Wednesday 10 April 2013

Wat bewys die opstanding?


Ek gaan nie vandag probeer om bewyse te gee vir die opstanding nie.  Daar is verseker genoeg bewyse en die Bybel is natuurlik die beste bewyse vir die opstanding, maar ek gaan eerder die vraag vra: wat bewys die opstanding?

‘n Eenvoudige antwoord sou wees, dat die opstanding bewys die verlossings plan en doel van God.  Jy sien die opstanding is die sleutel tot alles.  As jy die opstanding van Jesus Christus wegvat, dan het jy nie meer Christenskap nie, want die opstanding is die hart van dit alles.

Wat beteken die opstanding van Jesus Christus?  Wat bevestig dit?  Wat het dit bereik?  Wat bewys die opstanding van Jesus Christus?

Eerstens, die opstanding bewys die betroubaarheid van die Woord van God.  Ons kyk na Hand 2, op Pinksterdag, die geboorte van die kerk.  Die gelowiges is vervul met die Heilige Gees en Petrus staan op en preek.  Na sy prediking het 3000 tot bekering gekom.

In Petrus se preek haal hy ‘n gedeelte in die Ou Testament aan in v25.  In v23 praat hy van Christus en Sy dood, in v24 praat hy oor die opstanding wanneer hy sê, 

Hand 2:24 Hom het God opgewek, nadat Hy die smarte van die dood ontbind het, omdat dit onmoontlik was dat Hy daardeur vasgehou sou word. 

So hy sê dat Jesus het opgestaan uit die dood, en die dood kom Hom nie hou nie.  En dan haal hy Psalm 16 aan vanaf v25,

25 Want Dawid sê van Hom: Ek het die Here altyddeur voor My gesien, want Hy is aan my regterhand, dat Ek nie sou wankel nie. 
26 Daarom is my hart bly en my tong juig, ja, ook sal my vlees nog rus in hoop. 
27 Want U sal my siel nie aan die doderyk oorlaat of u Heilige oorgee om verderwing te sien nie. 
28 U het My die weë van die lewe bekend gemaak, U sal My vervul met vreugde by u aangesig. 

So Petrus gee ‘n aanhaling van Dawid in Psalm 16.  Sommige sê dat Dawid het na homself verwys, maar dit kan ook nie wees nie, want Dawid se siel het in die doderyk ingegaan en Dawid se liggaam het verderwing gesien, maw dit het ontbind of verrot, en in sy fisiese liggaam het hy nie terug gekeer na die lewe nie.  So dit verwys nie na Dawid nie.

Petrus interpreteer dit en hoor wat sê hy in v29,

Hand 2:29 Broeders, ek kan vry-uit met julle spreek oor die aartsvader Dawid, dat hy gesterf het en ook begrawe is, en sy graf is by ons tot vandag toe. 

So Dawid kon nie na homself verwys het in Psalm 16 nie.  Dawid is nog in die graf.

30 Omdat hy dan ‘n profeet was en geweet het dat God vir hom met ‘n eed gesweer het dat hy uit die vrug van sy lendene, wat die vlees betref, die Christus sou verwek om op sy troon te sit, 
31  het hy, omdat hy dit vooruit gesien het, gespreek van die opstanding van Christus, dat sy siel nie in die doderyk verlaat is en sy vlees ook nie verderwing gesien het nie. 

So Dawid het in Psalm 16 die opstanding van Jesus geprofiteer.  Dit was Jesus wie se  vlees in hoop sou rus, wie se siel nie in die doderyk oorgelaat sou word, en as die Heilige nie aan verderwing oorgegee sou word.  Dit is Jesus aan wie die weg van lewe bekend gemaak sou word.  Dit is Hy wie met vreugde vervul sou word voor die aangesig van God.  Dit is ‘n messiaanse Psalm.  Dit praat van Jesus.

