Monday 30 May 2011

Om soos Jesus te wees

Tema: Om soos Jesus te wees (Gal 4:19-20 & Rom 13:14)

Gal 4:19 my kinders, vir wie ek weer in barensnood is totdat Christus in julle ‘n gestalte verkry.
20 En ek sou wens om nou by julle teenwoordig te wees en my stem te verander, want ek is buite raad met julle.

Rom 13:14 Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie.

Ons het verlede week gekyk na Gal 4 vanaf vers 12 en ons het gesien dat Paulus probeer om die ware evangelie, die saligheid wat kom uit genade deur die geloof, te verdedig teenoor ‘n ander evangelie, wat ‘n saligheid van werke is.

Daar was Judeërs wat in die gemeentes van Galasië in gekom het en vir die mense vertel het dat hulle hul moet besny en hulle moet die wet onderhou as hulle gered wil word.  Maw volgens die Judeërs was geloof in Jesus Christus nie genoeg om jou te red nie, maar die mense moes sekere dinge doen.

Paulus smeek hulle dat hulle moet vashou aan die vryheid waarmee hulle geroep is.  Hy sê, moenie dat julle weer onder die juk van diensbaarheid gebring word nie.  Maw ons is nie onder die vloek van die wet nie, ons is vry in Christus Jesus.

Kom ek maak net hier weer ‘n belangrike opmerking: Daar is niks wat jy kan doen om God te vrede te stel of om vir God aanvaarbaar te wees nie.  Dit is wat Jesus Christus vir jou aan die kruis gedoen het wat jou aanvaarbaar maak vir God.

Godsdiens gaan jou nie red nie.  Sommige mense het ‘n gestalte van godsdiens.  Hulle het al deur al die motions gegaan.  Het die T-shirt, het die bumper sticker, doen al die regte dinge op die regte tyd.  Mense neem baie keer die gedaante van ‘n kerk aan.  Hulle leer die customs, die gewoontes van ‘n kerk aan, maar word nooit waarlik wedergebore nie.  Dit is mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het. 

Wat is dit waarin God belangstel?  Waaroor gaan dit alles?  Wat is die doel van elke Christen? OM SOOS JESUS TE WEES.  Dat Jesus Christus in ons gestalte sal vind.

1 Joh 3:2 Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.

Dit is ons doel as kinders van God.  Dat ons aan Hom gelyk sal wees.  Wat moet ek doen?  Dit is so eenvoudig soos dit, trek Jesus aan.  Wat is die doel van elke Christen se lewe?  Om soos Jesus te wees.

Kol 2:6 Soos julle dan Christus Jesus, die Here, aangeneem het, wandel so in Hom.

Wandel so in Hom.  “Om soos Jesus te wees”, dit is waaroor dit gaan.  Dit is wat die woord Christen beteken, iemand soos Christus.  God weet en ons weet dat meeste Christene nie soos Christus is nie, korrek?  Maar dit is ons doel, dit is waarna ons moet strewe as kinders van God.

Gal 4:19 my kinders, vir wie ek weer in barensnood is totdat Christus in julle ‘n gestalte verkry.

En julle weet wat is barensnood.  Dit is geboortepyne.  Dit is hoe Paulus voel.  Nadat hy die ware evangelie verdedig het vanuit ‘n teologiese standpunt, kom hy hier in hoofstuk 4 vanaf verse 12 en hy maak ‘n persoonlike, emosionele apél.

Hy sê, julle was bereid om julle oë uit te grawe en vir my te gee en dalk gee julle nie eers om oor al die teologie en leerstellinge wat ek genoem het nie, maar as daar net een rede is wat oor bly, dan is dit, doen dit vir my.  Doen dit vir my want ek smeek julle.  Daar was ‘n tyd wat julle lief was vir my en wat julle my geglo het.

En al wat hy kan sê is, julle het op ‘n tyd omgegee en my aanvaar.  Al wat ek vra, in hierdie pyn wat hy verkeer is, dat Christus in julle gestalte sal vind.  Nie dat julle nou van my moet hou nie.  Maar al waarin ek belangstel is dat julle die waarheid sal hoor. 

Dit is nice is julle van my hou, maar dit is nie waaroor dit gaan nie.  Dit gaan oor die waarheid.  Dit gaan oor die gestalte van Christus in julle.  Dit gaan alles daaroor, om soos Jesus te wees

Weet jy wat is baie interessant?  En ek wonder of jy al dit ooit besef het of daaraan gedink het.  Nêrens in die Bybel en selfs in die Nuwe Testament sê dit dat jy soos die Heilige Gees moet wees nie.  Het jy dit geweet? 

En wat my bekommerd maak is wanneer mense rondgaan en net praat oor die Heilige Gees en wat die Heilige Gees doen, maar hulle praat nie oor Jesus Christus nie.  Ek dink ons moet op Christus gefokus weees.  Paulus sê,

1 Kor 11:1 Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is.

Kom ek gee een vers wat jou sal help.

2 Kor 3:18 En terwyl ons almal met onbedekte gesig (maw ons gesig is nie bedek nie, ons het nie ‘n sluier soos in die Ou Testament nie) soos in ‘n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.

Soos wat ons die Here Jesus Christus se heerlikheid aanskou, word ons verander van gedaante na daardie selfde beeld.  Ons fokus is op Jesus Christus.  Ons word verander na Sy beeld soos wat ons na Hom kyk en op Hom fokus.

