Monday 1 April 2013

Die verborgenheid van Christus in ons


Kol 1:26 naamlik die verborgenheid wat van die eeue en geslagte af verborge was, maar nou geopenbaar is aan sy heiliges, 
27 aan wie God wou bekend maak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid. 
28 Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan en elke mens in alle wysheid onderrig, om elke mens volmaak in Christus Jesus voor te stel; 
29 waarvoor ek arbei en stry volgens sy werking wat in my werk met krag. 

Wat is die inhoud van ons bediening?

Maw, wat sê ons?  Wat verkondig ons?  Wat is die boodskap van ons bediening?

Kol 1:26 naamlik die verborgenheid wat van die eeue en geslagte af verborge was, maar nou geopenbaar is aan sy heiliges, 

Verborgenheid is iets wat weggesteek is.  Hierdie verborgenheid was weggesteek vir eeue en vir geslagte.  Maar nou is dit geopenbaar aan sy heiliges.  

So wat is die boodskap?  Dit is die verborgenheid.  Ons moet mense die verborgenheid leer.  Wat is dan hierdie verborgenheid wat ons mense moet leer?  Kom ek verduidelik.

Eestens, God het altyd sekere geheime gehou.  Daar was altyd sekere dinge wat net Hy geweet het.  En alhoewel die Bybel al die geestelike waarhede het wat ek en jy nodig het, is daar baie dinge wat ons nooit sal weet of nou hoef te weet nie.

Deut 29:29 Die verborge dinge is vir die HERE onse God; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid, om te doen al die woorde van hierdie wet. 

Jy sien, die verborge dinge behoort aan die Here.  God het geheime wat Hy met niemand deel nie.

Tweedens, het God sekere dinge geopenbaar aan sy mense deur die geskiedenis.  Nie aan almal nie, maar net ‘n sekere groep mense.  Wie is hierdie groep dan?

Psa 25:14 Die verborgenheid van die HERE is vir die wat Hom vrees, en sy verbond om hulle dit bekend te maak. 

Spr 3:32 …sy verborgenheid is met die opregtes. 

Daar is sekere dinge wat net God weet en daar is sekere dinge wat Hy net aan sekere mense openbaar.  Wie is hulle?  Die regverdiges.  Dit is hulle wat in God glo.  Dit is hulle wat hulleself aan God toewy.  

Derdens is daar sekere geheime wat God vir almal verberg het in die verlede en Hy het dit eers in die Nuwe Testament aan die gelowiges geopenbaar.  Dit is die verborgenheid waarvan Paulus hier in Kolossense praat.  Hierdie is dinge wat nie in die Ou Testament geopenbaar was nie, maar nou eers in die Nuwe Testament aan die gelowiges geopenbaar is.  Kyk nou weer na v26:

Kol 1:26 naamlik die verborgenheid wat van die eeue en geslagte af verborge was, maar nou geopenbaar is aan sy heiliges, 

Wat is hierdie verborgenheid?  Dit is die Nuwe Testament.  Die openbaring van Christus wat vlees geword.  Die boodskap van God wat mens geword het.  God in ‘n menslike liggaam.  Die verborgenheid is dan ook die volle openbaring van die Nuwe Testament.

Moet ons dan die Ou Testament leer?  Ja, beslis.  Die Nuwe Testament maak die Ou Testament sinvol.

Ons boodskap sê juis dit, dat die Ou Testament se beloftes het in die Nuwe Testament in Christus waar geword.  Dit is die verborgenheid.  Dit is wat weggesteek was en nou geopenbaar is.

Paulus verwys nie hier na een of ander geheime kennis of mistiese ding nie.  Die verborgenheid is eerder iets in die verlede wat weggesteek was, maar nou in die Nuwe Testament geopenbaar is.

Kol 1:27 aan wie God wou bekend maak wat die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid onder die heidene is, dit is Christus onder julle, die hoop van die heerlikheid. 

KJV – To whom God would make known what is the riches of the glory of this mystery among the Gentiles; which is Christ in you, the hope of glory: 

Christ in you, the hope of glory.  Die Afrikaanse vertaling sê, Christus onder julle, maar ‘n korrekte vertaling sou wees:  Christus in julle, die hoop op heerlikheid.  Dit is die verborgenheid waarna Paulus verwys: Christus in julle.

In die Ou Testament het die Jode geweet dat die Messias gaan kom.  Wat hulle nie geweet het nie, was dat die Messias nie net sal kom nie, maar dat Hy ook in die mens sal woon.  Hulle het nie geweet dat ons liggaam sal die tempel wees waarin God woon nie.  Dit was vir hulle verborge.  En dit is die boodskap van ons bediening.  Dit is die boodskap wat ons moet verkondig.  Christus in jou, die hoop op heerlikheid.