32 Hierdie Jesus het God opgewek, waarvan ons almal getuies is. 

Jy sien!  As Jesus nie uit die dood opgestaan het nie, het die Bybel nie die waarheid gepraat nie.  Maar nou is die profesie vervul en die opstanding is bewyse dat die Woord van God waar is en dat ons dit kan vertrou.  En as ons kyk na Hand 13 dan is Paulus aan die woord,

Hand 13:29 En toe hulle alles volbring het wat oor Hom geskrywe is, het hulle Hom van die kruishout afgehaal en in ‘n graf neergelê. 
30 Maar God het Hom uit die dode opgewek. 
31 En gedurende baie dae het Hy verskyn aan die wat saam met Hom opgegaan het van Galiléa na Jerusalem, en hulle is sy getuies by die volk. 
32 En ons bring julle die goeie tyding van die belofte wat aan die vaders gedoen is…

En dit is wat dit is.  Dit is die goeie tyding, die goeie nuus.  Let op die woorde in v32!  Die belofte wat aan die vaders gedoen is, aan die Joodse vaders, aan die Ou Testament gelowiges.

…dat God dit aan ons, hulle kinders, vervul het deur Jesus op te wek, 
33 soos daar ook in die tweede psalm geskrywe is: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer. 

Maw Paulus sê dat die Psalmdigter het hier geprofiteer van Jesus Christus wat uit die dood sou opstaan.

34 En dat Hy Hom opgewek het uit die dode, sodat Hy nie meer tot verderwing sou terugkeer nie, het Hy só gespreek: Ek sal aan julle gee die heilige weldade van Dawid wat betroubaar is. 

En Paulus is in werklikheid besig om sy prediking oor die opstanding van Jesus Christus op drie Ou Testamentiese profesië te baser, Ps 2, Ps 16 & Jes 55.  Luister!  As Jesus nie opgestaan het nie sou Ps 2, Ps 16 & Jes 55 verkeerd gewees het.  Enige ander profesië oor die opstanding sou verkeerd gewees het en die Woord van God sou nie betroubaar gewees het nie.

Hand 26:22 Maar omdat ek hulp van God verkry het, staan ek tot vandag toe en getuig aan klein en groot, en spreek niks buiten wat die profete en ook Moses gesê het dat sou gebeur nie: 
23 dat die Christus moes ly en die eerste wees uit die opstanding van die dode, en ‘n lig aan die volk en die heidene sou verkondig. 

Dit gaan so ver terug soos Moses.  Dit gaan so ver terug tot by die wet.  Die profete.  Die Skrif se betroubaarheid was op die spel.  En Jesus se opstanding het alles vervul en bewys dat ons kan op die Woord van God vertrou. Kom ons gaan kyk na Johannes.

Joh 2:19 Jesus antwoord en sê vir hulle: Breek hierdie tempel af, en in drie dae sal Ek dit oprig. 

Die Jode het nie ‘n clue gehad waarvan Jesus praat nie.  Hulle antwoord en sê, dit het ons 46 jaar lank gevat om die tempel op te bou.  Hoe gaan U dit in drie dae oprig?  Maar Jesus het gepraat van Sy liggaam.

22 En toe Hy opgestaan het uit die dode, het sy dissipels onthou dat Hy dit vir hulle gesê het; en hulle het die Skrif geglo en die woord wat Jesus gespreek het. 

Hulle het geweet dat die Skrifte belowe ‘n opstanding.  Jesus het ‘n opstanding belowe.  En toe dit gebeur, het hulle die Skrifte geglo.  Dit is wat die opstanding bewys het.  Die opstanding van Jesus Christus versterk ons geloof en vertroue in die waarheid en betroubaarheid van die Skrif.  Die opstanding bewys dat die Bybel die waarheid is.

Ons sien in Luk 24 op die pad na Emmaus was daar twee dissipels, baie bewoë oor Jesus se dood.  Jesus verskyn aan hulle, maar hulle erken Hom eers nie.  Hulle is hartseer, want alles is verby.  Maar Jesus sê vir hulle, 

Luk 24:25 En Hy sê vir hulle: o Onverstandiges, met harte wat traag is om te glo alles wat die profete gespreek het! 
26 Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in sy heerlikheid ingaan nie? 
27 En Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het. 

