Monday 30 May 2011

Die gestalte van Christus in ons


Tema:  Die gestalte van Christus in ons (Gal 4:12-20)

Gal 4:12 Broeders, ek bid julle, word soos ek, want ek is ook soos julle. Julle het my geen onreg aangedoen nie;
13 maar julle weet dat ek ten gevolge van krankheid van die vlees die eerste keer die evangelie aan julle verkondig het;
14 en julle het my beproewing in my vlees nie verag of verfoei nie, maar julle het my ontvang as ‘n engel van God, ja, as Christus Jesus.
15 Wat was dan julle saligprysing? Want ek getuig van julle dat julle, as dit moontlik was, jul oë uitgegrawe en vir my sou gegee het.
16 Het ek dan julle vyand geword deur julle die waarheid te vertel?
17 Hulle ywer vir julle is nie goed nie, maar hulle wil ons buitesluit, sodat julle vir hulle kan ywer.
18 Dit is goed as daar altyd geywer word in ‘n goeie saak en nie alleen wanneer ek by julle teenwoordig is nie,
19 my kinders, vir wie ek weer in barensnood is totdat Christus in julle ‘n gestalte verkry.
20 En ek sou wens om nou by julle teenwoordig te wees en my stem te verander, want ek is buite raad met julle.

In die boek Galasiërs verdedig Paulus die ware evangelie, dat ons geregverdig word deur die geloof, teen ‘n ander valse evangelie wat sê jy word gered deur jou werke. 

Paulus was saam met sy vriend Barnabas op ‘n sendingreistog, en ons lees dat hy ‘n hele paar kerke gestig in die gebied van Galasië.  (kaart) Dit is plekke soos Derbe, Listre, Antiochíë en Ikónium.  Ons lees daarvan in Hand 14.  Hy het hierdie kerke gestig op die basis van die saligheid wat uit genade is, deur geloof alleen.

Maar hy was skaars weg, toe kom daar Jode uit Jerusalem wat sê hulle is Christene en hulle begin om vir die mense te vertel dat om net te glo is nie genoeg nie.  Hulle vertel vir die mense dat geloof is nie genoeg nie en dat hulle besny moet word en die wet moet onderhou.

Paulus het toe daarvan uitgevind en skryf toe vir hulle ‘n brief, dit is nou hierdie brief aan Galasië, wat aan al hierdie gemeentes gestuur is.  En Paulus wil deur hierdie brief vir hulle sê dat hierdie Judeërs wat Joodse rituele en sermonies op die gemeentes wil op lê, verkeerd is, dat hulle moet vashou aan die redding wat deur die genade van Christus kom.  Dit is die boodskap van die boek Galasiërs.

Nou hier in Gal 4 vanaf vers 12, nadat hy vanaf uit ‘n teologiese perspektief sy saak verdedig het, raak hy persoonlik.  Hy spreek sy begeerte teenoor hulle uit en waarsku hulle.  Hy vermaan hulle persoonlik. 

Gal 4:12 Broeders, ek bid julle, word soos ek, want ek is ook soos julle...

KJV
Gal 4:12 Brethren, I beseech you, be as I am; for I am as ye are: ...

“I beseech you”, Ek smeek julle, “word soos ek, want ek is ook soos julle”.  Nou wat probeer hy sê?  Hoe kan hy sê hulle moet soos hy word net soos wat hy soos hulle is?  Nou wat probeer Paulus nog die hele tyd sê in die boek van Galasiërs?  Hy probeer vir hulle sê, hulle is vry van die wet.  Gal 5 sê bv.

Gal 5:1 Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie.

En dit is wat Paulus regdeur die hele brief sê.  Moenie aan die wet vashou nie.  En hier praat hy nie van die morele wet van God nie.  Hy praat hier van die seremoniële wette en rituele.  Moenie aan hierdie wette vashou met die doel dat julle dink dat julle daardeur gered kan word nie.  Wees vry van die wet soos wat ek is.

Word soos ek, wees vry van die wet soos ek.  Jy kan nie gered word deur die wet te onderhou nie.  Daar is geen nut om julle onder die Joodse seremonies te bring nie.  Moenie julle onder die juk van diensbaarheid bring nie.  Wees vry in Christus soos ek, leef in die genade van die Here soos ek.  Dit is was Paulus bedoel as hy sê, word soos ek.

