Friday 6 May 2011

Die waarheid maak vry

Teksgedeelte: Joh 8:30-32

Joh 8:30 Terwyl Hy hierdie dinge spreek, het baie in Hom geglo.
31 En Jesus sê vir die Jode wat in Hom geglo het: As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels.
32 En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.

Tema: Die waarheid maak vry

Hierdie gedeelte is ongelooflik belangrik wanneer ons ‘n begrip wil vorm van ware dissipelskap en ware verlossing. Dit is krities belangrik, want Jesus plaas hier die klem op die hart van ware dissipelskap en Hy doen dit deur te praat oor twee basiese dinge en dit is die waarheid en vryheid. 

En hierdie is die twee dinge wat die mens nog altyd gesoek het, waarheid en vryheid.  Hierdie twee dinge loop altyd saam, want die enigste ding wat die mens waarlik vry kan maak is die waarheid.

Mense het nog altyd hierdie vrae gevra: Wat is die waarheid?  Wat is reg?  Wat is verkeerd?  Wat is dit wat saakmaak?  Wat is betekenisvol?  Waarop kan ek my lewe bou en weet dit is die regte ding?  Waarop kan ek vertrou?  Waarop kan ek staat maak?  En so is ons almal opsoek na die waarheid.  En die waarheid alleen sal ons vrymaak en so is die mens opsoek na die waarheid wat hom kan bevry.

Die hartseer is dit, dat baie mense het eenvoudig net opgegee.  Sommige het tot die slotsom gekom dat daar eenvoudig geen waarheid is nie, en dat niks werklik sinvol is nie, dat die lewe nie betekenis het nie en al wat jy moet doen is om vir die oomlik te leef. 

So die maklik manier is om die waarheid te ontvlug, om die feit dat hulle nie die waarheid kan vind nie, daarvan weg te vlug.  Mense vlug weg van die realiteit en raak betrokke by enige ding bv. dwelms of seksuele vryheid of doen elke moontlike ding, dalk selfmoord omdat hulle dink dat daar geen betekenis vir hulle bestaan is nie.  Alles is so doelloos.

Daar ‘n lewends filosofie wat genoem word “eksistentialisme”.  Dit beteken dat jy net ‘n oomblik het om te lewe.  Niks maak saak nie, net daardie oomblik wat jy het.  So jy moet daardie oomblik aan gryp, dit uitleef en net doen wat jy wil daarmee.  Dit is eksistentialisme.

“Seize the moment, seize the day”, want dit is al wat jy het.  Gryp die oomblik aan en melk dit, druk alles wat jy kan daaruit, want dit maak nie regtig saak wat jy doen nie.  Daar is nie reg of verkeerd nie.  So het die soektog na die waarheid vir sommige ‘n eindelose proses geword.  Al wat daar is, is dat daar geen waarheid nie. 

Ek is so bly dat ons die waarheid kan hê en dat ons dit leer ken het.  Daar is soveel mense wat die waarheid nie ken nie, maar wat dit nog meer hartseer maak is, wanneer hulle die waarheid hoor, draai hulle net hul rug daarop en wil dit nie hê nie.  Soms gaan sit jy by mense en jy deel met hulle die waarheid en hulle stel eenvoudig net nie belang nie.

Joh 8:45 Maar omdat Ek die waarheid spreek, glo julle My nie.

Watter mens wil nie die waarheid hê wat hom kan vry maak nie?  En luister jy kan rond hardloop en doen net wat jy wil maar as jou siel nie vrygemaak is nie, is jy in slawerny.  Die anderkant is ook waar.  ‘n Persoon se siel kan vrygemaak wees deur Jesus Christus en jy kan hom fisies ‘n slaaf maak of in ‘n tronk sit, maar hy bly steeds ‘n vry mens.  Dit is ware vryheid.

Die enigste ding wat die mens ooit kan vrymaak is die waarheid.  En hierdie waarheid is alleen te vind in Jesus Christus. Dit is die enigste waarheid wat jou sal vrymaak.

As jy nou iemand wat vry is wil ontmoet, is dit Paulus.  Waar was hy?  In die tronk.  Sy hande en voete was in blokke.  En wat is hy besig om te doen?  Hy sing tot eer van God.  Hy is so vry soos wat vry kan wees.  Hy het die waarheid geken en die waarheid het hom vrygemaak.

Hier in Joh 8 is Jesus besig om met die Joodse leiers ‘n gesprek te voer.  En hierdie is net ‘n paar maande voordat Hy gekruisig sal word.  Hy het verklaar wie Hy is.  Hy het wonderwerke verrig.  Hy het leringe gegee en wat was hulle reaksie?  Hulle sê Hy is nie wie Hy sê Hy is nie.  Hulle het vir Hom kwaad geword.

Ons sien dat hulle begin het om planne te beraam om Hom dood te maak.  Hulle spot met Hom en hulle verstaan eenvoudig net nie.  Maar in die midde van dit alles was daar wel diegene wat geglo het en dit is hulle is v30.

Joh 8:30 Terwyl Hy hierdie dinge spreek, het baie in Hom geglo.