Die beeld van ‘n dood en opgestane Messias is orals in die Ou Testament.  Elke keer wat ‘n lam geoffer is, het dit gepraat van die Messias wat sou geoffer word.  Maar elke keer wat dit praat van ‘n Messias wat regeer en Sy Koninkryk sal oprig, het dit verwys na die lewende Messias.  So dit is voor die hand liggend dat die Een wat sterf, moet terug kom in die lewe.  So die Ou Testament is vol daarvan.

1 Kor 15:3 Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; 
4 en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte; 

Net soos wat die Skrifte gesê het, so het dit gebeur.  Die opstanding is bewyse daarvan dat ons die Skrifte kan glo en vertrou.

Tweedens, bewys die opstanding nie net die betroubaarheid van die Woord van God nie, maar dit bewys ook die godheid van die Seun van God.  In werklikheid is daar nie ‘n beter bewyse van die godheid van Jesus, as die opstanding uit die dood nie.  Dit is die grootste gebeurtenis wat ‘n bewys is dat Hy God is, want net God kan lewe gee, en net God kan die dood oorwin.

Daar is ander bewyse ook dat Jesus God is, soos byvoorbeeld die demone wat dit bevestig.  In Markus 5:7 noem hulle hom die Seun van die allerhoogste God.  In Joh 9 lees ons van die blinde man wat deur Jesus genees het.  Hy het geweet dat Hy met God te doen gehad het.

Die dissipels het daarvan getuig.  Petrus het gesê, U is die Christus, die Seun van die lewende God.  Thomas het gesê, my Heer en my God.  Nataniel, Mattheus het gesê, Hy is die Seun van God.  Die apostels getuig in die Nuwe Testament van Sy godheid.

Daar is soveel individue wat getuig van die godheid van Christus, maar daar is nie ‘n groter bewys dat Jesus God is soos die opstanding van Jesus Christus uit die dood nie.  Die Vader het by die Jordaan Jesus verklaar as Sy Seun.  Hy het gesê, “hierdie is My geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het”.   Maar ‘n baie sterker verklaring wat God gemaak het was toe God Hom uit die dood opgewek het.  

Rom 1:4 en na die Gees van heiligheid met krag verklaar is as die Seun van God deur die opstanding uit die dode, Jesus Christus, onse Here, 

Jesus Christus is met krag verklaar as die Seun van God deur … wat?  Deur die opstanding uit die dode.  God het Jesus uit die dode opgewek om te bewys dat Jesus God is.  Rom 6:4 sê dat Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader.  Ef 1:19 praat oor die uitnemende grootheid van Sy krag en dan vertel v20 hoe groot hierdie krag is, hierdie krag

Ef 1:20 wat Hy gewerk het in Christus toe Hy Hom uit die dode opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele. 

In Hand 2:31-36 sê Petrus dat God Hom deur die opstanding Here en Christus gemaak het.  So die opstanding bewys nie net dat Jesus in die wêreld in gekom het om sondaars te red nie, maar dit bewys dat Hy God is.

So eerstens bewys die opstanding dat die Woord van God betroubaar is.  Tweedens bewys die opstanding dat Jesus God is.  En derdens, bewys die opstanding die afhandeling of voltooing van God se verlossingsplan.

Rom 4:25 wat oorgelewer is ter wille van ons misdade en opgewek is ter wille van ons regverdigmaking. 

Vir God om ons te regverdig, het Hy Jesus opgewek van die dood.  Die opstanding was die onmisbare bewyse van die voltooiing en die doeltreffende waarde van Sy dood.  Jesus se dood het God se verlossings doel bereik.  

Dit is net die dood van Christus op die kruis wat God se heilige geregtigheid kon vervul.  Maar as Jesus nie opgestaan het nie, was Hy maar net ‘n gewone mens en kon Hy niemand red nie.  Maar Hy was opgewek deur die Vader ter will van ons regverdigmaking.  Sodat ons sonder sonde voor God kon staan, sodat ons sonde vergewe kon word.

En toe God Jesus uit die dode opgewek het was dit of God sê, ... Ek aanvaar die offer van Jesus aan die kruis.  Jesus se opwekking was God se aanvaaring van die offer.  Ons almal het in Adam gesterf, en in Christus word ons lewend gemaak.  Omdat Jesus opgestaan het en lewe, daarom sal ons ook lewe.  Dit is in Christus se dood en Sy opstanding wat ons die ewige lewe gee.

