Monday 1 April 2013

Die Wegraping

Ek dink die wegraping is een van die mees opwindendste gebeurtenis waarna ons kan uitsien as gelowiges.  Dit is die gebeurtenis waar Jesus Christus sal terug kom in die lug om Sy bruid bymekaar te maak en om haar te weg te neem na die woning wat Hy vir haar voorberei het.

Joh 14:2 In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. 
3 En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. 

(Kobus van Rensburg van Stilfontein sê dat ons gaan nie hemel toe nie, maar ons gaan vir ewig op die aarde bly.  Ek wonder tog waar op die aarde het Jesus vir ons ‘n plek gaan voorberei nadat Hy opgevaar het hemel toe?)

In een oomblik, in ‘n oogwink sal baie mense, mense wat hulle geloof in die Here Jesus Christus en Sy voldoende werk aan die kruis geplaas het, hulle sal in een oomblik weggeruk word en Jesus in die lug ontmoet.  

Waar kom die gedagte van die wegraping daan?  Is dit Bybels?  Daar is sommige Teoloë wat sê dat dit nie Bybels is nie.  Sommige sê dan die woord wegraping kom nie eers in die Bybel voor nie.  Sommige meen dat die idee van die wegraping eers in 1830 begin het met ‘n jong meisie met die naam van Margaret McDonald wat 15 jaar oud was.  En sy het ‘n visioen gekry van die eindtyd, maar sy het geglo dat daar ‘n wegraping gaan wees eers aan die einde van die groot verdrukking.

Maar dit is nie baie eerlik nie.  Want John Nelson Darby het reeds voor 1830 oor die wegraping geskryf.  Inteendeel vind ons reeds in 373 nC dat ‘n Assiriese teoloog en kerkvader, Efraim of Nisibis oor die wegraping geskryf.  Hier is ‘n aanhaling, "For all the saints and the Elect of God are gathered, prior to the tribulation that is to come, and are taken to the Lord lest they see the confusion that is to overwhelm the world because of our sins." 

Die woord wegraping of rapture is ‘n vertaling vanaf Latyns, wat teruggaan tot die 14e eeu in die Vemon manuskripte, maar die Griekse woord in die Bybel is die woord “harpadso”.  En hierdie woord kom 18 keer voor in die Nuwe Testament en beteken letterlik “om weggeruk of weggevoer te word”, “being caught up of taken away” van een plek na ‘n ander plek.

Die teksgedeelte wat dan spesifiek met die wegraping te doen het, is 1 Thes 4:17

1 Thes 4:14 Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring. 
15 Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. 
16 Want die Here self sal van die hemel neerdaal met 'n geroep, met die stem van 'n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. 
17 Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. 

Let op!  Wie is die mense wat gaan deel hê aan hierdie gebeurtenis?  V14 sê: “ons (wat) glo dat Jesus gesterwe en opgestaan…ook so die wat in Jesus ontslaap het…”  Dit is hulle wat God na Hom wil bring.  V16 sê, “die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.”  Wie is hulle wat in Christus gesterf het?  Die gelowiges.  Die wedergebore kinders van God.  Dit is hulle wat in Christus gesterf het wat eerste sal opstaan en dan sal hulle saam met die gelowiges wat nog lewe weggevoer word in die wolke, die Here tegemoet in die lug.  

Hulle word van hierdie aarde af weggevoer, weggeruk in die wolke die Here tegemoet in die lug om veraltyd by die Here te wees.  Ek dink nie dit verwys na sondaars nie.  Dit is die gelowiges wat deel sal hê aan die wegraping en nie die sondaars nie.

Die volgende ding wat ons ook moet raaksien is die feit dat Jesus kom by hierdie geleentheid Sy bruid bymekaar maak om haar na Hom te neem.  Hierdie gebeurtenis is nie dieselfde as die wederkoms aan die einde van die groot verdrukking nie, want in Op 19 kom Jesus nie om Sy bruid te kom haal nie, maar om oorlog te voer teen die nasies en jy sal ook sien dat Sy bruid kom saam met Hom.