God het nie net Jesus Christus vir ons gegee, om te kom en te sterf en terug te gaan na die Vader toe nie.  God het Jesus 33 jaar op die aarde plaas sodat ons na Hom kan kyk, Hom kan sien, sien hoe Hy geleef het, sien hoe Hy opgetree het, sien hoe Hy vir ons as mens ‘n voorbeeld gestel het.

En dit is ons doel, om soos Jesus te wees, en dit gebeur wanneer ons na Hom kyk en op Hom konsentreer, dan word ons verander van heerlikheid tot heerlikheid.  Die Heilige Gees werk agter die skerms.  Die Heilige Gees verander ons, maar ons fokus nie op die Gees nie, ons fokus op Christus.

Die Heilige Gees se werk is nie om die aandag op Homself te vestig nie, maar om die aandag op Jesus Christus te vestig.  Die Heilige Gees het nie gekom om van Homself te getuig nie, maar van Jesus Christus.

Joh 15:26  Maar as die Trooster gekom het wat Ek vir julle van die Vader sal stuur, die Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan, sal Hy van My getuig.

Kyk wat sê die volgende gedeelte:

Joh 16:13  Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.

Jy sien!  Die Heilige Gees het nie Sy eie boodskap nie, Hy kom verkondig die waarheid van Jesus Christus.  Hy kom herinner ons aan wat Jesus geleer het.  Hy kom getuig van Jesus Christus.

Hand 1:8 maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.

Julle sal MY GETUIES wees.  Dit gaan oor Jesus Christus.  Die Heilige Gees help ons om op Jesus Christus gefokus te bly.  Die vrug van die Gees is, , liefde, blydskap, vrede...ens.  Wat is dit?  Dit is om soos Jesus te wees.  Dit is die karaktereienskappe van Jesus.  Dit is ons doel, om soos Jesus te wees.

Gal 4:20 En ek sou wens om nou by julle teenwoordig te wees en my stem te verander, want ek is buite raad met julle.

Paulus sê, ek wens ek was by julle en het anders met julle gepraat.  Ek hou nie eers van hoe ek met julle praat nie.  Dit is nie lekker nie.  Maar hoe anders.  Ek is buite raad met julle.  Ek weet nie hoe anders om hoe om die saak te benader nie.

Ek is tog so bly Paulus het so gevoel.  Hy is nie die enigste een nie.  Ek voel somtyds ook so.  Daar is sommige mense wat jy oor en oor en oor antwoorde gee en jy help hulle oor en oor reg.  En dan as jy weer kyk, dan volg hulle maar weer en doen maar weer die verkeerde dinge.  Wat meer kan ‘n mens dan sê?  Wat meer kan ‘n mens doen.

As jy terug gaan na Hosea toe, dan sien jy dat God sê,

Hos 6:4 Wat sal Ek met jou doen, o Efraim...

‘n Mens kom eenvoudig net op ‘n punt waar jy nie meer iemand kan help wat nie gehelp wil word nie.  Alles wat jy kon doen, het jy gedoen.  Wat meer kan jy doen?  Baie ouers sal weet waarvan ek praat.  Van julle het seker al die moedeloosheid beleef, wanneer jy alles in jou vermoë gedoen het en net eenvoudig op ‘n punt gekom het en nie meer weet wat om te doen nie. 

Dit is Paulus se dilemma met die gemeentes van Galasië.  En al wat hy kan sê is, word soos Jesus.  Want jy sien, ‘n Christen is iemand wat beklee is met die karakter, met die gesindheid, met die gewoontes en met die deugde van Jesus Christus.

Rom 13:14 Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie.

Gal 3:26 Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus;
27 want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee.

Dit verwys na die dag van jou bekering.  Hoe word ek ‘n kind van God? Deur die geloof in Christus Jesus.  V27 sê, julle is in Christus gedoop.  Dit verwys nou nie na die waterdoop nie.  Dit verwys na die dag wat jy tot bekering gekom het, toe is jy in Christus geplaas. 

Die woord vir doop “baptizo” kan ook vertaal word met “in geplaas”.  Almal wat in Christus geplaas is.  Almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee.  So maw, al die kinders van God het Jesus Christus aangetrek.  Ons moet soos Jesus word.

Uiterlike godsdiens bring nie innerlike verandering nie.  Dit is die Gees van Christus in ons wat os verander.  Die Gees in ons verander ons om soos Jesus te wees.  Ons moet op Jesus fokus en Sy heerlikheid aanshou, dan sal ons verander om soos daardie selfde beeld te word, van heerlikheid tot heerlikheid.

Slot

Prof Johan Malan sê: “...Sondaars soek na ‘n maklike en fisies tasbare manier om tot die Christendom toe te tree sonder om noodwendig hulle lewenstyl te verander. Baie kinders van die Here is ook nie meer met die gewone beskouings oor geestelike groei tevrede nie en soek na buitengewone ondervindings in hulle geestelike lewe. Hulle wil in een, dramatiese oomblik met die Gees gedoop word en ook spesiale gawes kry om hulle vervelige lewe ‘n bietjie op te kikker. Dit open die weg na talle dwalings.

Op hierdie manier word die deur vir die sensuele en die skouspelagtige oopgemaak, en só word die vlees gestimuleer. Dit bevorder ‘n humanistiese selfbeeld wat wel ‘n uiterlike Christelike voorkoms mag hê, maar in werklikheid geen neiging tot ware geestelikheid het nie. Die nuwe gawes en vreemde manifestasies word vir selfverheerliking en ter wille van vermaaklikheid beoefen, en dra geensins tot die uitbreiding van God se koninkryk op aarde by nie.”



No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288