Tuesday 3 May 2011

Die Dood en Opstanding - 24 April 2011

Teksgedeelte: 1 Kor 15:3-21

1 Kor 15:3 Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte;
4 en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte;

12 As dit dan gepreek word dat Christus uit die dode opgewek is, hoe sê sommige onder julle dat daar geen opstanding van die dode is nie?
13 As daar geen opstanding van die dode is nie, dan is Christus ook nie opgewek nie.
14 En as Christus nie opgewek is nie, dan is ons prediking vergeefs en vergeefs ook julle geloof;
15 en dan word ons valse getuies van God bevind, omdat ons teen God getuig het dat Hy Christus opgewek het, wat Hy nie opgewek het nie, ten minste as die dode nie opgewek word nie.
16 Want as die dode nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie;
17 en as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof nutteloos, dan is julle nog in julle sondes;
18 dan is ook die wat in Christus ontslaap het, verlore.
19 As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense.
20 Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het.
21 Want aangesien die dood deur ‘n mens is, is die opstanding van die dode ook deur ‘n mens.

Tema: Die dood en opstanding

Paasfees is ‘n fees wat regdeur die wêreld gevier word.  Sommige mense weet egter nie wat paasfees beteken nie.  Vir sommige is dit net ‘n lekker lang naweek wanneer hulle kan weggaan of partytjie hou en drink.  En vir ander is dit ‘n baie heilige tydperk. 

Vir die Jode is dit die pasga, die “Passover” waar hulle die gebeure in Egipte vier toe die doodsengel deur Egipteland getrek het, en wanneer die bloed van ‘n bokkie op die deurposte gesmeer is, het die doodsengel daar verbygegaan, die doodsengel het ge”Passover”.

Vir Christene is paasfees die tyd toe Jesus gekruisig is en opgestaan het.  Maar selfs binne die Christendom is daar verskillende sieninge rondom die feit of ons die paasfees moet vier of nie.  Sommige meen dat nêrens in die Bybel word beveel dat ons hierdie fees moet vier nie en dat die kerk nie feeste het soos wat die Jode gehad het in die Ou Testament nie.

Ander meen dat alhoewel daar nie ‘n spesifieke opdrag is dat ons hierdie fees moet vier nie, was dit nog altyd in die Christen tradisie die gebruik en moet ons die dood en opstanding van Jesus een keer ‘n jaar vier.

Kom ek begin deur te sê dat jy gaan nie hemel toe of hel toe omdat jy ‘n sekere feesdag hou of nie hou nie.  Jy gaan alleen hemel wanneer jy Jesus Christus aangeneem het as jou persoonlike Verlosser en Saligmaker, nie omdat jy ‘n sekere fees of godsdienste ritueel onderhou het nie.

1 Joh 5:12 Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie.

Dit is waaroor dit gaan:  Het jy die Seun?  Het jy Jesus Christus?  Of jy nou kersfees vier of nie, of jy nou paasfees vier of nie, of jy nou die sabbat vier of nie, dit gaan jou nie hemel toe vat nie.  

Die vraag is: Het jy Jesus Christus?  Hy wat die Seun het, het die lewe.

Tweedens wil ek ook byvoeg:

Kol 2:16 Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie,
17 wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus.

Maw, kom ons oordeel mekaar nie oor sekere "issues" wat nie so belangrik is nie.  Wat belangrik is, is behoort jy aan die Here Jesus Christus?  Is jy wedergebore?  Het jy Jesus as jou Verlosser en Saligmaker aangeneem?  Dit is wat saak maak.  Dit is wat tel. 

Daar is baie mense regoor die wêreld wat gedurende hierdie tyd kruise ronddra en allerhande rituele uitvoer, maar hulle is nie gered nie, hulle is net so verlore soos die een wat by die huis sit en homself dronk drink.

Paasfees pla my so bietjie.  Dit pla my soos enige ander feesdag.  Soos byvoorbeeld Vadersdag of Moedersdag.  Die vraag is: Eer ons ons Vaders en Moeders net op hierdie een dag?  Wat van die res van die jaar?  Sommige mense onthou net eenkeer ‘n jaar hulle Vader of Moeder.  Wat van die ander 364 dae van die jaar?  Moet ons nie elke dag ons Ouers eer en respekteer nie?

Net so met Paasfees.  Herdenk ons net eenmaal ‘n jaar die dood en opstanding van die Here?  Of sê die Bybel nie wanneer ons nagmaal gebruik, dat ons dit moet gebruik om die dood van die Here te herdenk nie?  En dat ons dit so dikwels moet doen wanneer ons bymekaar kom nie?

Ja, daar is niks verkeer om gedurende paastyd die dood en opstanding van die Here te herdenk nie, maar dit gebeur egter nie net een keer ‘n jaar nie.  Ons herdenk Sy dood en opstanding so dikwels wanneer ons bymekaar kom.

Die rede waarom Christene op Sondae bymekaar gekom het, was omdat Jesus op ‘n Sondag opgestaan het.  So hulle het elke Sondag Sy opstanding herdenk. 
Maar ek wil julle tog iets gee om oor te gaan dink.