Hoekom?  “...want ek is ook soos julle.”  Wat beteken dit?  U sal onthou dat Paulus was ook ‘n Jood, ‘n Fariseër.  Hy het al die wette geken en was diep in die wette.  Maar toe Paulus tot bekering kom, wat het gebeur?

Fil 3:8 Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry

Paulus het al hierdie wette en godsdiens as drek beskou, hy het dit alles prys gegee, om Christus as wins te verkry.  Hy het weggebreek van wettisisme, uit onder die Joodse wet, en hy het soos ‘n heiden geword wat nie ‘n wet het nie.

Hy het die wet as ‘n middel tot redding verlaat en hy het ook die rituele wette en seremoniële wette verlaat as ‘n middel tot heiligmaking.  Hy het na Galasië toe gegaan net soos ‘n heiden wat nie onder die juk van die wettige sisteem is nie.  Hy is vry van die wet en dit is die vryheid wat hy aan hulle verkondig het.

Hoe wil hulle nou na die wet toe gaan as hulle nooit onder die wet was nie.  En hier praat hy van die rituele en seremoniële wette.  So dit is wat Paulus probeer sê.  Hy sê, ek het vry geword van die wet soos een van julle.  Nou wil julle word soos wat ek was toe ek nie vry was nie, terwyl julle nooit ‘n wet gehad het nie.

Paulus sê, Broeders, ek bid julle, ek smeek julle, word soos ek, vry van die wet, want ek is ook soos julle, julle heidene wat vry is van die wet.  Gal 4:12 sê dan verder,

Gal 4:12b ... Julle het my geen onreg aangedoen nie;

Julle het niks verkeerds aan my gedoen nie.  Julle het my goed ontvang.  Julle het nie met my geargumenteer nie.  Julle het my nie van iets verkeerds beskuldig nie.  Julle het my boodskap gehoor en dit aanvaar.  Julle het my met liefde aanvaar.

Wat sê Paulus?  Hoekom draai julle nou teen my?  Wat het gebeur?  Wat het verander?  Toe ek soos een van julle geword het, het julle my geen onreg aangedoen nie. 

Jy sien, toe Paulus in Galasië begin preek het was dit al die Jode wat sy boodskap verwerp het.   Maar die heidene het gesê, kom ons doen dit weer volgende week.  En dit is wat Paulus gedoen het.  Die Heidene het sy boodskap aanvaar en hom geen onreg aangedoen nie.

Maar wat het nou gebeur?  Hoe het hulle skielik so teen hom gedraai?  En dit moes hartsverskeurend gewees het vir Paulus.  Hy het omgegee vir hierdie mense.  Maar hoekom is hulle nou teen hom?  Want hulle het die Judeërs se wettiese godsdiens ingesluk, hoek, lyn en sinker.  Hulle het geval vir die Judeërs.

Dit moes hartseer gewees het vir Paulus; want hy was lief vir hierdie mense.  Dit is wat ons noem “geestelike afvalligheid”, en dit moet die grootste hartseer wees vir enige dienskneg van die Here. 

Hoeveel te meer nie vir Jesus nie.  Hoe moet die Here voel oor mense wat nie Sy reddened genade aanvaar nie en vasgevang word in ‘n wettiese godsdienstige sisteem?  Mense wat dink dat hulle God se genade kan verdien deur hul werke.

Kyk hoe het Jesus gevoel oor Jerusalem.

Matt 23:37 Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie!

Jesus het geween oor Jerusalem.  God het alles gegee wat Hy moontlik kon gee vir Israel.  Hy het Sy Seun gegee.  Maar hulle wou nie.  Kan jy net indink hoe moet God vandag voel oor geestelike afvalligheid.  Kyk byvoorbeeld na Hosea 11.

Hos 11:1 Toe Israel ‘n kind was, het Ek hom liefgehad, en uit Egipte het Ek my seun geroep.

God noem Israel, Sy kind.

Hos 11:2 Hoe meer die profete hulle geroep het, des te meer het hulle van húlle af weggeloop; hulle het aan die Baäls geoffer en vir die gesnede beelde rook laat opgaan.

Daar is baie ouers wat weet wat dit is om ‘n kind lief te hê en groot te maak so goed as wat hulle kan, en wanneer die kind groot word, draai hy eenvoudig net sy rug op sy ouers en op God.  Ons sien dit gebeur so baie.  Weet jy wat?  God weet hoe jy voel.