Maar hierdie geloof was egter nie geloof wat hulle gered het nie.  Jesus sê nie dat hulle geglo het tot redding nie. Hulle het begin om te glo wie Jesus sê Hy is, dat Hy die Messias is.  Hulle het begin om dit te glo.  En Jesus wil hulle vat van hier af na volkome geloof, na reddened geloof.  En dit is hoekom Hy praat hier oor die waarheid wat vrymaak.

In die geval met die Joodse leiers was dit egter nie suksesvol nie.  Hy probeer hulle lei van hul begin van geloof na volkome commitment en verstaan van die waarheid en vryheid in Christus.  En dit sien ons in v31 en 32.  Jesus neem hulle vanwaar hulle geloof nou is na waar hulle geloof moet wees.

Joh 8:31 En Jesus sê vir die Jode (ver al die Joodse leiers) wat in Hom geglo het: As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels.

Die KJV sê, “If ye continue in my word, then are ye my disciples indeed.”  Jy sien!  Wanneer ‘n mens in die Woord van Jesus Christus bly, is dit ‘n bewys van ware geloof.

En wanneer jy glo en bly in Sy Woord, dan sal jy die waarheid ken en die waarheid sal jou vrymaak.  So die pad na vryheid is viervoudig...glo, bly, ken die waarheid, die waarheid sal jou vry maak.

Tussen al die gespottery en antagonisme en verwerping van die Jode, is daar wel baie wat begin het om te glo.  Maar ons lees egter in v45 dat hierdie dieselfde mense wat geglo het in v30, glo nie meer in v45 nie.  Jy sien!  Daar is ‘n verskil tussen ware, egte geloof en voorgee of skyn geloof.

Wanneer die Bybel sê dat iemand glo, moet jy na die konteks gaan kyk en moet jy na die vrug van daardie persoon se lewe gaan kyk om te sien of hy werklik reddende geloof het en of dit net skyn geloof is.

Om dit duideliker te maak, blaai ons terug na Joh 2:23. En hier is een van die belangrikste waarhede wat jy ooit sal leer oor saligheid, en jy moet dit verstaan.

Joh 2:23 En toe Hy in Jerusalem was op die pasga gedurende die fees, het baie in sy Naam geglo, omdat hulle die tekens gesien het wat Hy doen.

Maar kyk wat sê die volgende twee verse,

24 Maar Jesus self het Hom aan hulle nie toevertrou nie, omdat Hy almal geken het
25 en omdat Hy nie nodig gehad het dat iemand van die mens sou getuig nie; want Hy self het geweet wat in die mens is.

Sien jy dit!  Jesus het geweet wat die kwaliteit van hulle geloof is.  Hy het hulle geken en het geweet wat in hulle is.  Hulle het geloof gehad maar nie die commitment om hulle lewens te gee vir daardie geloof nie.  Daar is vandag baie mense wat glo dat Jesus die Seun van God is, maar hulle is nie gered nie.

Kom ek illustreer dit vanuit ‘n ander hoek af.

Luk 8:13 En dié op die rots is hulle wat die woord met blydskap ontvang wanneer hulle dit hoor; en hulle het geen wortel nie, aangesien hulle net vir ‘n tyd glo, en in die tyd van versoeking val hulle af.

Hul geloof is nie eg nie.  Hul geloof is net tydelik.  Dit is hoe die Joodse leiers se geloof in Joh 8 is.  In v30 glo hulle, maar in v45 glo hulle nie.  Nou ware geloof is nie so nie.  Ware geloof is nie tydelik nie.  Ware geloof is reddende geloof.  Kom ek gee nog ‘n voorbeeld.

Joh 12:42 Maar tog het selfs baie van die owerstes in Hom geglo; maar ter wille van die Fariseërs het hulle dit nie bely nie, om nie uit die sinagoge geban te word nie.

Hulle het geglo, maar hulle het nie bely nie.  Maw hulle geglo dat Jesus is wie Hy sê Hy is, maar hulle het nie Hom bely as hulle persoonlike Verlosser nie.  Wat sê Paulus in Rom 10:9 & 10?

Rom 10:9 As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word;
10 want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.

Jy sien!  Glo en bely.  Ware geloof is geloof wat bely!  Jakobus het vir ons dit so gestel en dit is ‘n baie belangrike waarheid.  Hy sê,

Jak 2:17 Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood.

Maw jou geloof is nie eg as daar nie iets met jou gebeur nie.

Jak 2:19 Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder.

Geloof sonder belydenis, sonder werke is dooie geloof, is nie ware geloof wat jou red nie.

Matt 10:32 Elkeen dan wat My sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is.

Daar is nie so iets soos geheime dissipels van Jesus nie.  Jesus het nie geheime agente nie.  Of jy bely jou geloof voor almal, of jy het nie ware geloof nie.

Joh 6:14 Toe die mense dan die teken sien wat Jesus gedoen het, sê hulle: Hy is waarlik die profeet wat in die wêreld sou kom.
15 En toe Jesus merk dat hulle wou kom en Hom met geweld neem om Hom koning te maak, het Hy weer weggegaan na die berg, Hy alleen.