V27 sê God wil hê ons moet die rykdom van die heerlikheid van hierdie verborgenheid weet.  Paulus gebruik die woord rykdom en hy hou daarvan om oor rykdom te praat.  Alhoewel Paulus niks gehad het nie, het hy gedink hy was baie ryk.

Hy het maar tente gemaak vir ‘n lewe, en tog praat hy van hoe ryk hy is.  Ryk waarvan? Nie van geld en besittings nie, maar van die heerlikheid van die verborgenheid, en wat is dit? Christus in ons.  Wat beteken dit?  Dit beteken, as jy Christus het, dan is jy ryk.  Ek is ryk!

Dit is die verborgenheid wat die Jode nie in die Ou Testament geweet het nie – die rykdom van die heerlikheid onder, wie?  Onder die heidene.  En dit is ons.  Dit is die kerk.  Christus wat in ons woon, in Sy kerk.  Hoe ryk is ons nie? Hoe ryk het ons nie geword nie?

Ef 1:18 verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping en wat die rykdom van die heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges is; 

Ef 3:16 dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens, 

Ons is ryk omdat Christus in ons woon.  En dit is die boodskap van ons bediening.  Dit is die inhoud van ons bediening.  Hey!  Het jy geweet dat God binne in jou wil woon?  Wat ‘n wonderlik realiteit.

Ef 3:4 waardeur julle, as julle dit lees, my insig in die verborgenheid van Christus kan verstaan, 
5 wat in ander tye aan die mensekinders nie bekend gemaak is nie soos dit nou aan sy heilige apostels en profete geopenbaar is deur die Gees, naamlik 
6 dat die heidene mede-erfgename is en medelede van die liggaam en mededeelgenote aan sy belofte in Christus deur die evangelie 

Dit is ons boodskap.  Ons moet vir die wêreld vertel dat God in hulle wil woon.  Wil jy ryk wees?  Dan moet God in jou woon.  As jy soek na ‘n goddelike bron om vanuit te lewe, as jy soek na goddelike simpatie wanneer jy misluk, as jy soek na ‘n kragbron, as jy soek na verstand, as jy soek na saligheid, as jy soek na ‘n hoopvolle toekoms, luister! God wil in jou woon.  Wat meer wil jy hê?

Dit is ons boodskap.  Ons hardloop nou nie die hele wêreld vol en vertel almal hoe hulle ‘n beter lewe kan hê nie.  Ons forseer nie op almal een of ander ritueel en ‘n self-uitgewerkte alternatiewe lewenswyse nie. Nee! Ons sê, God wil binne in jou woon.  Ons is ryk, want Christus woon in ons.  

Kol 2:3 in wie (en dit verwys na Christus) al die skatte van wysheid en kennis verborge is. 

In Christus is alle wysheid en kennis en waar woon Hy?  In my, in jou.  Wat ‘n ongelooflike bron.

Rom 11:33 o Diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë! 

Hy is so ryk in wysheid en kennis.  Hy is so ryk in barmhartigheid.  Hy is so ryk in genade.  Hy is so ryk in liefde.  Hy is so ryk in alles.  En Hy deposit dit alles in ons.  Dit is ‘n ongelooflike realiteit.  

Die slim ouens sê jy gebruik net 1% van jou brein.  Wat ‘n ongelooflike mors van potensiaal.  Dink net daaraan in jou geestelike lewe, om die lewende God te hê wat binne in jou woon en dan leef sommige Christene nog in ellende.  Hulle lewe soos armsaliges.  Paulus bid in Ef 3:19 dat julle vervul kan word tot al die volheid van God.  Die volheid van God woon in julle.  Dit is ons boodskap, dit is die inhoud van ons bediening.  

Ef 3:17 sê dat Christus woon in julle harte.  Die lewende God.  Hoe meer jy daaraan dink, hoe meer ongelooflik word dit vir jou.

Joh 14:17 sê die Heilige Gees sal by julle bly en in julle wees.  V23 sê, As iemand My lief het, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.

Rom 8:9 julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie. 
10 Maar as Christus in julle is, dan is die liggaam dood vanweë die sonde, maar die gees is lewe vanweë die geregtigheid. 

Luister!  As jy ‘n wedergeborene is, dan woon die Gees van God in jou, jy het die Gees van Christus en v10 Christus is in julle.  Hy sê dit op drie maniere.  Die Gees van God, die Gees van Christus en Christus in julle.  Wat ‘n ongelooflike realiteit.

2 Kor 6:16 sê, julle is die tempel van die lewende God.  Hy sê, Ek sal in julle woon en onder julle wandel.  Paulus sê, Ek is met Christus gekruisig, en ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my.  Dit is die boodskap van ons bediening en dit is die hoop van die heerlikheid.