Hos 11:3 En Ek self het Efraim leer loop. Hy het hulle op sy arms geneem, maar hulle het nie erken dat Ek hulle genees het nie.

Maw God het Efraim op sy arms geneem en hom geleer om te loop.  Julle weet hoe dit werk.  Jy help die kind en dan nie lank daarna nie, laat jy gaan.  Dan gee die kind ‘n tree hier, slinger daar en DOEF!  Kop op die koffie tafel.  Wat doen jy dan?  Gryp hom in jou arms kyk of hy seergerky het, troos en soen alles reg.  Dit is wat God sê.

Hy het Efraim geleer om te loop en elke keer as hy val, het Hy hulle genees.  Maar hulle het dit nie erken nie.  Hulle het nie geweet dit is God wat hulle gehelp het nie.

Hos 11:4 Met mensebande, met koorde van liefde het Ek hulle getrek; en Ek was vir hulle soos diegene wat die juk van hulle kakebeen af oplig; en Ek het My na hom neergebuig, Ek het hom voedsel gegee.

God beskryf Sy liefde aan Israel en dat Hy omgee.  Hy het aan hulle voorsien.  En die rede waarom God se hart so seer was oor Israel, was juis as gevolg van Sy liefde vir hulle.

Hos 6:4 Wat sal Ek met jou doen, o Efraim; wat sal Ek met jou doen, o Juda? aangesien julle liefde is soos ‘n môrewolk en soos ‘n dou wat vroeg weer verdwyn.

Die hemel ween oor geestelike afvalligheid.  Maar hoor wat sê God oor Israel in hoofstuk 14.

Hos 14:4 Ek sal hulle afkerigheid genees, hulle vrywillig liefhê, want my toorn is van hulle afgewend.
5 Ek sal vir Israel wees soos die dou, hy sal bloei soos ‘n lelie en sy wortels uitslaan soos die Líbanon.
6 Sy lote sal uitsprei, en sy prag wees soos dié van ‘n olyfboom en sy geur soos die Líbanon.

So dink jy daar is hartseer in die hemel?  Verseker.  Maar ek dink dit maak dit net erger wanneer die hartseer gaan oor mense wat beter geweet het.  Om gewilliglik die verkeerd te kies voor ‘n liefdevolle God.  As Jesus so gevoel het en God so gevoel het, voel die Heilige Gees sekerlik ook so.

Ef 4:30 En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing.

Het jy geweet dat die Heilige Gees bedroef kan word?  Hoe?  Deur sonde.  Die vers voor en na v30 praat oor sonde.  Vandag is God ook bedroef deur Sy kinders se sonde.  Net so voel Paulus dan ook in Gal 4 oor die geestelike afvalligheid.  Hy verstaan dit nie.  Hoe het alles so verander?

Gal 4:13 maar julle weet dat ek ten gevolge van krankheid van die vlees die eerste keer die evangelie aan julle verkondig het.

Wat hier kon gebeur het is dat Paulus die eerste keer toe hy na hulle toe gekom het, hy siek geword het en hy nie ‘n keuse gehad het nie, maar moes bly in Galasië.  En as gevolg daarvan was hy in Galasië en het hy die evangelie aan hulle daar verkondig.

14 en julle het my beproewing in my vlees nie verag of verfoei nie, maar julle het my ontvang as ‘n engel van God, ja, as Christus Jesus.

Ten spyte van wat die siekte ookal was, het hulle hom ontvang as ‘n engel van God, selfs as Jesus.  En dit is waarom Paulus nie verstaan hoekom hulle nou so skielik teen hom gedraai het nie.  Nou het hulle die besnydenis en wettiese godsdiens aanvaar.

Nou, siekte, swakheid en teenspoed was altyd deur die Jode beskou as God wat straf.  Bv. in Joh 9 lees ons van ‘n blinde man.  Die disspels sê,

Joh 9:2 ...Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is?

Maw hoe dink hulle?  Wat is hulle teologiese raamwerk?  Hulle het geglo dat as jy siek is, het jy iets verkeerds gedoen en God straf jou.  Jy onthou wat Job se vriende vir hom gesê het, toe dit so sleg gaan met hom.  Die Jode het dit geglo en ook die heidene.  Die heidene het geglo dat wanneer jy siek is dan is dit die gode wat jou straf.

