Thursday 19 May 2011

Om waarlik vry te wees


Teksgedeelte Joh 8:32-36

Joh 8:32 En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.
33 Hulle antwoord Hom: Ons is die geslag van Abraham en het nog nooit vir iemand slawediens verrig nie; hoe sê U dan: Julle sal vry word?
34 Jesus antwoord hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat die sonde doen, ‘n dienskneg van die sonde is.
35 En die dienskneg bly nie vir altyd in die huis nie; die seun bly vir altyd.
36 As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.

Tema: Om waarlik vry te wees

Ek het laas week so vinnig genoem dat die pad na vryheid is viervoudig, dit is, jy glo, bly in die Woord, jy sal die waarheid ken en die waarheid sal jou vrymaak.  Glo, bly, ken en vrymaak.  Toe het ons nou so bietjie gepraat oor geloof en wat die verskil is tussen ware geloof en skyn geloof. 

Daar is geloof wat red en geloof wat nie red nie.  Geloof wat lewend is en geloof wat dood is.  Geloof wat behoudend is en jou sal deurdra tot die einde en geloof wat net tydelik is en onttrek.  Geloof wat in die woord bly en geloof wat nie bly nie.

Kom ons gaan so bietjie verder op hierdie pad na vryheid en ons gaan kyk na v32.  Jy sien wanneer jy by Jesus se voete gaan sit om te leer, wanneer jy ‘n ware dissipel is, ‘n leerling van Jesus Christus is, wat gebeur dan?

Joh 8:32 En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.

Julle sal die waarheid ken...hoekom?  Want Hy is die waarheid.  Wanneer jy ‘n leerling word van Jesus Christus en jy jou gedagtes volmaak en jou hart volmaak met Sy Woord, dan sal jy die waarheid leer ken.  Jy mag dalk nie so slim wees soos die wetenskaplikes wat vir jou sê hoe alles werk nie, maar een ding ken jy en dit is die waarheid.  Die waarheid agter die waarheid.

Hoeveel boeke is daar nie al geskryf nie?  Hoeveel biblioteke is daar nie met miljoene en biljoene boeke op hul rakke met soveel inligting tot die mens beskikbaar?  Die internet met sy biljoene en biljoene plekke waar jy inligting kan gaan opsoek, maar iewers op ‘n boekrak is daar een boek, is daar ‘n Bybel en dit is vol gelaai met die waarheid.

Elke dag word daar nuwe boeke geskryf en gepubliseer met mense wat nuwe informasie gee, die mens se soeke na die waarheid.  Die mens wat soek en soek en nie die waarheid vind nie en gefrustreerd raak. 

Ons sien dat Pilatus was so gefrustreerd.  Ons sien dit Joh 18 dat hy was net soos baie mense vandag is.  Hy was frustreerd.  Hy die waarheid gesoek soos enigiemand anders.  Pilatus sê in v37,

Joh 18:37 Pilatus sê toe vir Hom: Is U dan tog ‘n koning?...

En wat ‘n vraag is dit nie om vir Jesus te vra nie.

...Jesus antwoord: U sê dat Ek ‘n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, (kyk mooi) om vir die waarheid te getuig. Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem.

38 Pilatus sê vir Hom: Wat is waarheid?...

Pilatus vra hier ‘n siniese vraag.  Man, hy is so siek daarvoor om daarna te soek.  Wat is waarheid?  Wie gee nou regtig om?

En toe hy dit gesê het, gaan hy weer uit na die Jode en sê vir hulle: Ek vind geen skuld in Hom nie.   Hy gee nie regtig meer om nie. 

Die een wat Jesus Christus ontvang, sal die waarheid ken.  Hoe gebeur dit?  Dit gebeur op drie maniere.  Eerstens sê,

Joh 14:6 Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.

Wanneer jy Christus ken, ken jy die waarheid.  Dit beteken egter nie dat as jy gered word, dat jy nou alles oor die waarheid weet nie.  Nee!  Hier gaan dit oor die lewende waarheid.  Die waarheid agter die waarheid.  Ek ken dalk nie die wetenskap so goed nie, maar ek ken die God wat die wetenskap gemaak het.  En dit is beter.

