al wat jy gedoen het is om op God se versoenings offer te reageer en dit te aanvaar deur te glo.  Jy sien, as jy genade vat en enigiets daarby voeg, dan is dit nie meer genade nie.  En dit is wat die duiwel doen.  Hy voeg dinge by die genade van God.

Een druppel van wettisisme in die glas water van genade, kan jou doodmaak.  Net een druppel.  En Paulus gaan nie een druppel gif van wettisisme verdra nie.  En ons moet ook nie.

Gal 1:6 I marvel that ye are so soon removed from him that called you into the grace of Christ unto another gospel:

“Julle verwyder” julleself van hom wat julle geroep het.  Julle verwyder julle nie van ‘n sisteem of van godsdiens nie.  Julle verwyder julle van Hom, van Christus.  As jy jou rug draai op genade, draai jy jou rug op God.

Gal 5:4 Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval. 

KJV - Christ is become of no effect unto you, whosoever of you are justified by the law; ye are fallen from grace. 

Om afvallig te wees, beteken om van die genade te verval.  Dit sê nie jy verloor jou saligheid nie.  Dit sê, as jy probeer om gered te word deur die wet, het jy van die genade verval en die werk van Christus beteken niks vir jou nie.  Daarom het jy van God weggedraai wat jou deur genade geroep het.

Gal 1:6 sê hulle het afvallig van God geword na ‘n ander evangelie toe.  Hulle het ‘n ander evangelie aanvaar.

Gal 3:1 o, Onverstandige Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig? 

En Paulus het nie hier met iets nuuts te doen nie.  Dit is iets waarmee die profete regdeur geskiedenis te doen gehad het.  Jesaja, Jeremia.  Mense het altyd agter ander gode aangeloop.  Paulus noem dit ‘n ander evangelie.  Dit maak nie saak wat enige iemand sê nie, as jy enigiets by die genade voeg, dan is dit ‘n ander evangelie.

Gal 1:7 terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai.

Daar is geen ander evangelie wat jou kan red nie.  Daar is net een ware evangelie.  Die evangelie van die genade van Jesus Christus.  Wanneer jy iets byvoeg by genade dat is jy besig om die evangelie van Christus te verdraai.  Die woord letterlik beteken om dit om te draai.  Jy draai dit heeltemaal om en vernietig dit.

Gal 5:2 Kyk, ek, Paulus, sê vir julle dat as julle jul laat besny, Christus vir julle tot geen nut sal wees nie. 

So die kerk se grootste vyand is nie hulle wat die kerk openlik teëstaan nie, maar dit is hulle wat binne in die kerk is wat die Woord van God verdraai en verander.

Paulus gee ‘n waarskuwing.

Gal 1:8 Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees! 
9 Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ‘n vervloeking wees! 

Laat so iemand ‘n vervloeking wees.  Maar Pastoor jy mag nie oordeel nie.  En elke keer as ek dit hoor, wil ek deur die dak spring.  Hoe op dees aarde gaan jy onderskei en geeste op die proef stel en alles beproef en regverdig oordeel as jy nie mag oordeel nie.  Die Bybel sê, laat hom ‘n vervloeking wees.  Wat van verdraagsaamheid?  God verdra nie.  Hoekom sal jy?

Dit maak nie saak wie dit verkondig nie.  Jy verwerp dit.  Laat hom ‘n anathema wees.  God het so iemand bestem tot verwoesting.  Moenie luister nie.  Moenie verdra nie.  Die Bybel is duidelik.  Hardloop weg van valse leraars.

Ek het in die begin gesê daar is twee dinge in die Nuwe Testament wat God bestem tot verwoesting.  Die eerste is valse leraars en die tweede kry ons in 1 Kor 16:22

1 Kor 16:22 As iemand die Here Jesus Christus nie liefhet nie, laat hom ‘n vervloeking (anathema) wees! Maranáta! 



No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288