Nou wat beteken dit as ons sê, die hoop van die heerlikheid?  Dit beteken dat al die heerlikheid wat ooit kon gewees het, sal alleen joune wees wanneer Christus in jou is.  Die enigste hoop vir heerlikheid nou, of die toekoms, of enige tyd, onder enige omstandighede is wanneer Christus in jou woon.  Dit is die boodskap.

Hoe moet ons hierdie boodskap van Christus in ons verkondig?

Kol 1:28 Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan en elke mens in alle wysheid onderrig, om elke mens volmaak in Christus Jesus voor te stel 

Terwyl ons elke mens vermaan en elke mens in alle wysheid onderrig.  Die KJV sê, warning every man, and teaching every man in all wisdom.  Stop eers daar!

Hoe doen ons dit?  Wat is die metode?  Paulus sê, Hom verkondig ons…die Griekse woord “katagello” beteken om te proklameer of om te verkondig.  

Paulus sê nie jy moet stilbly en net jou Christenskap uitleef nie.  Paulus sê, maak oop jou mond.  Proklameer die waarheid.  Ja, jy moet so lewe dat mense deur jou lewenswyse aangeraak word, maar jy moet ook jou mond oopmaak.  

Die voorbeeld wat jy leef is belangrik, maar niemand gaan jou volg tot in die Koninkryk as jy nie jou mond oopmaak nie.  Verkondiging.  Katagello.  Dit is wat hoe ons die boodskap oordra.

2 Tim 4:2 verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering 

Verkondiging is nie noodwendig formele prediking nie, dit beteken eenvoudig om die waarheid te spreek.  En hierdie verkondiging bestaan uit twee komponente: ‘n negatiewe komponent naamlik waarskuwing of vermaning en dan ‘n positiewe komponent naamlik lering, om elke mens in alle wysheid te onderrig.

Hoe verkondig ons?  Deur mense te waarsku en deur mense te onderrig.  Vermaning is die woord “noutheteo” wat beteken om baie mooi vir iemand te sê, pasop!  Doen dit in sagmoedigheid, maar ferm.  Elke Christen het hierdie verantwoordelikheid.

Kol 3:16 Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar… 

Rom 15:14 Maar ek self ook, my broeders, is oortuig aangaande julle, dat julle self ook vol van goedheid is, vervuld met alle kennis, in staat om ook mekaar te vermaan. 

Ons moet mekaar vermaan.  Ons moet mekaar waarsku.  As daar sonde in ‘n gelowige se lewe is, moet ons so ‘n persoon in liefde waarsku, met sagmoedigheid.  Dit is ons verantwoordelikheid.  Dit is elke dienaar se plig.  Dit is my verantwoordelikheid.  Paulus sê, 

1 Thes 5:12 Maar ons vra julle, broeders, erken die wat onder julle arbei en julle voorgangers in die Here is en julle vermaan; 

Dit is my werk om jou te vermaan en jou te waarsku.  Ek moet jou oor sonde waarsku.  Ek moet jou oor valse leringe waarsku.  Ek moet jou oor die gevolge van ongehoorsaamheid waarsku, oor die gevolge van geestelike luiheid, om die wil van God te mis.  Ek moet jou waarsku net soos wat ons ons eie kinders sou waarsku omdat ons hulle liefhet.

Die tweede komponent is lering.  Dit is die positiewe kant van verkondiging.  Ons moet vermaan, maar ons moet ook leer.  Ons moet die Woord van God leer.

Maw wat behels ons verkondiging?  Dit behels waarskuwing en lering.  Of dit vir die ongelowige, of vir die gelowige.  Vir die ongelowige, “Jy weet as jy aangaan soos jy nou lewe, en aanhou om Christus te verwerp, wil ek jou waarsku van dit wat met jou gaan gebeur.” Dit is waarskuwing.  Dan moet jy daardie ongelowige leer wat om te doen.

Dit is van toepassing op die kerk ook.  Wanneer ‘n christen sonde doen, moet jy hom waarsku en dan reg leer.  Hierdie twee komponente, vermaning en lering is altyd deel van verkondiging.  

En let op wat ons moet leer!  Ons moet Kol 1:28…elke mens in alle wysheid onderrig.  Net dit wat jy dink belangrik is.  Nee!  Net sekere dinge.  Nee!  Alle wysheid.  Jy moet niks uitlos nie.  Paulus sê, ek het nie nagelaat om vir julle die hele raad van God te verkondig nie.  Wysheid verwys hier na geestelike beginsels.  Dit is hoe ons ons bediening moet uitleef.