Matt 12:40 Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees.

Nou as Jesus op goeie Vrydag gekruisig was, kan jy dalk nog drie dae tel.  ‘n Gedeelte van Vrydag, Saterdag en ‘n gedeelte van Sondag.  Maar daar is nie ‘n manier hoe jy drie nagte gaan kry nie.  Jy het Vrydagaand en Saterdagaand, net twee nagte.  En die Skrif sê baie duidelik dat Jesus drie dae en drie nagte in die hart van die aarde sal wees. 

Maw Jesus moes op ‘n Donderdag gekruisig wees.  Daar is net eenvoudig geen ander manier hoe om verby dit te kom nie.  So daar is so ietsie vir julle om te gaan oordink.  Gaan dit egter iets aan my Saligheid doen?  Nee!  Die vraag is: Het jy die Seun? Het jy Jesus Christus?

Wat wel saak maak en fundamenteel is tot ons geloof, is die opstanding!  Sonder die opstanding is ons geloof te vergeefs.

Hier is paar gedagtes.  Job het gesê:

Job 14:14 As ‘n mens sterwe, sal hy weer lewe?

Reg deur die geskiedenis van die mensdom is hierdie vraag die een vraag wat elke mens agtervolg.  Is daar lewe na die dood?  Elke godsdiens op aarde probeer om hierdie een vraag te beantwoord.

Van die oudste literatuur in die wêreld is die Egiptiese Boek van die dood.  Die Egiptenare het geglo dat die siel nie onverganklikheid het besit as die liggaam nie behou word nie.  Daarom het hulle deur soveel moeite gegaan om die liggaam te balsam om dit te behou.  Dit is ook die rede vir al die piramides, alles om die liggaam van die Faroa’s te beskerm en te behou.  Saam met die liggaam was daar die boek van die dood wat die afgestorwene gelei het in die lewe na die dood.

En so kan jy deur die geskiedenis van al die godsdienste gaan.  Almal het probeer om hierdie vraag te beantwoord: As ‘n mens sterwe, sal hy weer lewe?  Is daar lewe na die dood?  Dit maak alles ‘n groot verskil tot ‘n mens se lewe.  Is die lewe net ‘n glimps en dan is dit alles verby? Of is daar meer as net hierdie lewe?

Charles Brown van Yale University het gesê daar is drie dinge wat hy nooit sal glo nie 
Een, dat God ‘n wêreld soos hierdie sou skep en dan Sy rug daarop sal draai nie. Twee, dat God die mens sou skep en hom by die graf los nie.  Drie, dat God ‘n begeerte in die mens sal plaas om vir ewig te lewe en dan nie daarvoor voorsiening gemaak het nie.

Die Bybel belowe ewige lewe.  Die tragedie is dat die mens wat sterf sonder Jesus Christus gaan na ‘n ewige hel.  Die goeie nuus is dat die mens Jesus Christus ken en sterf, gaan hemel toe en gaan vir ewig in God se heerlike teenwoordigheid wees.

Joh 5:25 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die dode die stem van die Seun van God sal hoor; en die wat dit gehoor het, sal lewe.

28 Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ‘n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor
29 en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling.

Maw elke mens gaan uit die dood opstaan.  Die wat goed gedoen het tot die opstanding van die lewe en die wat kwaad gedoen het tot die opstanding van die veroordeling.  So daar is lewe na die dood, maar die vraag is, waarheen gaan jy?

Die Bybel sê nie vir ons wat gebeur met die liggaam van ‘n ongelowige mens nie, maar die Bybel praat wel van die liggaam van die gelowige.  Dat die gelowige by die opstanding ‘n verheerlikte liggaam sal ontvang.

Die opstanding van Jesus Christus is die fondasie van ons geloof.  Dit is die hart van die evangelie boodskap.  Die kruis verloor sy betekenis en sy krag as daar nie ‘n opstanding is nie.  Sonder die opstanding is alles verniet.  Daar sou nie vandag ‘n kerk gewees het as daar nie ‘n opstanding was nie.

Toe Jesus gesterf het was die dissipels uitmekaar gedryf, maar dit is die opstanding van Jesus wat hulle weer bymekaar gebring het.  Die kerk is die produk van Jesus se dood en opstanding.  Ons herdenk die dood en opstanding van die Here.  En ons herdenk dit elke keer wanneer ons bymekaar kom.

Rom 10:9 As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word;
10 want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.

So wanneer word jy gered?  Wanneer jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het.  As jy nie glo in die opstanding van Jesus nie, kan jy nie gered word nie.  Om net op Christus te glo vir hierdie lewe, is jou geloof te vergeefs en is jy die elendigste van alle mense. 

Christus het nie net gesterf om ons los te koop van die sondevloek nie.  Hy het ook opgestaan en daardeur het jy die dood oorwin.  Die dood het nie meer ‘n houvas op ons nie.  Omdat Hy lewe, kan ons lewe.

Rom 8:11  En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.

En hierdie waarheid bely ons nie net eenkeer ‘n jaar nie.  Hierdie waarheid is elke dag deel van ons lewens. Amen.

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288