As Jesus nie opgestaan het nie, sou Hy nie die dood oorwin het nie.  As Hy nie opgestaan het nie, sou Hy nie gelewe het nie.  As Hy nie gelewe het nie, sou Hy nie vir ons lewe kon gee nie.  Jesus sê, 

Joh 11:25 ...Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe. 

So die ewige lewe is afhanklik van die opstanding.  As Jesus nie opgestaan het nie, sou Hy nie opgevaar het hemel toe en ook nie die Heilige Gees gestuur het nie.

Joh 16:7 Maar Ek sê julle die waarheid: Dit is vir julle voordelig dat Ek weggaan; want as Ek nie weggaan nie, sal die Trooster nie na julle kom nie; maar as Ek weggaan, sal Ek Hom na julle stuur. 
8 en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel.

V13 sê Hy sal julle in die hele waarheid lei.  Hy sal julle herinner aan alles wat Ek geleer het.  Hy sal julle in die liggaam van Christus plaas.  Hy sal die waarborg wees van julle saligheid.  Hy sal in julle woon en julle sal Sy tempel wees.  Hy sal julle krag gee om getuies te wees.  Hy sal julle lei en leer.  Hy is die salwing wat in julle bly en julle alles sal leer.

Die hele bediening van die Heilige Gees was afhanklik van die opstanding van Christus.  As Jesus nie opgestaan het nie, sou die Heilige Gees nie gekom het nie.  Geen opstanding, geen hemelvaart en geen hemelvaart, geen uitstorting van die Heilige Gees.  En ook dan geen kerk.  So die opstanding voorsien in die voltooiing van die verlossingswerk van God.  Dit is die hart van Christenskap.

Hy moes opstaan om aan ons die ewige lewe te gee.  Hy moes die lewe hê om dit te kan gee.  Hy moes opvaar hemel toe na die Vader om die Heilige Gees te kan stuur.  En Hy moes ook opstaan uit die dood om ons te kan vergewe van ons sondes.

As Jesus nie opgestaan het uit die dood nie, sou die Vader nie te vrede gewees het met Sy offer nie, en sou daar geen versoening vir ons sonders gewees het nie.  Maar nou dat Hy opgestaan het en aan die regterhand van God sit, is ons verlossing afgehandel en is daar vergifnis vir ons sondes.

Heb 2:17 Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot God staan, om die sondes van die volk te versoen. 

Heb 10:14 Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word. 

Die een offer van Jesus was volkome.  Dit was genoeg.  Ons sondes is volkome vergewe en die Vader het dit bevestig deur die opstanding.  En as Jesus nie opgestaan het nie, kon Hy nie nou vir ons by die regterhand van God ingetree het nie.  Heb 7:25 sê, omdat Hy altyd leef, tree Hy vir ons in.  

Die duiwel kla ons aan, maar Jesus verdedig ons by die Vader.  As Hy nie opgestaan het nie, kon Hy ons nie verdedig nie.  So die opstanding bewys die voltooiing van God se verlossingsplan.

So eerstens bewys die opstanding dat die Woord van God is betroubaar.  Tweedens bewys die opstanding dat Jesus is God.  En derdens bewys die opstanding dat die verlossingsplan van God is afgehandel.  Dit is volkome.  Kom ons kyk na nog ‘n bewyse.

Vierdens bewys die opstanding die vestiging van die kerk van God.  Jesus het in Matt 16 gesê dat Hy sal Sy kerk bou en dat die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.  Dit is ‘n Joodse uitdrukking wat eenvoudig verwys na die dood.  Maw Jesus sê, Ek sal My kerk bou en die dood sal dit nie keer nie.  Nie My dood nie en nie jou dood nie.

Hierdeur sê Jesus dat Hy gaan sterf, maar dit gaan Hom nie keer nie.  Toe Jesus opgestaan het en opgevaar het hemel toe, sê Ef 1:22 dat Hy as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee is.  Die opstanding is noodsaaklik tot die vestiging van die kerk.  As daar nie ‘n opstanding is nie, is daar nie ‘n kerk nie.