Ek mag dalk nie alles verstaan en al die vrae kan beantwoord nie, maar ek ken die antwoord van lewe en dood en tyd en ewigheid.  Jy sien, wanneer iemand Christus leer ken, ken hy die waarheid. 

En eers wanneer die waarheid, die lewende waarheid ken, kan jy nie valsheid verdra nie.  Wanneer jy die waarheid ontdek het, gaan jy nie die res van jou lewe spandeer opsoek na valse dinge nie.  Jy hoef nie valse dinge te ken nie.  Wanneer jy eers die waarheid leer ken het, is die valse dinge waarskynlik.

Die persoon wat Jesus Christus ontvang het mag dalk nie wetenskap ken of verstaan nie, maar hy ken God wat al hierdie dinge gemaak het.  Jy ken die rede agter die heelal en dit plaas jou so stappie bo die wetenskap.  Jy ken God se plan met die geskiedenis van die mensdom, en dit plaas jou so stappie bo geskiedenis.  Jy ken die moraliteit van die heelal.  Jy ken God se plan met die mens en Sy doel met alles.  Jy ken die betekenis van die lewe, die bedoeling van liefde.  Dit is die dinge wat jy ken.

Het dit jou lank gevat om dit te leer?  Nee!  In een oomblik.  Is jy nou baie slim?  Nee!  Hoe het jy dit dan gekry?  Jesus Christus het in jou lewe in gekom en jy ken dit deur Sy Woord.  Die waarheid agter alles.  Hoe ontvang ons die waarheid?...Eerstens deur Jesus Christus te ontvang, maar is dit al? Nee!

Tweedens ontvang ons die waarheid deur die Heilige Gees.

Joh 14:26 maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.

Wat ‘n belofte is die nie?  Die Heilige Gees sal julle alles leer.

Joh 16:13 Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei...

Hy sal julle in die (wat?)... in die hele waarheid lei.  Maw, wanneer jy Jesus Christus ontvang, ontvang jy die waarheid.  En dit is die begin.  Daarna gee God vir ons die Heilige Gees en die Heilige Gees lei ons van daar af in groter waarhede.

Kom ek vra jou so:  Weet jy vandag meer as wat jy geweet het toe jy net tot bekering gekom het?  Verseker.  Wie is jou leermeester?  Die Heilige Gees.  JA, Hy gebruik wel mense en omstandigehede om jou te leer.  Maar onthou wat het 1 Joh 2:27 gesê...

1 Joh 2:27 En die salwing wat julle van Hom ontvang het...

Die salwing is die Heilige Gees.  En elke kind van God het die Heilige Gees van God ontvang.  Moenie dat enigiemand vir jou vertel dat jy nie die salwing of die Heilige Gees het nie. 

Elke kind van God het die inwonende Heilige Gees in hom en daarom het elke kind van God die salwing.  ‘n Kind van God moet nie die salwing nog ontvang nie.  Hy het die salwing ontvang toe hy wedergebore is.

1 Joh 2:27 En die salwing wat julle van Hom ontvang het bly in julle...

Luister!  Die salwing kom en gaan nie.  Die salwing, die Heilige Gees bly in julle.  Dit is wat Jesus vir ons geleer het,

Joh 14:16 En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid:
17 die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees.

Die Heilige Gees bly in elke gelowige tot in alle ewigheid.  Die salwing bly in julle.  Die Heilige Gees kom en gaan nie.  Jy kan nie die Heilige Gees of die salwing verloor nie.  Die salwing bly in julle.

1 Joh 2:27 En die salwing wat julle van Hom ontvang het bly in julle en julle het nie nodig dat iemand julle leer nie; maar soos dieselfde salwing julle aangaande alles leer, so is dit ook waar en geen leuen nie; en soos dié julle geleer het, so moet julle in Hom bly.

So die Heilige Gees leer ons aangaande alles.  So eerstens ontvang ons die waarheid wanneer ons Christus ontvang en tweedens ontvang ons die Heilige Gees wat ons alles oor die waarheid leer.  Is die nie wonderlik nie?