Op 19:1 En ná hierdie dinge het ek iets soos 'n groot stem van 'n groot menigte in die hemel gehoor wat sê: Halleluja, die heil en die heerlikheid en die eer en die krag aan die Here onse God! 

So waar is die groot menigde? In die hemel.  Wie is hierdie groot menigte?  Dit is die gelowiges wat in die hemel is.

Op 19:7 Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. 
8 En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges. 

Wat gebeur hier in die hemel?  Wie is die vrou?  Dit is die bruid van Christus, die kerk van die Here.  En hulle is by die bruilof van die Lam.  V8 sê, sy is bekleed met rein en blink fyn linne… En nou beskryf v14 die wederkoms van Jesus.

Op 19:14 En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. 

So wie is hierdie leërs wat bekleed is met wit en rein fyn linne?  Dit is die bruid van Christus.  Die kerk.  Hulle kom saam met Hom met Sy wederkoms.  

15 En uit sy mond gaan daar 'n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met 'n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. 

So Jesus kom nie hier om Sy bruid bymekaar te maak en haar te neem waar Hy is nie.  Hierdie gebeurtenis kan nie dieselfde wees as die wegraping in 1 Thes 4 nie.  By hierdie geleentheid kom Jesus aarde toe en Sy bruid kom saam met Hom.  Hy kom dan hier om oorlog te maak teen sy vyande en om Sy koninkryk opte rig.  Die wegraping is wanneer Jesus kom VIR Sy gemeente en die wederkoms is wanneer Jesus kom saam MET Sy gemeente.

Onthou u nog die beeld van Nebukadnesar?  Die beeld verteenwoordig die koninkryke van die wêreld en in Daniël 2:44 lees ons dat ‘n klip losraak sonder die toedoen van mensehande en dat dit die voete van klei en yster fynstamp.  Hierdie klip is die koninkryk van Christus wat die wêreldse koninkryke kom vernietig.  

By die wederkoms kom Jesus aarde toe en gaan Hy al die nasies wat kom om teen Hom oorlog te voer, verpletter.  Dit sal die einde wees van wêreldse koninkryke en dan sal Jesus Sy koninkryk op aarde oprig.  Op 19:15 sê dat Hy sal die nasies met ‘n skerp swaard slaan en hulle met ‘n ysterstaf regeer.

So met die wegraping in 1 Thes 4 kom Jesus om Sy bruid (die kerk) bymekaar te maak en hulle weg te neem na die hemel toe.  By die wederkoms aan die einde van die groot verdrukking kom Jesus nie net in die lug nie en kom Hy nie om ons te kom haal nie, maar kom ons saam met Hom as Sy bruid.  Onthou, ons was by die bruilof van die Lam.  Ons het met die Here getrou.  En nou kom Hy om Sy koninkryk op aarde op te rig en sal ons saam met Hom vir ‘n 1000 jaar regeer op aarde.

Waarom kom haal Jesus dan Sy kerk voor die groot verdrukking?  Baie eenvoudig.  Want die groot dag van die Here, die dag van God se oordeel en grimmigheid is nie vir die gelowige nie, maar vir die sondige en goddelose wêreld. 

1 Thes 1:10 en sy Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos. 

Jesus het gesê in,

Matt 24:21 Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. 

Hierdie groot verdrukking is die dag van die Here, wanneer die Here Sy grimmigheid sal uitgiet op ‘n goddelose wêreld.

Op 14:19 En die engel het sy sekel oor die aarde laat gaan en die wingerdstok van die aarde afgeoes en dit gegooi in die groot parskuip van die grimmigheid van God. 

Op 16:1 En ek het 'n groot stem uit die tempel aan die sewe engele hoor sê: Gaan gooi die skale van die grimmigheid van God op die aarde uit. 

In Jer 30:7 word hierdie groot verdrukking genoem, die tyd van benoudheid vir Jakob.  Dit is die tydperk wanneer God die aarde en al die goddelose nasies sal oordeel, maar dit sal ook die tyd wees wanneer Hy die oorblyfsel van Israel sal verlos.

Matt 24:22 En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes (dit verwys na Israel) sal daardie dae verkort word. 