Enigiemand wat sê hy behoort aan ‘n kerk, maar hy glo nie die opstanding nie, behoort nie aan ‘n kerk nie.  Die ware kerk is hulle aan wie die lewe gegee is deur die opstanding van Jesus Christus.  Dit was die opstanding wat die apostels wat verstrooid, vreesbevange, en ontroue twyfelaars en lafaards was, verander het in apostels wat die wêreld verander het.

So die opstanding bewys dan ook die vestiging van Christus se kerk.  En vyfdens, bewys die opstanding, aan die negatiewe kant, die feit dat God se oordeel onvermydelik is.  Met Sy eerste koms was Hy gespot en gehaat.  Hy was verneder, op gespuug, geslaan en op die ou einde dood gemaak.

Dit sal egter nie laaste keer wees wat die wêreld Hom gesien het nie, want Hy het opgestaan en gaan eendag die wêreld oordeel.  Hulle het Hom teregestel as ‘n krimineel, maar Hy gaan terug kom as hulle Regter.

Joh 8:26 Ek het baie dinge om van julle te sê en te oordeel...
Terug in hoofstuk 5 staan daar,

Joh 5:21 Want soos die Vader die dode opwek en lewend maak, so maak ook die Seun lewend wie Hy wil. 
22 Want die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die hele oordeel aan die Seun gegee, 

V28 sê dat daar kom ‘n uur wanneer die grafte Sy stem sal hoor.  Daar sal ‘n opstanding wees van die lewe en ‘n opstanding van die veroordeling. V30 sê dan dat Hy sal oordeel volgens Sy Vader se wil.

Hand 10 sê dat God Hom opgewek het op die derde dag en (v42) Hom bestem het as Regter van die lewe en dode.  God het Hom opgewek en as Regter aangestel.  Kyk wat sê Hand 17,

Hand 17:30 God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, 
31 omdat Hy ‘n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ‘n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek. 

Hoe gee God sekerheid aan almal dat Hy ‘n Man aangestel het op die wêreld in geregtigheid te oordeel?  Deur Hom uit die dode op te wek.  So die opstanding is nie net om die verlossingsplan van God te voltooi en af te handel nie, maar die opstanding bewys ook dat God ‘n Regter aangestel het om te oordeel.

Laastens bewys die opstanding van Jesus Christus die ewige saligheid van God se mense.  Jesus se opstanding is die versekering van ons ewige lewe.

Joh 14:1 Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. 
2 In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. 
3 En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. 

In hierdie gedeelte voorspel Jesus Sy opstanding.  Hy is oppad om te sterf, maar Hy sê, moenie ontsteld word nie.  Ek gaan na My Vader se huis.  Nou as daar nie ‘n opstanding was nie, kon Jesus nie gegaan het om vir ons ‘n plek te gaan voorberei nie.  En as daar geen plek is wat vir ons voorberei is nie, is daar nie vir ons ‘n hemel nie.

Alles hang af van die opstanding.  Luister!  Dit gaan nie soseer om bewyse te gee vir die opstanding nie.  Dit gaan oor wat die opstanding bewys.  Neem die opstanding weg, dat is ons geloof te vergeefs.

So Sy opstanding verseker en bewys vir ons dat daar vir ons ‘n ewige lewe is in die hemel.  Hy gaan terug kom en ons opwek uit die dood, sodat ons na die hemel toe kan gaan.  As Hy nie opgestaan het nie, is daar nie vir ons ‘n opstanding nie.

Kom ons wees dankbaar vir hierdie opstandings sondag.  Ons kan dit glo vandag of ons kan besluit om dit nie te glo nie.  Dit het egter ewigheids gevolge.  Al wat ons moet doen is om ons geloof in Jesus Christus te plaas, dit wat Hy vir ons gedoen het.  Ons sondestraf wat Hy gedra het.  Dat Hy daarvoor gesterf het, maar ook opgestaan het en lewe.  En nou omdat Hy lewe, gee Hy aan ons ook die lewe.

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288