Toe Paulus deur ‘n slang gebyt is, toe sê die inboorlinge, hy is seker ‘n moordenaar.  Die gode is kwaad vir hom.  Hulle straf hom vir sy misdade.  Dit is hoe hulle dit gesien het.  Maar toe Paulus in Galasië was, en siek was, het hulle hom aanvaar.  Hulle het oor hulle eie teologiese hekkie gespring.  Volgens hul eie teologie kon hulle Paulus bevraagteken het en sy boodskap verwerp het, maar hulle het hom aanvaar.

Hulle kon gevra het, as Paulus ‘n man van God is, en ‘n wonderweker is, waarom is hyself dan siek.  Maar hulle het nie, hulle het hom aanvaar.  Hulle het hom ontvang as ‘n engel van God, as Jesus self.

Hand 13:42 En toe die Jode uit die sinagoge gaan, het die heidene versoek dat daardie woorde op die volgende sabbat tot hulle gespreek sou word.
43 En toe die sinagoge uit was, het baie van die Jode en die godsdienstige Jodegenote Paulus en Bárnabas gevolg. Dié het hulle toegespreek en hulle probeer beweeg om in die genade van God te bly.
44 En op die volgende sabbat het byna die hele stad saamgekom om die woord van God te hoor.

48 En toe die heidene dit hoor, was hulle bly; en hulle het die woord van die Here geprys; en daar het gelowig geword almal wat verordineer was tot die ewige lewe.
49 En die woord van die Here is deur die hele land verbrei.

Die eerste keer toe die apostel Paulus daar aangekom het, het die mense hul arms oopgegooi en hom verwelkom en aanvaar.

Hand 14:8 En in Listre het daar ‘n man gesit wat magteloos was aan sy voete, kreupel van sy geboorte af, en hy het nooit geloop nie.
9 Hy het geluister terwyl Paulus spreek; en Paulus het die oë op hom gehou, en, toe hy sien dat hy geloof het om gesond te word,
10 met ‘n groot stem gesê: Staan regop op jou voete! En hy het opgespring en begin rondloop.
11 En toe die skare sien wat Paulus gedoen het, verhef hulle hul stem en sê in Likaónies: Die gode het soos mense geword en neergedaal na ons toe.

Dit het gebeur toe Paulus in Galasië, in Listre was en hy self siek was.  Hulle het hom soos ‘n koning ontvang, maar hy moes hulle reg help.  En nou dat hy aan hulle skryf en hulle reg help, hou hulle nie van sy boodskap nie.

Jy sien, mense is wispelturig.  Daar is baie mense wat van jou sal hou totdat jy iets sê wat hulle nie wil hoor nie.  Wanneer dit kom by die Woord van God, kan jy egter nie kies en keur nie.  Jy kan nie sekere gedeeltes vir jouself vat en ander gedeeltes vermy omdat jy nie daarvan hou nie.  Ons moet die hele Woord van God aanvaar en predik.  Kyk wat gebeur verder.

Kom ons gaan terug na Gal 4,

Gal 4:15 Wat was dan julle saligprysing?...

Wat sê Paulus?  Hy sê, wat het geword van julle saligprysing? Wat het geword van julle vergenoegdheid?  Julle was so tevrede.  Waar is julle vreugde?  Kan julle nie onthou hoe goed julle die boodskap aanvaar het en hoe bly julle was nie?  Wat gaan nou aan?  As Paulus gehuil het, was dit sekerlik hier.

15 ...Want ek getuig van julle dat julle, as dit moontlik was, jul oë uitgegrawe en vir my sou gegee het.

Is julle nie nou meer te vrede net met die genade van die Here nie?  Is julle nie te vrede met geloof alleen nie? As jy teruggaan na v11 dan sê Paulus,

Gal 4:11 Ek vrees vir julle dat ek miskien tevergeefs aan julle gearbei het.

Paulus wonder of hy nie dalk sy tyd met hulle gemors het nie.

Gal 4:16 Het ek dan julle vyand geword deur julle die waarheid te vertel?

Is dit nie interessant dat mense net na jou sal luister solank as wat jy vir hulle vertel wat hulle wil hoor?  Dit is baie maklik om ‘n gemeente te laat groei...preek vir die mense wat hulle wil hoor.  Streel mense se ore.