Is dit al? Nee!  Jy kan nie na ‘n goeie skool toe gaan sonder ‘n handboek nie, reg?  God gee ons nie net die Heilige Gees om ons alles te leer nie, maar Hy gee vir ons ook ‘n handboek waaruit die Heilige Gees ons leer.

Joh 17:17 Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.

Is die wonderlik om te weet ons het al hierdie waarhede nie?  Ons het Jesus Christus, die weg en die waarheid en die lewe.  Ons het die Heilige Gees as ons leermeester wat ons in die hele waarheid lei en wat ons alles leer.  En dan het ons ook die handbook waaruit Hy ons leer, die Woord van God.

Luister!  Daar is geen verskoning vir enige mens om nie die waarheid ken nie.  En weet jy wat gebeur wanneer ‘n mens die waarheid ontdek? 

Joh 8:32 En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.

Wanneer jy die waarheid ontdek, my liewe vriend, dan is jy vry!

Jy is vry! Maar waarvan is jy vry?  Vry van die soeke na die waaheid.  Vry van die duiwel wat jou sinne verblind.  Vry van die tweede dood.  Vry van die houvas van sonde op jou lewe.  Vry van God se toorn oor die ongeregtigheid van hierdie wêreld.  Vry van die oordeel.  Vry van die vloek van die wet.

Gal 5:1 Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie.

Die Jode het nie baie goed gereageer op dit wat Jesus sê nie.  En hulle was gou om te reageer.

Joh 8:33 Hulle antwoord Hom: Ons is die geslag van Abraham en het nog nooit vir iemand slawediens verrig nie; hoe sê U dan: Julle sal vry word?

Hulle was omgekrap deur dit wat Jesus sê?  En dit sê vir ons dat die geloof wat hulle gehad het, was nie ware, lewende geloof nie.  Jesus sê vir hulle dat hulle moet vrygemaak word.  En hulle sê, “wat! waarvan moet ons vrygemaak word.  Ons was dan nog altyd vry.  Hoe kan U sê, julle sal vry word?”

Het hulle dan so gou vergeet?  Het hulle vergeet dat hulle in slawerny was in Egipte?  Het hulle vergeet dat hulle in balingskap weggevoer was.  Het hulle vergeet dat hulle slawe was onder die Babeloniërs, onder die Mede en Perse, onder die Assiriërs en nou onder die Romeine.  Is hulle dan so blind?

OK!  Dalk het hulle politieke vryheid gehad en dalk het hulle godsdiens vryheid gehad.  Dalk het hulle in hulle harte gevoel dat hulle is God se uitverkore volk en dat dit hulle sekerheid was.  Hulle is mos God se volk, hoe kan hulle dan slawerny wees?

Ons lees in Rom 2 waar Paulus vir die Jode die waarheid vertel rondom hierdie dinge.  Hy sê die besnydenis van die vlees gaan hulle niks help nie.  Dit gaan hulle niks help as hulle nie glo nie.  Hulle moet ‘n besnydenis van die hart ondergaan.

Hulle het gedink dat omdat hulle verbind is met Abraham dat hulle outomaties en permanent vry is. 

Luister!  Jy kan nie iemand help wat nie gehelp wil word nie.  Jy kan nie iemand help wat nie besef hy het hulp nodig nie.  Jy kan nie vir iemand iets gee om te drink as hy nie dors het nie.  Jy kan nie vir iemand iets gee om te eet as hy nie honger is nie.  Jy kan nie iemand vrymaak as hy nie weet dat hy ‘n slaaf is nie.

Jy kan nie met iemand oor God se genade praat as hy die wet verstaan nie.  Jy kan nie met iemand praat oor God se barmhartigheid as hy nie geregtigheid verstaan nie.  Jy kan nie iemand vrymaak wat dink hy is klaar vry nie.  Saligheid begin by die behoefte van die mens om gered te word.

Joh 8:34 Jesus antwoord hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat die sonde doen, ‘n dienskneg van die sonde is.

Julle Jode mag dalk afstammelinge wees van Abraham, maar as jy sonde gedoen het, dan is jy ‘n slaaf van sonde.  Julle dink julle is vry, maar julle is slawe.  Julle is slawe van sonde. 