Weet julle wat is ons almal?  Hier is dit?  Ons is almal proklameerders.  Ons is almal verkondigers.  Sommige van ons staan hier bo op die kansel en proklameer.  Sommige van ons gaan daar buite en proklameer.  Maar ons almal moet die Woord verkondig.

En die maniner hoe ons dit moet doen is om te vermaan en te leer.  Dit is baie belangrik.  God het ons almal geroep om te proklameer, maar wat moet ons proklameer?  Die verborgenheid van Christus in jou en alles wat dit beteken.

Hoekom is dit dan so belangrik dat ons dit sal doen?

Kol 1:28 Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan en elke mens in alle wysheid onderrig, om elke mens volmaak in Christus Jesus voor te stel

Maw aan wie moet ons Hom verkondig?  Aan elke mens.  Aan almal.  Luister!  Kom ons wees proklameerders.  Kom ons gaan verkondig die Woord.  Ons moet die hele Woord van God verkondig.  Daarom moet ons altyd gereed wees om ‘n antwoord te kan gee vir die hoop wat in ons is.

Hoekom moet ons al hierdie dinge doen?

Wanneer alles gesê is en alles gedoen is, wat bring dit alles mee?  Wat is die doel van dit alles?

Kol 1:28 Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan en elke mens in alle wysheid onderrig, om elke mens volmaak in Christus Jesus voor te stel

Die einde waarna ‘n dienaar van Christus moet strewe is om elke mens volmaak aan Christus voor te stel.  Die Griekse woord vir volmaak is “teleios” en dit beteken om iemand volkome of as ‘n volwassene aan Christus voor te stel.

Maw, wat is die doel van ons bediening?  Die volwassenheid van gelowiges.

Ef 4:11 En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, 
12 om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, 
13 totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot 'n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus; 

Ons moet nie net mense na Christus toe bring en hulle los nie.  Ons moet hulle leer en hulle begelei na na volwassenheid.  Sodat hulle ook kan produseer, sodat hulle ook die woord kan verkondig in alle wysheid.

Wat beteken volwassenheid?  Dit beteken om soos Christus te wees.  Is iemand al daar?  Nee!  Maar is jy oppad?  Hoop so.  Nou hoe kom ek daar, hoe groei en na volwassenheid?

2 Tim 3:16 Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, 
17 sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus. 

Hoe kom ek daar?  Wel, jy is oppad soontoe wanneer jy die Bybel vat en dit deel maak van jou hele lewe.  Hierdie is jou kos.  Hoe groei ‘n babatjie?  Vanself…jy moet hom net kos gee.  Hy moet eet, dan groei hy.

‘n Christen groei na volwassenheid omdat hy voed op die Woord van God.  Jesus het gesê, jy sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat uit die mond van God uitgaan.

Ek glo dit was Epafras se begeerte.  Dit is hoekom hy Paulus in die gevangenis gaan sien het.  Dit is wat ek lees in:

Kol 4:12 Épafras wat een van julle is, 'n dienskneg van Christus, groet julle en stry altyd vir julle in die gebede, dat julle volmaak en volkome mag staan in die ganse wil van God. 

Dit is sy begeerte vir sy gemeente.  En ‘n ware dienaar van Christus sal ook dit begeer vir sy gemeente.  Dit is ook nie net sy begeerte vir sekeres nie, maar vir elkeen.

Luister!  Die Here Jesus Christus kan elkeen van julle hier volkome maak.  Daar is een realiteit vir ons almal en dit is Jesus Christus.  En eendag sal ons aan Hom gelyk wees.

Hoe gaan ons dit regkry?

Hoe gaan jy dit alles doen?  Dink jy, jy sal dit kan doen?

Kol 1:29 waarvoor ek arbei en stry volgens sy werking wat in my werk met krag. 

Jy gaan moet arbei.  Jy gaan moet stry.  Dit nie so maklik om net te sê, ek wil ‘n dienaar van Christus wees nie.  Jy gaan moet arbei en stry…Paulus sê, ek het hard gewerk.  Ek het littekens op my liggaam.  Ek is geslaan, het skipbreuk gely, was in die tronk, ek het gearbei en gestry.  Dit was nie maklik nie…

Maar was dit volgens sy eie vermoë? Nee! Hy het gearbei en gestry volgens sy werking wat in hom werk met krag.  As jy die boodskap van die verborgneheid gaan verkondig, kan jy verseker weet, jy is nie alleen nie.  Ja, dit is harde werk.  Maar die enigste manier waarop jy kan arbei en stry is met Sy krag.

Elke dag vir dag werk God se krag deur Sy Gees in jou lewe en help dit jou om te doen wat jy moet doen.  Dit is Hy wat my die krag gee om dit te doen.

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288