Hierdie ouens het werklik geglo dat Hy die Een is en hulle wou Hom met geweld koning maak, maar as jy nou verder lees en kom by v66 dan lees jy,

Joh 6:66 Hieroor het baie van sy dissipels teruggegaan en nie meer saam met Hom gewandel nie.

Hoekom nie?  Want hulle geloof was nie ware geloof nie.  Hulle het nie behoudende geloof gehad nie.  Hulle het nie reddende geloof gehad nie.  Hulle geloof was dood.  Kom ek gee vir julle nog ‘n gedeelte.

Heb 10:38 Maar die regverdige sal uit die geloof lewe; en as hy hom onttrek, het my siel geen welbehae in hom nie.
39 Maar by ons is daar geen onttrekking tot verderf nie, maar geloof tot behoud van die lewe.

Sien jy dit!  Daar is mense wat glo, maar hul geloof is nie geloof wat lei tot die lewe, tot verlossing nie.  Hulle glo net en dan onttrek hulle.  Maar die Hebreër skrywer sê, dat by ons is daar geen onttrekking nie.  Ons het geloof tot behoud van die lewe.  Ons het genuine geloof.

KJV
Heb 10:39 But we are not of them who draw back unto perdition; but of them that believe to the saving of the soul.

Glo is net die begin, maar dit stop nie daar nie.  Dit moet geloof wees wat jou sal behou, geloof wat jou siel sal red.

Hoe lyk geloof wat red?  Wanneer jy glo dat alles wat Jesus oor Homself gesê het die waarheid is, wanneer jy glo dat alles wat Jesus oor jou gesê het die waarheid is, wanneer jy glo dat God se oordeel oor hierdie wêreld gaan kom, wanneer jy glo dat die liefde van God gegee is vir hierdie wêreld, en jy jou lewe kan vat en in die hande van Jesus Christus plaas, dan het jy die geloof wat jou siel red.

Kom ons kyk na die volgende stap in Joh 8:31.  Jesus sê vir die Joodse leiers, As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels.”  Dan is julle waarlik, “alethos” , genuine, werklik my dissipels.  Nou hierdie is nie ‘n voorwaarde vir redding nie.  Hierdie is ‘n bewys van redding.  Jakobus sê, deur jou werke kan ek jou ware geloof sien.  Maw wanneer jy ware geloof het sal jy in Sy Woord bly!!

Hoe weet ek iemand het ware geloof?  Hy bly in die Woord.  Dit is ‘n bewys van geloof.

1 Joh 2:19 Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie.

Maw as iemand omdraai en wegloop, het hy nie ware geloof gehad in die eerste plek nie.  Ware geloof is geloof tot behoud van die lewe. “Belief to the saving of the soul”. 

Daar is ouens wat glo dat iemand ‘n Christen was en omgedraai het en hul rug op God gedraai het.  Het hulle dan hul saligheid verloor?  Was hy ‘n kind van God en nou nie meer nie?  Johannes sê so duidelik, as hulle van ons was, sou hulle gebly het, maar die feit dat mense omdraai en wegloop is ‘n bewys dat hulle nie waarlik gered was nie.

Het jy geweet, jy kan sien wie is ‘n ware dissipel?  Hy wat in die Woord bly.  He that continues in the Word.  Wat beteken dit om in die Woord te bly?  Dit beteken dat om die Woord te gehoorsaam.  Gehoorsaamheid is die vrug van ware bekering.

Matt 7:16 Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ‘n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie!

Daar is baie mense wat sê hulle is Christene, maar hulle het geen liefde vir God se Woord nie.  Hulle bly nie in God se Woord nie.  Hulle gehoorsaam nie God se Woord nie.  Jesus sê, “As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels.”

Het julle geweet die woord “dissipel” in Grieks is die woord “mathetes” en dit beteken letterlik, “leerling”.  ‘n Dissipel is ‘n leerling.  ‘n Leerder.  Dit beteken nie volgeling nie.  Dit beteken leerling.  Om by Jesus se voete te sit en te leer.  Dit is ‘n dissipel van Jesus.

Matt 11:29 Neem my juk op julle en leer van My...

Kom ek vertel jou iets!  Hoe meer jy van Hom leer, hoe meer het jy Hom lief en hoe meer het jou broeders lief.

Is jy waarlik ‘n dissipel? Geloof is waar dit begin, maar die vraag is bly jy in Sy Woord, “do you continue in His Word?”  Die karakter van ‘n ware dissipel is iemand wat lief is daarvoor om by Jesus se voete te sit en te leer.

1 Pet 2:2 en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei.

Jakobus gaan egter verder en sê, jy moet nie net ‘n hoorder wees nie, maar ‘n dader.  So hierdie dinge loop almal saam.

2 Joh 1:9 Elkeen wat ‘n oortreder is en nie bly in die leer van Christus nie, hy het God nie. Wie in die leer van Christus bly, hy het die Vader sowel as die Seun.

As jy waarlik ‘n dissipel is, sal jy bly by die leer van Christus.  Jy sal bly God se Woord.  Jy sal nie buite God se Woord gaan nie.  Jy sal bly by die Woord van God.

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288