‘n Slaaf, ‘n doulos, was so gewees van geboorte af.  En die enigste manier hoe hy kan vry kom, was deur te sterf.  Dit is al hoe ‘n slaaf vry kan wees van slawerny.  Wanneer hy doodgaan.

So is elke mens in hierdie wêreld gebore as slaaf.  Jy is ‘n slaaf van sonde.  So was ek ook. En die enigste manier hoe jy kan vry kom is deur te sterf.  Hoe kan ek sterf?

Rom 6:6 aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie.

Wanneer word die oue mens gekruisig?  Wanneer ek saam met Christus gekruisig word.  Wanneer ek Jesus Christus aanneem as my Verlosser en Saligmaker, dan sterf die oue mens.  Dan is ek vry van die slawerny van sonde.  Dan is ek vrygemaak.

Wanneer ‘n slaaf gesterf het, gaan skop jy hom nie en sê, “kom, jy het werk om te doen” nie.  Slawerny het geen houvas meer op hom nie.  En wanneer jy in Christus gesterf het, dan het sonde geen houvas meer op jou nie.  Die heerskappy van sonde oor jou lewe is verbreek.

“En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.”

Joh 8:35 En die dienskneg bly nie vir altyd in die huis nie; die seun bly vir altyd.

Wat bedoel Jesus met hierdie woorde?  Jy sien die enigste persoon in die huis wat permanente regte besit het, is die seun.  Nie die slaaf nie.  So Jesus probeer vir hierdie Jode sê:  Ek waarsku julle.  Julle is slawe en slawe het nie permanente regte in die huis nie.  En wanneer die meester klaar is met sy slaaf, dan sny hy hom af.

Jesus sê vir hulle, julle is slawe en wanneer God se ekonomie verander, dan gaan julle ‘n probleem hê as ek julle nie seuns is nie.  Want dan gaan julle afgesny word.  En dit is ‘n profetiese woord aan Israel. 

Die Ou Testament is besig om te eindig en wanneer die tydperk van kerk begin, die tydperk van genade, sal elke ongelowige Jood afgesny word.  Gelowige Jode sal seuns wees en deel van die Kerk wees.

Jesus maak ‘n stelling wat ‘n slaghou is: julle is nie seuns, maar slawe.  So wat is die trick?  Word ‘n seun en kom vry van slawerny!  Dit is wat moet gebeur.  Hoe gebeur dit?  Hoe word jy ‘n seun?

Joh 1:12 Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo.

Slot

Dit is net die kinders van God wat waarlik vry is.  Jy moet glo in Sy Naam.  Jy moet dit bely, dan sal Jesus jou voor die Vader bely.  Dit is ware geloof.

Joh 8:36 As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.

Luister! As Jesus jou vrygemaak het dan is jy nie half vry nie, nie in ‘n proses om vry te word en nou moet jy vir allerhande bevryding gaan nie.  Nee!  Jesus maak jou waarlik vry.  Hy maak jou volkome vry.  Daarom is dit onmoontlik vir ‘n ware kind van God om demonies besete te wees.

Waarlik vry beteken ook dat jy nie weer ‘n slaaf kan word nie.  Jesus maak jou nie net vry van slawerny nie, maar Hy maak jou Sy kind.  Jy is nie net vry nie, jy is ‘n kind van God.

1 Joh 3:2 Geliefdes, nou is ons  ... (wat?) ... kinders van God... 

No comments:

Post a Comment

Search This Blog

VIDEO'S

EWIGE SALIGHEID - INLEIDING (VIDEO)


EWIGE SALIGHEID - DEEL 1 (VIDEO)


ALLES OOR VAL IN DIE GEES

Ons kyk na wat die Bybel sê oor die verskynsel van val in die Gees in DEEL 1 en wat die oorsprong is daarvan in DEEL 2.

Hierdie DVD is gratis vir diegene wat in Rustenburg bly. Kontak my gerus. Buite Rustenburg R60 plus posgelde.

DIE INLEIDING TOT DIE OPENBARING - DVD REEKS

Hierdie DVD reeks is 'n moet as jy die boek Openbaring graag beter wil verstaan. Dit gaan jou ook help om die Bybel reg te lees en te verstaan.

1 DVD vir R60 of al 5 DVD's teen R200

Kontak my by 082 784 3288