Die groot verdrukking is nie bedoel vir die kerk nie.  Luk 17 sê, soos dit in die dae van Noag was, so sal dit ook wees in die dae van die Seun van die mens.  God het Noag en sy familie uit die vloed uit weggeneem, en hulle het die oordele van God ontvlug.  So ook het God toe Lot en sy familie uit die stad van Sodom weggeneem, toe Hy Sodom geoordeel het.  

Noag het nie op die aarde gebly en gesê, die reën en vloed kan maar kom.  God sal my binne in die vloedwaters beskerm nie.  Lot en sy familie het nie binne in die stad van Sodom gebly en gesê, die oordele kan maar kom, God sal ons in die oordele bewaar nie. Nee!  God het hulle verwyder, voordat Hy geoordeel het.  Net so, sal God die kerk, Sy bruid eers kom verwyder en hulle wegneem, voordat Hy Sy grimmigheid op hierdie aarde sal uitgiet.

Luk 21:34 Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. 
35 Want soos 'n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon. 
36 Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan. 

KJV - Watch ye therefore, and pray always, that ye may be accounted worthy to escape all these things that shall come to pass, and to stand before the Son of man. 

Die Nuwe Vertaling is misleidend, want die vertalers glo nie in die wegraping nie.  Hoor wat sê hulle,

NV - Maar wees waaksaam en bid altyddeur dat julle die krag kan ontvang om deur al hierdie dinge wat gaan gebeur, behoue deur te kom en om voor die Seun van die mens te verskyn.

Daar is ‘n groot verskil tussen die woorde “om te ontvlug of ‘to escape’” en om “behoue deur te kom”.  In die eerste plek ontvlug jy die oordele van God, you escape all these things, jy gaan nie daardeur gaan nie.  Maar die Nuwe Vertaling wil die idee skep dat ons deur die oordeel van God sal gaan en behoue sal bly.  Dit is een van die baie redes hoekom en die Ou Vertaling verkies en nie die Nuwe Vertaling nie.

Die kerk van die Here gaan nie deur die oordeel van God gaan nie.  Ons sal dit ontvlug.  

1 Thes 5:3 Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid—dan oorval ‘n skielike verderf hulle soos die barensnood ‘n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie. 

So let op!  Volgens Luk 21:36 en hierdie vers, is daar twee groepe.  Eerstens, hulle wat die oordele sal ontvlug en tweedens hulle wat onverhoeds betrap sal word en die oordele nie sal ontvlug nie.

Die Griekse woord in Luk 21:36 vir ontvlug, is die woord “ekfeugo” wat beteken om uit die verdrukking te ontvlug.  Ons kry hierdie woord ook in Hand 16:27 wat dui daarom dat hulle uit die gevangenis ontsnap het.  Die groot verdrukking is die groot dag van God se toorn, dit is die tyd van God se grimmigheid.  

Die Griekse woord vir die wegraping is “Harpadso” en dit kom 18 keer voor in die NT.  In Hand 8 lees ons van Filippus en die hofdienaar en net nadat Filippus die hofdienaar gedoop het sê dit, 

Hand 8:39 En toe hulle uit die water opklim, het die Gees van die Here Filippus skielik weggevoer (Herpasen – wat kom van die woord Harpadso), en die hofdienaar het hom nie meer gesien nie, want hy het sy weg met blydskap gereis. 
40 Maar Filippus is in Asdod gevind. En hy het die land deurgegaan en die evangelie verkondig in al die stede, totdat hy in Cesaréa gekom het. 

Die Gees het Filippus weggevoer, weggeruk, weggeraap van een plek na ‘n ander plek.  Van daar waar die hofdienaar gedoop is tot in Asdod.

2 Kor 12:2 Ek weet van 'n man in Christus, veertien jaar gelede--of dit in die liggaam was, weet ek nie, of buite die liggaam, weet ek nie, God weet dit--dat so iemand weggeruk (harpagenta – wat kom van die woord harpadso) is tot in die derde hemel. 

Op 12:5 En sy het 'n manlike kind gebaar, wat al die nasies met 'n ystersepter sou regeer; en haar kind is weggeruk na God en sy troon. 