Nou, ek is nie hier om vir mense te preek wat hulle wil hoor nie.  Ek is hier om vir mense te preek wat hulle moet hoor.  En as dit sou beteken dat ek vyande daardeur gaan maak, dan is dit so.

Somtyds is mense baie bly om die boodskap van die evangelie te hoor en aanvaar dit met blydskap, maar hulle doen dit vir selfsugtige redes.  Wanneer dit ‘n prys gaan kos, dan is hulle nie bereid om alles vir God te gee nie. 

In hierdie geval is dit mense wat nie te vrede is net met die genade van die Here nie.  En wanneer hulle die waarheid hoor, dan draai hulle hul rug op dit. 

Hoekom sou mense eerder ‘n wettiese godsdiens verkies bo die genade van die Here?  Want ‘n uiterlike goedsdiens is tasbaar.  Jy kan dit sien.  Jy kan x aantal dinge doen en dit skep ‘n gevoel van super-geestelikheid.

Paulus waarsku hulle en hy vertel hulle reguit in v17.

Gal 4:17 Hulle ywer vir julle is nie goed nie, maar hulle wil ons buitesluit, sodat julle vir hulle kan ywer.

KJV
Gal 4:17 They zealously affect you, but not well; yea, they would exclude you, that ye might affect them.

Hulle maak ‘n groot bohaai oor julle.  Hulle is ywerig oor julle.  Hulle kom vertel julle, julle is die wonderlikste mense.  Hulle het ‘n diepe besorgdheid oor julle.   Hulle wen julle oor met vleitaal.  Hulle is skielik julle beste vriende.  Maar hulle ywer vir julle is nie goed nie.

Hulle het nog nooit ‘n eerlike rede gehad of ‘n goeie doel gehad nie.  Hulle doel was om julle buite te sluit.  Om julle van die genade uit te sluit, van die seën wat in die genade is uit te sluit, sodat julle vir hulle kan ywer.  Hulle wil julle deel maak van hulle sisteem, sodat jy na hulle kan opkyk en hulle kan gehoorsaam.  Dit is wat Paulus sê.

Die Judeërs wou die Galasiërs aan hulle Joodse manier gehoorsaam maak.  Hulle wou hulle beheer.  Hulle plaas hulle weer onder diensbaarheid. 

Die waarheid is dat hulle nie regtig omgegee het vir die Galasiërs nie.

Gal 6:12 Almal wat ‘n mooi vertoning in die vlees wil maak, dié dwing julle om julle te laat besny net om nie ter wille van die kruis van Christus vervolg te word nie.

Dit is presies wat vandag gebeur.  Mense is daarop uit om ander te vang met hulle eie sisteme, terwyl die Bybel sê ons is tot vryheid geroep.

Gal 4:18 Dit is goed as daar altyd geywer word in ‘n goeie saak en nie alleen wanneer ek by julle teenwoordig is nie,

Paulus sê, daar is niks met ywer verkeer nie, veral nie as dit vir ‘n goeie saak is nie.  Paulus is nie kwaad omdat hulle nie hom volg nie.  Hy is kwaad omdat hulle vir die verkeerde dinge geywer het.  Paulus is nie jaloers nie, dit gaan vir hom oor die waarheid.  Solank Christus in hulle gestalte verkry.

Gal 4:19 my kinders, vir wie ek weer in barensnood is totdat Christus in julle ‘n gestalte verkry.

Dit is alles waaroor dit gaan.  Dat Christus in julle gestalte sal verkry.  Hy sê ek ervaar hierdie pyn, want ek wil sien dat dit alles daaroor sal gaan, dat Christus in julle gestalte verkry.  Dat julle sal groei tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus.  En dit is die doel van elke Christen se lewe, om soos Jesus te wees.  Om gelykvormig te word aan die Seun van God.

Slot

Rom 13:14 Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie.

Ons moet die gestalte van Jesus hê, ons moet meer soos Hy word.  Ons moet nie ‘n godsdienstige gestalte aanneem nie.  Sommige mense wanneer hulle by ‘n kerk aansluit, dan neem hulle die gestalte van daardie kerk aan.  Hulle gaan deur al die motions.  Got the T-shirt, got the bumper sticker.

Nee! Word soos Paulus, vry van godsdienstige wette.  Ons is gered uit genade deur die geloof.  Nie deur werke nie.  Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir die wat glo.  Dit gaan oor ‘n lewende verhouding met die Jesus Christus.








No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288