Die lering oor die wegraping is so Bybels soos wat ‘n ou dit kan kry.  Gaan God die kerk wegraap voordat Hy die aarde gaan oordeel.  Verseker!  Die Bybel sê dit so baie duidelik vir ons.

Die kerk se grootste probleem:

Die kerk waak en bid nie!  Hoekom nie?  Want hulle glo nie dat Jesus enige oomblik, soos ‘n dief in die nag sal kom nie.  Jy sien, as jy nie glo dat die wegraping voor die groot verdrukking gaan kom nie, maar dat die antichris en die groot verdrukking volgende op die kalender is, met die nuwe wêreld orde en die merk van die bees en al hierdie vreeslike dinge, dan moet jy jou voorberei vir dit en nie vir die skielike verskyning van die Here nie.

Dit sou ook beteken dat die apostels en die vroeë kerk verkeerd was deur die koms van die Here enige oomblik te verwag.  As jy nie glo in die wegraping voor die verdrukking nie, gaan jy nie elke dag leef asof die Here enige oomblik kan kom nie.  Jy gaan jou nie voorberei op die wederkoms nie.  En dit het tot die gevolg dat christene nie heiligmaking na streef en nougeset wandel nie.

Maar as ek glo dat die Here enige oomblik Sy kerk gaan kom haal en dat die wegraping volgende op die kalender is, sal ek waak en bid en elke oomblik gereed wees om my Verlosser te ontmoet.  Ek verwag nie die antichris nie, maar ek verwag die verskyning van Jesus.  Ek kyk nie uit vir die antichris nie.  Ek kyk uit vir die wegraping.

In 1 Joh 3:3 lees ons dat wanneer ons hoop op die verskyning van die Here, dat dit ons motiveer tot heiligmaking.  Die hoop op die wederkoms reinig ons soos wat Christus rein is.

1 Joh 2:28 En nou, my kinders, bly in Hom, sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn en nie beskaamd van Hom weggaan by sy wederkoms nie. 

Dit is hoekom die leerstelling oor die wegraping en die spoedige koms van Jesus vir ons so belangrik is.  Kom ons kyk na 2 Thes:

2 Thes 2:1 Maar ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom, 
2 om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie--deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees--asof die dag van Christus al daar is. 

Jy sien, daar was valse profete wat vir die mense vertel het, dat die dag van Christus het alreeds aangebreek.  Dit is hier.  Maar Paulus sê, moenie bang wees nie.

2 Thes 2:3 Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf 
4 die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is. 

Maw, voordat die dag van Christus aanbreek, moet eers die antichris kom.  Maw die antichris gaan kom voor die wederkoms.

2 Thes 2:5 Onthou julle nie dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie? 
6 En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. 

Wie word teëgehou dat hy openbaar word?  Die mens van sonde.  Die seun van die verderf.  Die antichric.  En iets keer dat die antichris kan opstaan.  Iets hou hom teë, sodat hy geopenbaar kan word.

2 Thes 2:7 Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; 
8 en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, 

So maw, voordat die dag van Christus aanbreek moet eers die antichris verskyn, maar daar is iets wat die antichris teëhou.  Daar is iets wat hom keer dat hy geopenbaar kan word.  Hierdie iets moet eers uit die weggeruim word voordat God hom gaan toelaat om die wêreld te mislei.  Voordat God se oordele oor hierdie aarde uitgegiet gaan word.  

Wie of wat is dit wat uit die weg geruim moet word?  Dit is die kerk.  Die lig van die wêreld.  Die sout van die aarde.  Neem die kerk weg, wat gebeur?  Dit sal duisternis wees.  

Op 3:10 Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel. 

Die KJV is meer korrek vertaal.  Dit sê, “I also will keep thee from the hour of temptation”.  Die Griekse woord is “EK” wat letterlik beteken “van of uit”.  Hy sal ons van of uit die uur van beproewing bewaar.

Slot

Is jy gereed? Lewe jy elke dag so asof die Here enige oomblik kan kom?  Of gaan jy agter bly wanneer Jesus Sy kerk kom haal.

Op 9:6 En in dié dae sal die mense die dood soek en dit nie vind nie; en hulle sal verlang om te sterwe, en die dood sal vir hulle wegvlug.

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288